‘n Paar mense wou meer weet oor Punt 6 van my ‘Tag’ terugvoer van nou die dag. Dis oor my destydse besoek aan Rusland. Wel hier gaan ons:
Dit was in 1996, net nadat Rusland haarself weer vir Westerse besoekers oopgestel het. Iemand het my toe genader om ‘n tegniese aanbieding te gaan doen op ‘n diamantmyn êrens vêr in die yswildernis van Siberië. Ek het die kans met albei hande aangegryp. Het toe van Johannesburg af na Moskou gevlieg via Londen. In Moskou het ‘n plaaslike Amerikaner my by die lughawe kom oplaai, tesame met die ou wat my tolk sou wees vir die komende dae.
Ek het toe eers vir ‘n paar dae in Moskou oorgebly om alles agtermekaar te kry vir die res van my besoek. Die geluk was aan my kant: Die weer in Moskou was wonderlik. Baie sonskyn en nie te koud nie. Ek het by die Radison hotel ingeboek, aan die oewer van die Volga (dink ek ?) rivier wat oral deur die stad kronkel. Dis ‘n pragtige stad, met ‘n geskiedenis van bykans een duisend jaar. Daar is die pragtigste ou historiese geboue. Daar is ook ‘n paar yslik groot Stalinistiese geboue, soos byvoorbeeld die universiteit. Hulle is almal koud en onpersoonlik en oorweldigend anders in hul boustyl. Die meeste Russe bly in sulke hemelhoë woonstelblokke wat soos duiwehokkies opmekaar gestapel is.
Die verkeer was toe al wild. In die hoofkruisings was daar torings wat deur verkeerspolisie beman is. Hulle het met hulle fluitjies en armswaaiery vergeefs probeer om orde in die chaos te handhaaf.
Ek het vinnig verstaan dat die Russse ‘n erg chauvinistiese klomp is. Ek het dikwels by werkspanne in die strate verbygery, wat water- of gaspyplyne herstel het met hulle pikke en ander gereedskap. Hierdie mense, wat so hard geswoeg het, was sonder uitsondering vroue.
Moskou het sewe lughawens as ek reg kan onthou. Ek het toe van een van hulle af na die myndorp Mirny vertrek vir die res van my sakebesoek. Dit was op die lughawe dat ek vir die eerste keer besef het dat iemand pal op my spoor bly. My tolk het my gou gerus gestel; Dit was blykbaar normale praktyk om vreemdelinge van ander plekke af te laat agtervolg. Ons is toe met alle vaart daar weg in ‘n Russiese straler (Ek dink dit was ‘n Illushin of so iets.) Die vliegtuig was heel skaflik afgewerk aan die binnekant. Ek het aan my tolk opgemerk oor hoe vinnig die ding opstyg. Hy het dit beaam en gesê dat Russiese vliegtuie ontwerp was om met min afstand te kan opstyg en land. Die rede was dat baie lughawens op permafrost gebou word en die spul is blykbaar altyd hobbelrig en ongelyk. Hoe minder jy dus met die vliegtuig taxi, hoe minder skade is daar aan die raam. Ek onthou dat ek tydens die uitrol en opstygery sewentig stukkende Russiese vliegtuie getel het wat langs die aanloopbaan gelê het…. In elk geval, ons is toe naderhand met ‘n groot gedruis die lug in.
Die vlug na Mirny was reg oos, en het ‘n hele paar uur geduur. Kyk maar op die kaart: Mirny is in die middel van nêrens, naby die Noordpoolsirkel in die ooste van die ou Sowietunie. Dis reg noord van China, nog anderkant Mongolië. Toe ons laer sak om te gaan land het ek besef dat die plek ongenaakbaar koud kon word: Die eindelose ysvlakte was bedek met sukkelende dennebome, nie een hoër as sowat drie meter nie. Hulle het almal skeef in een rigting gegroei, gebuig deur die meedoënlose poolwinde. Daar is geen paaie na Mirny toe nie. Mens kan net per vliegtuig soontoe gaan of weer van daar af ontsnap. Swaar toerusting word gedurende die winters per slee honderde kilometers vêr op toegeyste riviere na die myne toe gesleep. Dis hier, in die middel van niks, waar die Russe jare gelede van die rykste diamantafsettings in die wêreld ontdek het.
Die dorpie self is afgeleef en lendelam. Die geboue is almal kru en funksioneel sonder enige oorweging vir die estetiese. Daar is nie plante of bome nie. Die myn is ‘n yslike koniese gat wat in die dieptes wegsink, sommer naby die dorp.
Dit was bitter koud. My tolk het my vertel dat dit op koue wintersdae tot minus 55 grade Celcius kan word. Gedurende die kort somermaande gaan die temperatuur egter soms op tot plus 30 grade. Dan is daar glo groot swerms van yslike groot muskiete wat al wat leef verpes.
Ek het toe daar ‘n paar dae deurgebring. Met my eerste dag se toespraak het daar ‘n verrassing op my gewag: Ek het my voor ‘n gehoor van omtrent ‘n honderd van die naburige myne se ingenieurs bevind. Hulle wou seker almal maar net uit nuuskierigheid kom hoor wat Kiepe uit Afrika nou eintlik te sê gehad het. Koot ja. Die ys was egter gou gebreek en tussen my en my tolk se gepratery het die agtervolger wat agter in die saal gesit het, sy hande volgehad met al die notas wat hy heeltyd afgeneem het.
Een aand het die klomp Russe toe ‘n onthaal gereël om my behoorlik te laat welkom voel. Ek onthou dat daar aan die een kant van die eetsaal tafels met kos was. Aan die ander kant was daar net soveel tafels, gelaai met drank. Die kos was daardie aand lekker. Maar die drinkery was ‘n ander storie. Elke Rus aan tafel het ‘n beurt gekry om ‘n heildronk in te stel: Op Moeder Rusland, op die vrouens van die Russiese volk, op die meisies van Yakutia (dis die streek waar die dorp was), op Rusland se weermag, ensovoorts. Met elke heildronk het almal opgestaan en nog ‘n glasie vodka agter in die keel gegooi. Dit was nog OK. Die problem was net dat hulle van my verwag het om, as enigste Suid Afrikaner in die gehoor, elke heildronk te beantwoord met iets soortgelyks uit eie bodem. Dit het glad nie te sshlech gegaan nie, moet ek schjê: Ek het sommer begin met ‘n toast op die mooie meisies van Tukkies, waar ek studeer het. Deur die loop van die aand het ek later uit dinge geraak om te toast en het ek toe naderhand elke vroulike groep in die land vir lof uitgesonder, van die huisvrouliga tot die vrouelandbou-unie. Jinne ja. O, ek het ook later iets in my dronkenskap te sê gehad oor ons weermag wat die Russe en Kubane in Angola gas gegee het, maar hulle het my daarvoor vergewe.
Die aand het ge-eindig met een of ander Russiese volkslied wat gesing is. Daar was baie gelag en baie skouerklappery.
Ek onthou hoe ek toe later deur die koue na my hotelkamer toe teruggesteier het. Dit was middernag, maar helder lig. (Ek dink die son het daardie tyd van die jaar net 2 ure elke dag agter die horison verdwyn.) Ek het oor die dorpsplein gestap. ‘n Groep soldate op die plein was besig om iemand aan te rand. Gelukkig het hulle nie in my belanggestel nie.
Ek moet sê ek het respek gekry vir egte Russiese vodka: Die volgende dag het ek nie ‘n sweempie van ‘n kopseer gehad nie. Verstommend.
Die oggend met my geskeduleerde terugvlug is ons toe lughawe toe. Ek het gesien daar was ‘n hele skare mense by die hek maar het my nie veel daaraan gesteur nie. Die vliegtuig was ‘n paar uur laat. Uiteindelik het dit wel geland en voor by die terminaal kom stilstaan.
Na ‘n ruk het die wag die hek na die aanloopbaan oopgegooi. En toe storm die hele skare soos besetenes op die vliegtuig af. Ek het besef hier kom ‘n ding en het toe ook maar hakke geklap so goed as wat ek kon. Ek onthou so goed soos gister hoe die eerste lewende wese los voor ons almal met die vliegtuig se trappe opgehol het en binne verdwyn het: Dit was ‘n hond.
Toe ek binne kom was elke sitplek reeds geneem. Ook die een wat vir my bespreek was. Die mense het my aangekyk asof ek ‘n ruimtewese was. Iemand het toe later my hand gevat en my verby ‘n gordyn afskorting na vorentoe gelei waar daar nog ‘n sitplek oor was.
Toe ek later my tolk vra wat op die vliegtuig aangegaan het, het hy as volg verduidelik: Daardie dag was die begin van die skoolvakansie. Skoolkinders kon gratis saamvlieg Moskou toe, maar daar was nooit vir hulle plek bespreek nie.
Die res van die vlug was redelik sonder opwinding. Die ou langs my het op ‘n stadium ‘n lapsak uitgehaal met salami en ‘n yslike mes daarin. Hy het vir my en homself ‘n paar stukkies wors afgekerf. Dit was nogal lekker. Al wat nog merkwaardig was, was die postuur van die enkele, knorrige lugwaardin, wat met haar gewigtige liggaam op en af met die gangetjie gestap het en mense se waterglase uit ‘n emmer volgeskep het. Ek onthou hoe ek gewonder het of die loods daar voor in die kajuit elke slag dalk met die stokke moes stoei om ons weer op horisontale vlak te bring as sy so van voor na agter rondtrippel. Hehehe.
Hulle sê daar is plekke in Rusland wat verder weg is van Moskou af as wat Johannesburg van die stad gelee is. As mens op die kaart kyk, lyk dit of dit nogal waar kan wees. Dis voorwaar ‘n yslike groot en interessante plek.
Kommentaar