Archive for December, 2007

Stille nag

 stars3.jpg

S T I L L E   N A G

Wanneer ek saans laat alleen in my huisie sit

en as die buurt se pêrelstringe een vir een verdof

ál langs die some van die stad se swart riviere,

Dan bring die klanke van ‘n eens-gedeelde melodie

jou sagte oë en glimlag weer terug na my.   

    •   

In jou arms deel ek dan my hart se stilte

met die gesels van ‘n vasberade kriek,

Tot wanneer die laaste uitgewaste ster

in die bleekheid van ‘n nuwe dag

uit die wye hemel val, en sterf.

   

Onthou

moon-star.jpg 

O N T H O U 

Die vlam van onbegrensde liefde is ‘n vuur

Wat ‘n leeftyd, nie net vier seisoene duur.

Ja, van al die kosbaar skatte wat ons kan ontvang

Dra die hart van iemand anders die hoogste rang.

Dus: Wanneer stilte of afstand jou laat twyfel,

Of as jul saamwees in die mis van tyd vervaag,

Gryp dan gou die foon of stuur ‘n brief

En sê net weer opnuut: ‘Ek het jou lief.’

       

Die Vallei van die Maan

 x1-salt-and-sunset.jpg

Een van my gunstelingplekke in die wêreld is weggesteeek in die noorde van Chile, in die hartjie van de Atacamawoestyn.  Dit is nogal moeilik om daar uit te kom:  Eers twee ure se vlieg vanaf Chile se hoofstad Santiago na Antofagasta.  Dan ry mens per motor na Calama (250 km) en van daar af nog sowat 80 km na ‘n klein oasedorpie met die naam van San Pedro de Atacama. 

x2-oasis.jpg

Hier is daar ‘n pragtige majestieuse vallei in die uitgestrekte dorheid van die woestyn.  Die Chilene noem die plek ‘Valle de la Luna’, of Vallei van die Maan. Die streek is geologies baie interessant.  Diep onder Chile se landmassa bots twee tektoniese plate met mekaar, wat veroorsaak die Andesberge steeds hoër teen die res van die vasteland na die weste vasgedruk word.  Waar daar miljoene jare gelede ‘n see was, is daar nou ‘n hoë bergreeks teen die voetheuwels van die sneeubedekte pieke van die Andes wat die grens vorm tussen Chile en Argentinië. 

 x3-desert.jpg

‘n Mens sien die ontsaglike geweld van die botsing van landmassas in die voue en skeure van die berge.  Hier is ook heelwat aktiewe vulkane en aardbewings vind gereeld plaas. 

x7-folded-mountain.jpg

Oral in die Vallei van die Maan glinster die grond spierwit in die son:  Wat soos sneeu lyk is eintlik soutkristalle, wat ontstaan het toe die berge nog deel was van die bodem van ‘n see wat later opgedroog het namate die landmassa al hoe hoër opgelig het. 

 x3b-marias.jpg

Die vallei word loodreg in twee verdeel deur ‘n massiewe sandduin wat seker sowat 150m hoog is.  Dis ‘n stywe klim tot bo, maar definitief die moeite werd. 

 x5-dune.jpg

Van hier af het mens die pragtigste uitsig oor die omliggende landskap, veral laat in die namiddag  wanneer die son sak.  Dan kan jy die woestyn se stilte geniet en kyk hoe die nag geleidelik sy sagte kombers oor die wye vallei kom gooi. 

(Kliek op die foto’s om te vergroot.)

x6-buses-in-valley.jpg

Oupa se kar-ongelukkie

 x-1-gesig.jpg

Van my heel eerste herinnneringe as kind  gaan oor die kar wat my oupa gery het:  Dit was so ‘n seepgroen ou DKW’tjie.  Vir die wat nie weet nie:  Hulle was op hulle dag erg oulike karretjies.  Mens moes olie by die brandstof inmeng omdat die enjins tweeslag was, soos ‘n 50 cc motorfiets s’n. 

x-3-outside.jpg

Hulle enjin het DKW’s heel anders laat klink op die pad.  Die geluid was so ‘n half asmatiese gebrom.  As jy die voet van die pedaal afhaal het die karretjie eers nog ‘n rukkie gehyg en dan met ‘n rieng-tieng-tieng tot bedaring gekom. Ten spyte van die tweeslag enjin het DKW’s nie geskrik om te loop nie.  Hulle was vinnig.  En daar was nog ‘n ander snaakse ding aan hulle:  Die deure het verkeerd om, na agtertoe, oopgemaak. 

 x-5-door.jpg

My oupa was ‘n oulike mens.  Altyd ‘n vonkel in die oog en reg om ‘n grappie te vertel.  Hy was ook ‘n bietjie verstrooid en snobberigheid en aanstellerigheid het hom glad nie aangestaan nie.  Hy het die interessantste dinge in die huis versamel.  Daar het orals nuttelose goeters rondgelê wat niks meer vir enigiemand beteken het nie maar tog nog lekker was om mee te peuter.  Sy geaardheid was erg anders as my ouma s’n:  Sy was gesteld op netheid en orde in die huis.  Alles moes altyd 100% reg wees.  Sy het die stywe reëls van die neus-in-die-lug kliek in die dorp slaafs nagevolg.  Kyk, in haar huis het jy jou tee gedrink met die pinkie in die lug. 

Daar was dus altyd ‘n mate van wrywing tussen Ouma en Oupa.  Sy het hom gereeld met haar skril stem uitgetrap.  Hy het alles gelate aanvaar en haar so nou en dan bietjie geterg ook, net om haar bloeddruk nog meer op te jaag. 

Een oggend is die twee van hulle toe dorp toe in die DKW.  Ouma was soos gewoonlik onberispelik uitgevat. 

 x-2-ouma.jpg

Oupa was min gepla en het sy bes probeer om Ouma se alewige gekerm nie te hoor nie. Op pad dorp toe het die pad so ‘n paar wilde esse gemaak tussen die klowe deur.  Oupa het seker daardie dag die DKW se spoed so bietjie onderskat, of miskien was daar te veel los sand in die spore. 

x-4-drive.jpg

In elk geval:  Toe hulle so deur die laaste draai gaan en terwyl Ouma nog een stryk deur teem oor alles wat Oupa altyd verkeerd doen, gaan Ouma se deur oop.  En daar val sy uit. Kaplaf, op haar agterstewe met haar dorpsklere in die sagte sand. Oupa het probeer om sy lag te bedwing.  Ouma was natuurlik woedend.  Alhoewel sy nie seergekry het nie, het sy hom toe nooit oor die ongeluk vergewe nie.  Oupa het ook nooit eintlik daaroor gepraat nie.  Maar ek dink tog hy het in sy stilligheid geglo dat hy haar darem een keer kon terugkry vir haar alewige gekerm in sy ore.   

Hehehe.      

(Die illustrasies is gesny uit ‘n DKW brosjure wat ek op die net raakgeloop het.  Loer gerus by http://storm.tocmp.com/indexa5.htm  vir oulike inligting oor nog baie ander motors uit toeka se tyd.)

Die verlate kerk

 x-church-steps.jpg

Die platteland van Wes-Australië is wyd en uitgestrek.  Reën is skaars.  Nader aan die see is daar tog wel streke wat vogtig genoeg is vir die verbouing van koring en ander gewasse.  Groot gedeeltes is egter nou besig om agteruit te gaan as gevolg van die effek van versouting van die grond:  Vroeër was daar hier oral natuurlike bloekomwoude.  Die bome het die grondwatervlak laag gehou en daarmee saam die opgeloste soute in die bodem dieper afgetrek, weg van die boonste laag aarde.  Boere het toe later groot dele ontbos en landerye gemaak.  Die grond was eers vrugbaar, maar sonder die effek van bome se dieperliggende wortelstelsels het die soutinhoud van die bogrond al hoe hoër geword.  Oeste het geleidelik verswak, soveel so dat daar vandag baie plase is wat deur hulle eienaars opgegee is en nou verlate en onbewoond staan. Die insinking in die landelike ekonomie het sy tol op baie plaaslike dorpies gelaat en ontvolking van die platteland is ‘n wesenlike probleem. 

x-old-church.jpg

Ek het eenkeer, ‘n paar honderd kilometer van Perth af na die binneland toe, op ‘n ou kerkie afgekom wat alleen in die skadu’s van ‘n paar ou knoetsige bloekombome staan.  Dit was duidelik dat die geboutjie lank reeds in onbruik verval het.  Daar was geen teken van spore in die gras nie.  ‘n Dik laag stof het voor op die trappe gelê.  Die enigste bewys dat daar in die verlede ‘n tuin om die kerk was, was ‘n enkele bos lelies wat vrolik in volle blom voor die ingang gestaan het. By nadere ondersoek was dit duidelik dat iemand tog soms na die gebou kom omsien het:  Binne was die vloer gevee.  Al die vensters was nog heel. 

Aan die westekant van die kerk was daar ‘n klein kerkhoffie.  Van daar af, tussen die takke van die hoë bome deur,  was daar ‘n pragtige uitsig oor die golwende lande waar die koring goudgeel in die helder sonlig gestaan het. 

 x-headstones.jpg

Ek het op die grafstene gekyk:  Die laaste persoon is in 1922 daar begrawe. Die grafte was almal mooi versorg en op twee van hulle was daar nog ‘n paar verlepte blommetjies wat iemand ‘n paar dae vantevore daar neergesit het. 

 Ek het ‘n paar minute lank in die skaduwee van die ou bloekombome gestaan.  ‘n Ligte briesie het die middaghitte getemper en die blare laat ritsel en soms ‘n tak laat kreun.  Dit was besonders om hier ‘n gevoel van tydlose vrede te kon ervaar in ‘n plek wat sekerlik, lank gelede, die hartklop van ‘n gelukkige gemeenskappie moes gewees het.  

  x-rear-gable.jpg

(Foto’s digitaal aangepas.)

My besoek aan Mirny

‘n Paar mense wou meer weet oor Punt 6 van my ‘Tag’ terugvoer van nou die dag.  Dis oor my destydse besoek aan Rusland.  Wel hier gaan ons: 

Dit was in 1996, net nadat Rusland haarself weer vir Westerse besoekers oopgestel het.  Iemand het my toe genader om ‘n tegniese aanbieding te gaan doen op ‘n diamantmyn êrens vêr in die yswildernis van Siberië.  Ek het die kans met albei hande aangegryp.  Het toe van Johannesburg af na Moskou gevlieg via Londen.  In Moskou het ‘n plaaslike Amerikaner my by die lughawe kom oplaai, tesame met die ou wat my tolk sou wees vir die komende dae. 

Ek het toe eers vir ‘n paar dae in Moskou oorgebly om alles agtermekaar te kry vir die res van my besoek. Die geluk was aan my kant:  Die weer in Moskou was wonderlik.  Baie sonskyn en nie te koud nie.  Ek het by die Radison hotel ingeboek, aan die oewer van die Volga (dink ek ?) rivier wat oral deur die stad kronkel.  Dis ‘n pragtige stad, met ‘n geskiedenis van bykans een duisend jaar.  Daar is die pragtigste ou historiese geboue. Daar is ook ‘n paar yslik groot Stalinistiese geboue, soos byvoorbeeld die universiteit.  Hulle is almal koud en onpersoonlik en oorweldigend anders in hul boustyl.  Die meeste Russe bly in sulke hemelhoë woonstelblokke wat soos duiwehokkies opmekaar gestapel is. 

Die verkeer was toe al wild.  In die hoofkruisings was daar torings wat deur verkeerspolisie beman is.  Hulle het met hulle fluitjies en armswaaiery vergeefs probeer om orde in die chaos te handhaaf. 

Ek het vinnig verstaan dat die Russse ‘n erg chauvinistiese klomp is.  Ek het dikwels by werkspanne in die strate verbygery, wat water- of gaspyplyne herstel het met hulle pikke en ander gereedskap.  Hierdie mense, wat so hard geswoeg het, was sonder uitsondering vroue. 

Moskou het sewe lughawens as ek reg kan onthou.  Ek het toe van een van hulle af na die myndorp Mirny vertrek vir die res van my sakebesoek.  Dit was op die lughawe dat ek vir die eerste keer besef het dat iemand pal op my spoor bly.  My tolk het my gou gerus gestel;  Dit was blykbaar normale praktyk om vreemdelinge van ander plekke af te laat agtervolg. Ons is toe met alle vaart daar weg in ‘n Russiese straler (Ek dink dit was ‘n Illushin of so iets.)  Die vliegtuig was heel skaflik afgewerk aan die binnekant.  Ek het aan my tolk opgemerk oor hoe vinnig die ding opstyg.  Hy het dit beaam en gesê dat Russiese vliegtuie ontwerp was om met min afstand te kan opstyg en land.  Die rede was dat baie lughawens op permafrost gebou word en die spul is blykbaar altyd hobbelrig en ongelyk.  Hoe minder jy dus met die vliegtuig taxi, hoe minder skade is daar aan die raam.  Ek onthou dat ek tydens die uitrol en opstygery sewentig stukkende Russiese vliegtuie getel het wat langs die aanloopbaan gelê het….  In elk geval, ons is toe naderhand met ‘n groot gedruis die lug in. 

Die vlug na Mirny was reg oos, en het ‘n hele paar uur geduur.  Kyk maar op die kaart:  Mirny is in die middel van nêrens, naby die Noordpoolsirkel in die ooste van die ou Sowietunie.  Dis reg noord van China, nog anderkant Mongolië.  Toe ons laer sak om te gaan land het ek besef dat die plek ongenaakbaar koud kon word:  Die eindelose ysvlakte was bedek met sukkelende dennebome, nie een hoër as sowat drie meter nie.  Hulle het almal skeef in een rigting gegroei, gebuig deur die meedoënlose poolwinde. Daar is geen paaie na Mirny toe nie.  Mens kan net per vliegtuig soontoe gaan of weer van daar af ontsnap.  Swaar toerusting word gedurende die winters per slee honderde kilometers vêr op toegeyste riviere na die myne toe gesleep.  Dis hier, in die middel van niks, waar die Russe jare gelede van die rykste diamantafsettings in die wêreld ontdek het. 

Die dorpie self is afgeleef en lendelam.  Die geboue is almal kru en funksioneel sonder enige oorweging vir die estetiese.  Daar is nie plante of bome nie.  Die myn is ‘n yslike koniese gat wat in die dieptes wegsink, sommer naby die dorp.  

Dit was bitter koud.  My tolk het my vertel dat dit op koue wintersdae tot minus 55 grade Celcius kan word.  Gedurende die kort somermaande gaan die temperatuur egter soms op tot plus 30 grade.  Dan is daar glo groot swerms van yslike groot muskiete wat al wat leef verpes. 

Ek het toe daar ‘n paar dae deurgebring.  Met my eerste dag se toespraak het daar ‘n verrassing op my gewag:  Ek het my voor ‘n gehoor van omtrent ‘n honderd van die naburige myne se ingenieurs bevind.  Hulle wou seker almal maar net uit nuuskierigheid kom hoor wat Kiepe uit Afrika nou eintlik te sê gehad het.  Koot ja.  Die ys was egter gou gebreek en tussen my en my tolk se gepratery het die agtervolger wat agter in die saal gesit het, sy hande volgehad met al die notas wat hy heeltyd afgeneem het. 

Een aand het die klomp Russe toe ‘n onthaal gereël om my behoorlik te laat welkom voel.  Ek onthou dat daar aan die een kant van die eetsaal tafels met kos was.  Aan die ander kant was daar net soveel tafels, gelaai met drank. Die kos was daardie aand lekker.  Maar die drinkery was ‘n ander storie.  Elke Rus aan tafel het ‘n beurt gekry om ‘n heildronk in te stel: Op Moeder Rusland, op die vrouens van die Russiese volk, op die meisies van Yakutia (dis die streek waar die dorp was), op Rusland se weermag, ensovoorts.  Met elke heildronk het almal opgestaan en nog ‘n glasie vodka agter in die keel gegooi.  Dit was nog OK.  Die problem was net dat hulle van my verwag het om, as enigste Suid Afrikaner in die gehoor, elke heildronk te beantwoord met iets soortgelyks uit eie bodem.  Dit het glad nie te sshlech gegaan nie, moet ek schjê:  Ek het sommer begin met ‘n toast op die mooie meisies van Tukkies, waar ek studeer het.  Deur die loop van die aand het ek later uit dinge geraak om te toast en het ek toe naderhand elke vroulike groep in die land vir lof uitgesonder, van die huisvrouliga tot die vrouelandbou-unie.  Jinne ja.  O, ek het ook later iets in my dronkenskap te sê gehad oor ons weermag wat die Russe en Kubane in Angola gas gegee het, maar hulle het my daarvoor vergewe. 

Die aand het ge-eindig met een of ander Russiese volkslied wat gesing is.  Daar was baie gelag en baie skouerklappery. 

Ek onthou hoe ek toe later deur die koue na my hotelkamer toe teruggesteier het.  Dit was middernag, maar helder lig.  (Ek dink die son het daardie tyd van die jaar net 2 ure elke dag agter die horison verdwyn.)  Ek het oor die dorpsplein gestap.  ‘n Groep soldate op die plein was besig om iemand aan te rand.  Gelukkig het hulle nie in my belanggestel nie. 

Ek moet sê ek het respek gekry vir egte Russiese vodka:  Die volgende dag het ek nie ‘n sweempie van ‘n kopseer gehad nie.  Verstommend. 

Die oggend met my geskeduleerde terugvlug is ons toe lughawe toe.  Ek het gesien daar was ‘n hele skare mense by die hek maar het my nie veel daaraan gesteur nie.  Die vliegtuig was ‘n paar uur laat.  Uiteindelik het dit wel geland en voor by die terminaal kom stilstaan.   

Na ‘n ruk het die wag die hek na die aanloopbaan oopgegooi.  En toe storm die hele skare soos besetenes op die vliegtuig af.  Ek het besef hier kom ‘n ding en het toe ook maar hakke geklap so goed as wat ek kon. Ek onthou so goed soos gister hoe die eerste lewende wese los voor ons almal met die vliegtuig se trappe opgehol het en binne verdwyn het:  Dit was ‘n hond. 

Toe ek binne kom was elke sitplek reeds geneem.  Ook die een wat vir my bespreek was.  Die mense het my aangekyk asof ek ‘n ruimtewese was.  Iemand het toe later my hand gevat en my verby ‘n gordyn afskorting na vorentoe gelei waar daar nog ‘n sitplek oor was. 

Toe ek later my tolk vra wat op die vliegtuig aangegaan het, het hy as volg verduidelik:  Daardie dag was die begin van die skoolvakansie.  Skoolkinders kon gratis saamvlieg Moskou toe, maar daar was nooit vir hulle plek bespreek nie. 

Die res van die vlug was redelik sonder opwinding.  Die ou langs my het op ‘n stadium ‘n lapsak uitgehaal met salami en ‘n yslike mes daarin.  Hy het vir my en homself  ‘n paar stukkies wors afgekerf.  Dit was nogal lekker.  Al wat nog merkwaardig was, was die postuur van die enkele, knorrige lugwaardin, wat met haar gewigtige liggaam op en af met die gangetjie gestap het en mense se waterglase uit ‘n emmer volgeskep het.  Ek onthou hoe ek gewonder het of die loods daar voor in die kajuit elke slag dalk met die stokke moes stoei om ons weer op horisontale vlak te bring as sy so van voor na agter rondtrippel.  Hehehe. 

Hulle sê daar is plekke in Rusland wat verder weg is van Moskou af  as wat Johannesburg van die stad gelee is.  As mens op die kaart kyk, lyk dit of dit nogal waar kan wees.  Dis voorwaar ‘n yslike groot en interessante plek.     

Ge-’tag’: Ietsie meer oor myself

Karin het my ge ’tag’ en hier is dus ‘n paar goeters oor myself:     

  1. My een melktand het nooit gewissel nie en hy sit nou nog in my mond.  Die ene wat hom moes vervang, het sommer heel van stryk af geraak en noot uitgegroei nie.  So ‘n paar jaar gelede het ‘n kwak X-strale van kakebeen geneem en toe pryk die nuwe tand daar dwars binne-in my kakebeen en heel onsigbaar van buite af.   

  2. As kaalvoetkind op die plaas het ek allerhande vaardighede aangeleer wat vandag totaal nutteloos is:  Ek kan ‘n koei melk, beeste gesond dokter, kalfies help in die wêreld bring, lande ploeg en vrugtebome snoei.
  3. Ek het, toe ek nog student was, eenkeer met my 125 cc motorfiets op ‘n oliekol gegly en toe agter in ‘n hengse groot weermagtrok vol troepe vasgejaag, tot groot vermaak van almal op die lorrie.
  4. Ek het ‘n jaar lank in die tronk gebly:  Tydens my dienspligtyd was ‘n handjievol van ons toegedeel aan ‘n spesiale operasie en niemand moes weet wie ons was of waarmee ons besig was nie.  Ons het toe iewers in ‘n ou vrouetronk gebly, agter tralies en dik mure.  Dit klink erger as wat dit werklik was:  Die naaste wat ons destyds aan oorlog gekom het, was om snags met ons dienspistole te gaan hase jag in die oop stukke veld tussen die townships.
  5. Ek lewe ‘n interessante, vol bestaan.  Geen dag is dieselfde as gister nie.  Ek ontmoet altyd nog nuwe gesigte en sien nuwe plekke.  Dis hoe ek dit wil hê.  Ek word vinnig verveeld en sal van my kop af raak as ek ‘n eentonige lewe moes voer.  Daar is min dele van die wêreld wat ek nog nie besoek het of in gewerk het nie.
  6. Ek moes lank terug een keer ‘n ding gaan doen iewers in Siberië.  Vir die week of twee wat ek in Rusland was, het ‘n KGB ou my dopgehou.  Hy was op al dieselfde vlugte as ek en het altyd iewers in die agtergrond rondgehang, notaboekie in die hand, besig om al my geselsies met ander noukeurig neer te skryf.
  7. Ek kan heel skaflik Duits en Spaans praat.
  8. Ek glo dat ons almal bevoorreg is om in vandag sy tye te mag leef:  Ons bevind ons in ‘n tyd van ongekende vryhede, geleenthede en gerief.  Ons kan so maklik kontak hê met mense van reg oor die aardbol.  Enige bestemming kan bereik word deur sommer net in ‘n vliegtuig te klim.  Daar is nog baie ongeskonde en pragtige plekke in die wêreld oor om self te gaan sien en te geniet.  Ons moet dankbaar wees en dinge waardeer terwyl ons nog kan.
  9. Bitter min mense ken die ware ek.  Om die waarheid te sê, ek hou gewoonlik ander op ‘n afstand en is erg gesteld op my persoonlike privaatheid.  Snaaks genoeg:  Die wat wat my die beste ken, weet die minste van my daaglikse bestaan.