Archive for November, 2007

‘n Boom vol vinke

vink-blaarnes2.jpgvink-blaarnes2.jpgleaves-in-backlight.jpg 

Ek kom redelik dikwels in Musina se wêreld en verkies dan om, as ek kan, naby die dorp iewers op ‘n plaas te bly eerder as om in ‘n hotel te oornag.  Daar is een plek waarvan ek veral baie hou. Dis ‘n bietjie weg van die hoofpaaie af en heerlik rustig en stil.  Die kamp is gebou tussen ‘n paar statige ou hardekoolbome en mopani’s.  Daar is ook ‘n fontein in die ruigtes en die water word van daar af na ‘n dam weggelei.  Hierdie nattigheid sorg natuurlik dat daar altyd heelwat wild om die kamp te siene is, veral vroeg oggend en dan weer met skemertyd. 

Ek hou baie daarvan om met sononder na die tarentale se droewige gefluit te luister wanneer hulle dam toe kom vir ‘n lafenis. 

  pa-vink-1.jpg

Daar is een groot boom wat sommer naby die water staan.  Hier woon ‘n kolonie van die mooiste voëls.  Ek het gaan opkyk:  Volgens Roberts se boek is dit rooikopwewers.  En vir die wat wil weet, Roberts sê ook dat hulle liedjie as volg klink: ‘chi-chi-chi-chi swizzz-swizz-swizz swee-swee ssss chhhrrrr sip-sip-sip.’    Goeiste, ek is seker ou Roberts het mooi genoeg na hulle geluister om te weet waarvan hy praat. 

 Die wyfies is minder kleurvol as die mannetjies, maar hulle is tog ook mooi met hulle geel en wit skakering.

 ma-vink.jpg

Die wewertjies is ‘n gesellige spulletjie:  Hulle sing heeldag, sleep vlerk, jaag mekaar tussen die takke deur en lyk in die algemeen heel tevrede en gelukkig met hulle lot.  Hulle bou ook die oulikste neste uit gras en blare. 

 2-nessies.jpg

Ek hoop julle geniet die foto’s.  Ek sit sommer ook een by van ‘n houtkapper wat die boom langsaan sy eie gemaak het.

 houtkapper.jpg

‘n Oase in die skadu van ‘n vulkaan

 header1.jpg

Chile is bekend vir sy hoeveelheid vulkane.  Sommige van die pieke is hoër as 6,000 meter bo seespieel.  Wannneer hulle nie aktief is nie,  is hulle gewoonlik deur ‘n dik laag sneeu bedek. Een van Chile se mees aktiewe vulkane is Lascar, geleë in die noorde van die land, in die middel van die Atacamawoestyn. 

 desert.jpg

Dis feitlik ‘n heeltemal lewelose streek, waar sommige plekke nog nooit vandat daar met rekords begin is nie enige reën aangeteken het nie. Daar is egter hier en daar klein oasedorpies op die hoër woestynplato, waar daar riviere verbyloop wat baie kilometers ver weg in die pieke van die sneeubedekte Andes ontstaan.  Een van hierdie dorpies is Toconao.  Die handjievol inwoners is vir hulle bestaan geheel afhanklik van ‘n nou, vrugbare vallei in skeur in die ongenaakbare woestynvlakte. 

 valle-jerez.jpg

Die dorp lê ook aan die voetheuwels van van ‘n reeks berge waarvan die Lascarvulkaan die hoogste piek uitmaak. Van ver af sien mens niks van Toconao se klein tuin van Eden nie.  Dis eers wanner mens naby die dorpie kom dat die steil hange van die vallei voor jou oopmaak en die versteekte plekkie van water en koelte sigbaar word. 

stream.jpg

Die lewe hier is rustig en het nog min verander oor die jare.  Materiaal weef en pottebakkery is belangrike aktiwiteite, asook vrugte- en graanverbouing in die vallei. 

 loom.jpg

Die huisies is almal van spierwit puimsteen gemaak wat daar naby uit ‘n steengroef ontgin word. 

 quarry.jpg

Soos met elke dorp in Chile is daar ook ‘n plein en ‘n kerktoring.  Let op dat, omdat daar nie bome in die woestyn groei nie, die deur van kaktushout gemaak is.  

square1.jpg

 cactus-door.jpg

Lascar het laas in 1993 op ‘n skouspelagtige wyse uitgebars.  Gelukkig vir Toconao was daar hierdie slag nie skade aan die dorpie self nie.  (Hierdie foto het ek nie geneem nie.)          

lascar1993.jpg

Skeiding

x-strandloper2.jpg 

*  *  *

S    K    E    I    D    I    N    G 

Draai weg van my en volg dan jou bestemde lewenspad.

Gaan gooi die die skulpies van ons geluk weer in die see.

Vergeet nou die geheime wat ons saam ontrafel het

En sluit tog dan die vensters van jou hart vir my.

Laat los my hand uit joune en weet:  Jou siel is vry.

 *  *  *

En soms, as jou oë my soek op ‘n verre horison

Sien dan liewer in die dag ‘n reënboog raak,

Of snags, die silwer glans van die blinkste ster.

Ja, vergeet elke dag ‘n bietjie meer van my

En word dan weer in jou bestaan van voor af bly. 

*  *  *

Ek sluit my hart se deur na ons kortstondige geluk

En laat val die sagte jas van jou gevoel vir my.

Ek stap nou uit na buite in ‘n dag van somber lig

En hoop dat die wind wel gou ’n laag van stof

Oor die holtes van my moeë spore sal waai.

*  *  *

‘n Indiese massering

servant.jpgservant.jpg

 servant1.jpg

My vlug huistoe vanaf Kolkata sou eers Saterdagaand om agtuur vertrek.  Ek het dus die oggend gaan inkopies doen in die stad en ‘n paar besienswaardighede gaan besoek.  Ek was reeds vroeg in die namiddag terug by die hotel en het toe besluit dat daar nog genoeg tyd oor was vir ‘n vinnige masseringsessie in die hotel se gesondheidsentrum in die kelderverdieping. Ek het sommer in my gewone klere daar aangemeld, met die veronderstelling dat allles wat ek nodig sou hê, aan my beskikbaar gestel sou word. 

By ontvangs is ek aan my vriendelike masseur voorgestel: ‘n Besonders kort, glimlaggende Indiese mannetjie.  Ek sal lieg as ek sê dat ek nie teleurgestel was dat dit nie ‘n ses voet lang Amasone was wat op my gewag het nie, met ‘n glimlag op haar gesig en sulke lang naels wat mens se rug behaaglik kan krap…  Maar wat, ek is deesdae gewoond daaraan om deur die lewe te kom sonder die dinge wat ek die meeste begeer.  Ek het my dus daarby berus en my glimlaggende masseur, Anil, na binne gevolg. 

Anil het my na my sluitkas geneem en gevra om alles uit te trek.  ‘Sommer hier?’  het ek gevra.  ‘Ja’, beaam hy.  ‘Jy is nou in die mansafdeling.  Niks om voor te vrees nie.’

Ek het in die sluitkas gekyk:  Daar was slegs ‘n wit kamerjapon en plakkies.  G’n swembroek of ‘n paar boxers nie. Ek het toe maar al my klere uitgetrek en vir ‘n japon verruil, met niks onder aan nie.  Anil het my toe gewys waar die sauna is en ek het vyf minute daar gesit en sweet, waarna  hy my kom haal het om na die masseerkamer toe te gaan. 

Die plek was saggies belig deur een groot kers wat op die vloer gestaan het.  Sagte musiek het van êrens af ingekom.  Die geur van vars kruisement en ander speserye het in die lug gehang. 

‘Trek uit jou japon en gaan le op die bank’, sê Anil vir my.  Nogal windgat vir so ‘n kort mannetjie, dink ek by myself. 

Ek sê toe vir Anil dat ek verkies om darem ‘n broek aan te hê tydens die proses wat voorlê.  Hy krap toe daar in ‘n kassie en gee my iets wat lyk soos ‘n opgevoude wit sakdoek.  ‘Disposable shorts’ reken Anil.  Ek skud toe die gedoente los en lag sommer:  Dis kleiner as ‘n stout meisie se panties. 

Anil beantwoord my vraende blik met ‘n somber ‘Nee’.  Dis al wat hy het en sal moet doen.

Ek probeer toe maar so versigtig as moontlik die broekie aantrek.  So skuins anderkant my kniee gee die ding egter die gees en skeur in twee. ‘Toemaar wat’, sê Anil.  ‘Jy kan sommer net so kaalg*t lê en ek sal jou massering doen’. 

Ek moet sê, ek was op daardie stadium heel verlig dat ek slegs vir ‘n rugmassering gevra het, en nie vir die full body-opsie nie.

Ek het toe ewe houtgerus op my maag gaan lê.  Ou Anil het daar weggespring en my ‘n uurlange behandeling gegee wat my heerlik ontspanne gelaat het.  Gelukkig, kan ek sê, het ek nog nooit enige gevoel van aangetrokkenheid tot die manlike geslag gehad nie.  Daar was dus niks aan my waarvoor ek my hoef te geskaam het toe dit tyd word om op te staan en totsiens te se nie. 

Hehehe.

(Ek het hierdie storie ‘n rukkie gelede op LitNet gegooi maar ek het besluit om dit sommer nou ook hier in te sit) 

Kersvader: Die wiele kom af

antofa-boats.jpg 

Vêr in die noorde van Chile, 1,500 km se vlieg vanaf die hoofstad Santiago, is daar ‘n stowwerige kusdorp genaamd Antofagasta in die hartjie van die Atacamawoestyn.  Kyk, dis droog daar. Toe ek daar gebly het, het hulle sewe jaar lank nie ‘n druppeltjie reën sien val nie.  Dis ‘n dooie vaal wêreld.  Nêrens op die sand- en gruisvlaktes sien mens ‘n teken van lewe nie. 

 road-nowhere.jpg

So ‘n kort entjie se ry vanaf Antofagasta is daar ‘n vissersgemeenskap by Juan Lopez waar die mense ‘n sukkelbestaan maak uit die see.  Dis duidelik dat geld hier rond maar skaars is.   

juan-lopez.jpg

Daar is ‘n paar dinge van die Chileense volkskultuur waarvan ek baie hou.  Wat ek veral van hulle bewonder is hulle liefde vir kinders en hulle blymoedigheid.  ‘n Chileen kla nie sommer oor sy lot nie.  Hulle sal in krothuisies bly maar elke dag met ‘n glimlag by die werk opdaag.  En hulle is familievas. Om saam aan te sit om die tafel op Sondae is belangrik vir hulle, en so ook saamwees gedurende die Kersseisoen.    

Ek het een jaar kort voor Kersfees die woestynpad Juan Lopez toe gevat en toe op KERSVADER  afgekom.  Sien foto’s. 

 xmas-far-1.jpg

 xmas-closer.jpg

 xmas-closest.jpg

Wys jou net.  Maak nie saak waar mense hulleself in die wye wêreld bevind nie:  Met ‘n bietjie verbeelding en ‘n tikkie gesonde humor kan jy ‘n glimlag op enige kind se gesig sit, al het jy nie ‘n sent in jou sak nie…

Die mooiste, mooiste Kaap

 cape-town-harbour.jpg

As kinders het ons dit nie te breed gehad nie. Ons het in die Bosveld op ‘n plaas gebly en daar was maar min geleenthede om weg te gaan op vakansie. Om op ‘n ver plek soos die Kaap te gaan vakansie hou, was toe ook heeltemal buite die kwessie. My ma het altyd met groot heimwee vertel van haar gelukkige tyd as jong meisie in Kaapstad, toe sy erens naby die see gewerk het. In ons huis, aan die einde van die gang, het sy ‘n groot geraamde foto van die Kaapse see gehad wat sy altyd versigtig en met groot liefde afgestof het. Toe ek jare later vir die eerste keer Kaapstad sien, het ek gou verstaan hoekom sy so lief was vir hierdie wonderlike hoekie van ons land.

Die foto hieronder wat ek geneem het, lyk amper presies soos die een wat al die jare in ons gang opgehang was.

 dcp_2877.jpg

Ek sit sommer nog ‘n paar foto’s by van ‘n vorige vakansie in Kaapstad en omgewing.

horses.jpg

 dcp_2893.jpg

Kolkata: ‘n Lyk in die rivier

bamboo.jpgkolkata-skyline.jpg

Ek het onlangs my eerste reis na Indië onderneem om ‘n kongres in Kolkata te gaan bywoon.  Van Johannesburg af vlieg mens sowat 9 ure lank na Mumbai in die noordweste van die land en neem dan ‘n verdere drie uur lange vlug na Kolkata, wat op die oostekant van Indië geleë is.   

Ek het nog altyd gewonder hoe die stad Kolkata werklik lyk.  Mens lees so baie van die tragiese omstandighede van die plek se miljoene behoeftige mense.  Dit is per slot van sake die stad waar Moeder Theresa haar werk onder die armstes van die armes verrig het.  Ek het gehoor dat die strate vol is van bedelaars en dat duisende haweloses die hoofstasie as permanente blyplek gebruik. 

x-old-shopfronts.jpg 

Daar is duidelik baie armoede.  Dit het my getref die oomblik nadat my huurmotor by die hekke van die lughawe uitgery het.  Daar is so baie mense wat langs die straat sit en wag vir iets om te gebeur.  Werkloos, honger en verslete.  Die krothuisies waarin hulle bly bestaan dikwels net uit ‘n paar stukkies ou seil wat oor bamboespale gespan is.  Kinders speel op die sypaadjies want dis die enigste oop spasie tot hulle beskikking. Daar is baie riksja’s in die armer buurte.  Honderde van hulle.  Die mans wat hulle trek, loop kaal bolyf rond en is maer en seningrig. 

krotte1.jpg

Suikkerriet word oral te koop aangebied.   Mense pars die sap uit met handgedraaide meulens op die straathoeke.   Daar is baie bromponies en piepklein trokkies op die paaie.  Almal druk uit gewoonte pal op hulle toeters.  Maar niemand jaag regtig of ry onverskillig nie.   Oral is daar tekens van ekonomiese oplewing.  Nuwe geboue kom oral tot stand.  Werkers staan hoog teen die nuwe geboue en werk op bamboesstellasies.  Dit lyk maar na ‘n gevaarlike spul.    

Dis ook ‘n stad van kontraste.  Ry by die hotel se hek in en jy is dadelik in ‘n wêreld van weelde, skoonheid en orde.  Daar is die tuine onberispelik versorg tussen die groen frangipani’s met hulle soet wit blomme.  Die palms troon hoog uit bo die swembad se blou en voëls vlieg gemaklik tussen die takke rond.  Alle hotelwerkers is uiters professioneel.  Al die geriewe werk en is modern.  

foyer.jpg

Tydens my weeklange besoek aan die stad het ons een aand ‘n bootrit op die Ganges onderneem.  Hierdie vaart  het weer eens hierdie kontras aan my bevestig:  Ons het statig in die  vierverdieping hoë skip met die rivier opgevaar en later ‘n heerlike ete aan boord geniet.  Op die oewers was daar elke nou en dan goedbeligte geboue te sien:  Paleise van huise of mooi moderne kantoorkomplekse.  Maar tussen-in was daar ook lang donker ente met slegs ‘n paar verwese liggies wat deur die donker geskyn het.  As mens buite op die dek staan, het daar van daar af die gedruis van duisende stemme oor die water aangekom.  Dit was die blyplekke van die armes.  

Ek het op ‘n stadium voor op die boeg gestaan.  Die skip was stil.  Mens kon die trilling van die kragtige motors onder die dek voel.  Bo my was die sagtheid van die aand.  Yslike groot vlermuise het oral rondgesirkel.  Die rivier was bedrywig met ander, kleiner passasiersbote en vragskepe.  Nou en dan het ons by ‘n halfgesinkte vaartuig verbygedruis. Ek het iets in die skemerdonker op die water sien dryf.  Toe ons naderkom het besef dat ‘n lyk was.  Kop onderstebo en ten volle geklee.  Die boot se bemanning het hulle nie die minste hieraan gesteur nie.  Dit was duidelik vir hulle ‘n alledaagse gebeurtenis, deel van die lewe op die rivier. Ek onthou die liedjie wat toe op daardie oomblik op die skip se musiekstelsel gespeel het:  ‘You are my sunshine, my only sunshine.  You make me happy when skies are grey…’   

Twee dae later, op pad lughawe toe, het die huurmotor ons weer deur van die stad se armer buurte geneem.  Half nakende kindertjies het tussen afval en lendelam skuilings vlak teen die strate rondgehardloop.  Ek het hulle so bitter jammer gekry.  En skielik besef dat my lewe vêr weg in ‘n ander land vir hulle heeltemal  buite hulle eie verwysingsraamwerk sou gewees het. So gemaklik, luuks, veilig en sonder kommer of swaarkry. 

Daar is egter ‘n ander beeld van Kolkata wat ek ook saam met my huistoe gebring het.  Van gelukkige kinders wat elke dag onder my hotelvenster sorgeloos op hul woonstelgebou se dak met vlieërs gespeel het.  Met glimlagte op hulle gesigte. En as mens net bietjie rondkyk in die stad se strate, sien jy dat al die bome vol hang van vlieërs wat elk op ‘n stadium geluk gebring het aan een van die stad se honderde duisende jong siele.                     

Keurboomstrand

 x-golwe-skuim.jpg

Van al die pragtige plekke in Knysna en Plettenbergbaai se omgewing, is Keurboomstrand een van my gunstelinge.  Ek was sommer nou die dag weer daar verby, buite seisoen, toe alles stil en verlate was. 

Daar is altyd ‘n deinserigheid in die lug, wat die houthuisies hoog bo teen die duine laat vervaag tussen die groenigheid van die fynbos.  Die strand self loop lekker vlak in na die see.  Daar is genoeg sand om op rond te hardloop tussen die groepe pikswart rotse.  Die golwe breek reëlmatig en sonder ophou vlak by die strand en verloor dan spoed in ‘n laag van sagte skuim wat altyd weer soos ‘n bruidsrok oor die gladde sand uitsprei.  Ver teen die horison, verby die branders se wit lyn, kan mens Plettenbergbaai se huise aan die anderkant van die see uitmaak. 

Bo teen die duin is Enrico se Portugese restaurant. Vanaf die tafels onder die sambrele het mens ‘n wonderlike uitsig oor die see.  Met ‘n bietjie geluk sien jy soms die walvisse blaas en hulle sterte waai voordat hulle weer in die dieptes afduik.  Ou Enrico het ‘n slag met seekos en hy is altyd self in sy eetplek bedrywig, voorskoot om sy lywige middel gebind, om seker te maak dat die kos na wense is.  Gaan probeer gerus ‘n heelgebakte rooi roman daar, of ‘n bordjie garnale vir middagete.  Of bestel sommer net ‘n glasie wyn en geniet die vars lug en die mooi blik oor die groot blou see. 

Daar is twee honde wat die strand hulle eie gemaak het en hulle is boesemvriende.  Die grote is ‘n goue labrador en die ander ene is Roxy, ‘n vet, gelukkige staffie.  Hulle gaan soek elke dag  die kinders op die strand op en geniet dit dan om gevryf te word en so bietjie saam in die vlak water te baljaar.  Wanneer die son begin bak gaan lê hulle gewoonlik iewers ‘n skadukolletjie teen die rotse om ‘n uiltjie te knip. 

 roxy.jpg

My paar goue dae op Keurboomstrand was ‘n lafenis vir my siel.  Ek het lang ure tevrede met my tone in die nat sand gesit en kyk hoe die kinders in die water baljaar. 

 emmertjie.jpg

Die skoonheid van die see, die vars briesie en die geruis van die branders neem mens se gedagtes mos altyd sommer vinnig weg na ver plekke. 

Met my volgende besoek gaan ek seker maak dat ek ‘n nag op die strand deurbring.  Ek wil die maan se sagte lig op die branders sien val en die mooiheid van die see in die stilte van die aand onder die sterrehemel ervaar, wanneer mens die polsende lewe van die oseaan amper tasbaar naby  kan aanvoel.   

Ek sien uit daarna.

x-keurboomstrand2b.jpg

Next Page »