‘n Storie oor ‘n boek

 

 

 

My boekrak tuis is volgepak met boeke en goeters wat ek oor die jare versamel het.  Party het ek in vêr plekke gekoop.  Ander is spesiale geskenke van spesiale mense.  Ander weer het ek sommer net langs my pad bymekaargemaak.  Elke ding op my rak is vir my waardevol.

 

Die oudste en lelikste boek in my versameling is ’n Practical Standard Dictionary, van Funk & Wagnalls, gepubliseer in 1946.  Hy val al behoorlik uitmekaar.  Die rugkant is weg en van die bladsye is los.

  

 Dis ’n lywige boek.  Hy pas lekker in my rak want hy is dik en swaar genoeg om die ander boeke staande te hou.  Die letters van die alfabet is aan die voorkant ingekeep, wat dit makliker maak om woorde na te slaan.  Daar is 1,285 bladsye, met altesaam 2,500 illustrasies.

 

Die baie prentjies gee aan die boek ’n spesiale karakter.  Elke nuwe bladsy het iets interessants op wat die oog dadelik vang.

  

  

Die meeste illustrasies is nie meer lekker van pas in vandag se lewe nie.  Soos byvoorbeeld die ene van ‘The Automatic Telephone’ hier onder.  

  

 

Daar is wel sommige van die woordomskrywings wat vir my begrippe vandag nog net so goed omskryf soos in 1946, soos byvoorbeeld die volgende:

  

  Die ou woordeboek het aan my oorlede pa behoort.  Dit het altyd iewers op sy groot  houtlessenaar gelê, tussen al sy papiere.  My pa was ’n man van min woorde en het amper nooit met my oor iets gesels nie.  My kontak met hom het uit skaars meer bestaan as om hom te groet in die oggende en om saans gou by sy studeerkamer in te loer om hom’n goeie nagrus toe te wens.  Ek het hom nooit regtig as mens geken nie, en hy my ook nie.  Hy was altyd slegs aan die buitekringe van my bestaan in my lewe betrokke.  Hy het my selde oor iets aangeprys.  Nou en dan, wanneer ek dit verdien het, het hy my of my broers ’n goeie pak slae gegee.

 

Bedags was hy altyd vroeg op en was dan tot laat middag bedrywig op die lande of by die vee, of by die buitegeboue waar al die trekkers en implemente geparkeer was.  Saans, na aandete, het hy gewoonlik alleen by sy lessenaar gesit en lees of radio geluister.  Soms het hy tot laat in die nag briewe getik op sy grys en goed ge-oliede Olivetti timasjien.  Ek onthou nog die klak-klak van die sleutels en hoe die tikmasjien se klokkie gelui het elke slag as Pa aan die einde van ’n reël kom met sy tikkery.

 

My pa is oorlede toe ek nog op skool was.  Kort na sy dood het ek eendag deur sy lessenaar gesnuffel.  Ek het die ou Funk & Wagnalls woordeboek opgetel en die omslag oopgemaak.  Dis toe dat ek vir die eerste keer die getikte aanhaling sien wat my pa, seker jare vantevore al, tussen die blaaie vasgeplak het.

  

    

 Hierdie ou stukkie papier het my vir die eerste keer so ’n glimpsie van my pa se siel laat sien.  En dit het my laat wens dat ek en hy mekaar beter kon geken het toe hy nog gelewe het.

 

Pa het die volgende aanhaling op sy Olivetti opgetik en in sy woordeboek weggebêre:  

  

The Essence of Friendship

 

Oh, the comfort, the inexpressible comfort of feeling safe with a person; having neither to weigh thoughts nor measure words, but to pour them all out, just as they are, chaff and grain together, knowing that a faithful hand will take them and sift them, keep what is worth keeping, and then, with the breath of kindness, blow the rest away.

 

Die ou woordeboek kom nou al dertig jaar lank saam met my. Al is dit verslete en al is baie van die woordomskrywings al lank al nie meer van veel nut in vandag se tye nie, sal dit altyd ’n plekkie op my boekrak hê.

 

 

Herfs

    

 

 

  

 ‘n Ongenaakbaar koue wind

het skielik, onverwags, die laaste goue lower

van jou slanke takke afgestroop, en daarmee saam

die soet onthou van verlede jaar se sagte somer

blaar vir blaar geskep en in die grysheid weggestrooi.

 •    •   

 Weerloos en onbeskut leun jy teen die winterwind

om elke donker nag die greep van ryp en ys

alleen in stille foltering af te weer,

Tot wanneer die vêr en dowwe son

in die nuwe dag tog weer verligting bring.

      •   

Maar die wiel van vier seisoene draai teen sy gemete pas

en met tyd sal daar wel nog vele nuwe somers kom,

wanneer elke boom soos jy van voor af weer gedy.

Dan sal jou trotse hoogte weer langs die pad as merker dien

en jou skadu aan vriend en swerwer ‘n plek van rus voorsien.

     •   

 

Die woude naby Walpole

 

 

Die natuurlike woude in die omgewing van Walpole en Pemberton is vir my een van die mooiste dele van die hele Wes-Australië.  Hierdie gebied is ongeveer 430 km reg suid van Perth.  Daar woon maar min mense in die bosse.  Bosbou is en toerisme is die enigiste besigheidsaktiwiteite.  Die paar dorpies in die omgewing is klein en half verlore in die koel skadu’s van die omliggende woude:  In die hoofstraat is daar nie veel meer nie as ‘n vulstasie of twee, ’n paar teedrinkplekkies en winkels wat houtartikels aan toeriste verkoop.  Die plaaslike inwoners is uitgehonger vir geselskap en mens knoop sommer maklik ’n gesprek aan met mense op straat.

 

Groot dele van die bosse is as natuurreservate verklaar, met die gevolg dat daar in sommige plekke nog yslike groot bome staan wat hopelik nooit afgekap sal word nie.

  

 

 

 

 

 

 

 

 

  

 

 

 

 

  

 

 

 

Daar is verskeie inheemse bloekomspesies in die gebied.  Twee skaars boomsoorte is die ‘tingle’  en ‘karri’.  Heelwat van hulle is 75m en selfs hoër.    

 

Iewers naby Pemberton kan mens met behulp van ’n staalbrug hoog tussen die boomtoppe rondstap.  Dis ’n unieke manier om die woud te ervaar: Die uitsig tussen die bome deur is asemrowend mooi.    Daar heers ’n statige stilte oor alles.  Al geluide wat mens hoor is die gedrup van die stuifreën op die blare en helder klanke van verskeie soorte woudvoëls.

 

 

Die aanhoudende, deurdringende reëns voed een van die mooiste riviere wat ek nog in my lewe teegekom het:  Die Walpole rivier kronkel helderskoon  en statig deur die groenigheid van die woude op sy pad na die see.

 

 

 

Plekke soos hierdie laat my altyd wonder oor die balans en die tydloosheid van die ongerepte natuur.  Alles gaan sy gang, soos duisende jare reeds.  Hier vind mens se siel rus in die wete dat alles gebeur volgens ’n groter plan. Hier in die woude kan mens die natuurskoon geniet en vir ‘n wyle van al die lewe se swaar vergeet.

       

My plekkie in die bos

 

Hierdie tweespoorpaadjie vat my, so een keer per jaar, na ’n versteekte rusplek in die bos.  Ver weg van die stad se lawaai en dolle gejaag.  Daar is nie selfoon-ontvangs nie.  Niks TV nie en g’n radio nie.  Net ’n goed ingerigte, eenvoudige ruskamp onder die skaduwee van ’n paar groot mopanibome.

 

 

 

Met sononder kan jy kyk hoe die wild na die watergat toe kom.  Soms is daar olifante.  Of leeus.  En die enigste ding tussen jou en die wilde natuur is die kamp se mankoliekerige elektriese heining wat met sonpanele en batterye werk.

 

 

 

Ek hou van die voëls se gesels in die bome, van vroegdag af.  Ek hou van die leeus se gebrul teen skemer.  En die hienas se misterieuse gekla in die koue van die nag.  Ek hou van die oggenddou op die gras en die silwer spinnerakkies wat tussen die boomtakke hang.

 

 

Mens kuier saans tot laat om die vuur.  Dis lekker om net so stil op ’n sagte stoel naby die kole te sit.  As jy opkyk hang die hemel vol van die blinkste sterre.

 

Soggens is ek gewoonlik vroeg op.  Daardie eerste koppie koffie en beskuit, net so voor sonop, is darem lekker verby.

 

 

 

     

Hoe mense berge versit

 

 

Die wêreldwye vraag na grondstowwe soos steenkool, koper en ystererts beleef tans ’n ongekende bloeitydperk, hoofsaaklik gedryf deur China se vinnige ekonomiese ontwikkeling.  Minerale kom dikwels vanaf yslike oopgroefmyne, soos byvoorbeeld Escondida in Chile, waarvan ek ’n foto hieronder plaas.

 

 

 

Myne soos hierdie is interessante plekke.  Díe spesifieke myn verskuif byvoorbeeld meer as een miljoen ton materiaal per dag met die hulp van 150 yslike groot vragwaens soos die een in die boonste foto.  (Kyk bietjie na die myn foto:  Die kringetjie omsirkel drie van hierdie groot trokke doer onder in die gat.)

 

By Escondida bevat elke ton grond wat verskuif word, slegs 1.5% koper.  Die ander 98.5% is afvalgrond wat op groot hope gestort word.  Maar die myn maak nog steeds geld soos bossies:  Hulle verwag om hierdie jaar sowat R75 duisend miljoen (dis reg ja) se koper uit hierdie enkele gat uit die grond uit te haal.  Daar is genoeg reserwes vir nog ten minste ’n verdere 25 jaar.

  

 

 

Alles op die myn is groot:  Die trokke en ook die laaitoerusting wat hulle volgooi. Die erts word in ’n aanleg verwerk waar die koper met behulp van allerhande slim chemiese prosesse uit die stowwerige grond herwin word.

 

 

Alhoewel veiligheidstandaarde op alle groot myne deesdae baie hoog is, loop dinge soms wel nog skeef.  Hieronder kan gesien word wat gebeur met ’n Nissan bakkie wanneer een van die myn se vragwaens oor hom ry.  (In hierdie spesifieke geval was die bestuurder gelukkig:  Die vragwa se wiel het net die passasiersitplek langs hom platgetrap.)

 

 

Eish…      

Lindau op die Bodensee

xx-lindau-from-air.jpg 

Lindau is ‘n klein eiland in die Bodensee (Lake Constance) in die Bavariaprovinsie van Duitsland.  In die geskiedenisboeke is daar reeds in die jaar 882 melding gemaak van ‘n nonneklooster wat hier gevestig is. 

Tans beloop die inwonertal sowat 24,000 mense.  Toerisme is die hoofbron van inkomste. 

xx-3-shop.jpg

Dis inderdaad ‘n pragtige dorpie, met hotelle en restaurante wat styf in die nou straatjies teenmekaar inpas tussen oulike winkels en huisies.   

xx2-house-with-tower.jpg

Elke inwoner doen sy deel om Lindau altyd pragtig te laat lyk en tydens die somer pryk daar blomme voor elke venster. 

x-small-house-flowers.jpg

‘n Kenmerk van Lindau is die beskilderde mure van baie van sy geboue.  Dit gee die dorpie ‘n unieke karakter.

xx3-painted-walls.jpg    

Die eiland het ‘n klein hawe, kompleet met sy eie vuurtoring.  Die ingang word bewaak deur ‘n groot standbeeld van ‘n leeu. 

xx56-harbor-entrance.jpg

Friedrichshafen is die naaste dorp van hier af en kan binne dertig minute per ferrie bereik word.  Dis is die plek waar Zepplin lugskepe, soos die Hindenburg, jare gelede gebou is.  Daar is vandag ‘n Zepplinmuseum op die dorp.  Mens kan daar by ‘n volskaalse replika van ‘n lugskip gaan inklim en sien hoe die passassierskajuite en eetsaal gelyk het.  Dis wonderlik om te sien met hoeveel vernuf die Duitsers destyds alles so lig as moontlik ontwerp het, sonder om aan die estetiese of aan gerief prys te gee.   

Die omgewing rondom die Bodensee, met sy wingerde en mooi uitsigte oor die meer, is vir my van die mees skilderagtigste in Duitsland.  Inderdaad ‘n lekker plek om te gaan vakansie hou. 

 xx7-bodensee-and-vines.jpg

•   •   •

 

Die trein na Vaalwater

 x-loco-sepia-flat.jpg

Die bosveldplaas waar ek grootgeword het, het aan sy westekant aan ‘n treinspoor gegrens.  Dit was nie ‘n besige lyn nie:  In die ou dae het daar een keer per dag ‘n trein hier verbygestoom vanaf Nylstroom na Vaalwater. Die spoorlyn het sowat een kilometer van die plaashuis af verby geloop.  Klokslag elke oggend so skuins na vyf het die trein met ‘n geblaas en ‘n gesis teen die bult op verbygekruie, onder ‘n wolk van stoom en steenkoolrook.  By die padkruising het die drywer dan die fluit getrek totdat die laaste wa die pad oorgesteek het.  Agter die lokomotief en waterkar was daar gewoonlik ‘n paar waens vol beeste aangehaak, of tenks met dieselbrandstof.  Ná hulle het daar dan so een of twee passasierswaens gevolg, met die kondukteurswa heel agter aan. Wanneer die vrag besonder swaar was, is daar twee lokomotiewe ingespan om te help trek. 

Toe ek nog sommer ‘n klein tjokkertjie was, was daar ‘n ruk lank ‘n vreeslike droogte in die land.  Dit was so erg dat daar nie genoeg water in die dorp beskikbaar was om die loko’s vol te maak nie.  Die Spoorweë het toe met my pa onderhandel om van ons boorgatwater op die plaas vir die treine te gebruik.  Soggens vroeg het die trein dus eers naby ons huis gestop waar die spoorlyn deur die bloekombos gesny het, om water aan te vul.  My pa het my dikwels op sy nek getel en afgestap spoor toe, om daar met die drywer en stoker te gaan blad skud en te kyk hoe die duisende liters water in die dors ou trein se ingewande verdwyn. Die  drywer was ‘n lang, seningrige man.  Hy het ‘n spoorwegkeps gedra en daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig.  Hy en die stoker was erg trots op hulle yslike masjien en het my soms toegelaat om die fluit se tou te trek.  Wanneer die watertenk vol was het die stoker eers nog ‘n ekstra klomp grawe vol steenkool voor by die ketel ingeskiet.  Dan het die ou trein stadig en met ‘n onaardse lawaai aan die gang gekom en die waens het een vir een, al hoe vinniger, verbygekom. 

Gedurende die wintermaande moes die boere langs die spoorlyn altyd op hulle hoede wees, net ingeval ‘n kooltjie uit die verbygaande trein se skoorsteen die veld aan die brand steek.  Die Spoorweë het darem ‘n brandspan op bystand gehad wat ons kom help het in tye van nood.  

Die trajek na Vaalwater word al jare lank nie meer bedryf nie.  Die twee spore wat altyd so blink getrap was, lê deesdae dof en verlate in die son, met bossies en gras wat tussen die dwarslêers deurgroei.  

Ontvlugting

  birds-over-pond-3.jpg

            

O  N  T  V  L  U  G  T  I  N  G

      

Sprei jou vlerke wyd en val af in die gewigloosheid.

Kom reis dan saam met my in moeitelose vlug

Op ‘n geruislose baan deur die oop verlatenheid,

Skouer aan skouer, om saam die wind se las te keer.

Kom kies koers na ons versteekte plekke van vrede en rus,

Net ek en jy, saam toegevou in die hemel se sagte blou.

          

Sprei jou vlerke wyd en sweef dan hoog op in die wind.

Breek jou bande met die las van ons aardse bestaan

En verwonder jou dan in stilte saam met my

Aan die hartseer skoonheid wat oorbly in alles,

Wanneer ons van ver af, onbetrokke

Kan afkyk na die merkers op ons lewenspad. 

       

  

 

Die ou plaashuis

 plaashuis-maan-2.jpg

 

Die huislike geur van vars koffie op die stoof het reeds ‘n handvol jare gelede tesame met die laaste klank van kinderstemme deur die swart holtes van jou uitgerukte vensters oor die vlakte weggewaai. 

Snags, in die glans van die koue maan, staan jou witgekalkte mure nou alleen, verwese.   Die wind  vind  dan sy pad oor die yl stoppels op die uitgewerkte lande en kom speel ‘n sinlose deuntjie met jou lendelam deure aan hul krakende skarniere. 

Jou enigste geselskap is die uile wat soms skuiling vind in die kappe van jou geroeste dak.   

Vir geen siel is jy meer ‘n vaste tuiste nie, behalwe vir ’n onversorgde langhaarhond wat elke dag nog teen skemer in die voetpad van die statte se kant af nader draf en aan die voordeur kom snuif.  Hy wag dan ‘n rukkie by die hek voordat hy weer, as dit donker is,  stil en mank-mank in die vaal gras verdwyn. 

 

 

Wat lees ek: bladsy 123

Boendoe vra watter boek het ek laas gelees en om ‘n paar sinne aan te haal uit bladsy 123.  Hier gaan ons: 

 “A few minutes later his wife, her head wrapped in a scarf and her plump face beaming with a motherly smile, brought me a steak-sized filet of the freshest, most succulent and crisply fried fish that I had tasted on the barge, or even in my life.  It was garnished with mayonnaise and onions.  I devoured it.  Pleased, Nze watched me eat.” 

Die boek se naam is ‘Facing the Congo’  van Jeffrey Tayler en dit handel oor sy ervaringe tydens sy reis van sowat 1,600 km al af met die Congorivier in ‘n tradisionele boomstamkano.

Tayler was 33 jaar oud toe hy besluit die lewe raak te rustig vir hom en dat dit tyd was om iets besonders aan te pak.  Sy reis met die Congorivier af is vol avontuur, ontberinge en ontmoetings met interessante mense.

Ek hou van die boek:  Dis ‘n eerlike beskrywing van een van Afrika se mees onherbergsame streke en ook van die mense wat hulle bestaan maak op die Congo, op een na die grootste rivierstelsel in die wêreld.

untitled1.jpg

Next Page »