
Knysna se omgewing is vol pragtige, verskuilde plekkies om te ontdek. Bo en behalwe al die mooi strande naby die dorp is daar ook, meer na die binneland toe, ‘n paar oulike bestemmings waar mens ‘n dag kan deurbring. Een so ‘n plekkie is ongeveer 30 km vêr, diep in die bosse naby Millwood, waar daar jare gelede ‘n goudmyn was.
Al wat oor is van die destydse myndorpie is ‘n paar rooidaksinkhuisies wat vandag nog tussen die denneplantasies staan. Mens kan van daar af ‘n kronkelende voetpaaidjie volg om by die mynskagte uit te kom wat seker omtrent ‘n honderd jaar gelede in die berge gesink is. Daar, in die geheimsinnige skadu’s van die die digte woud, lê daar nog ‘n paar geroeste stukke masjinerie: Ou reuse stoomketels en swaar stampers waarmee hulle die erts destyds bewerk het.

Een van die oorblywende sinkhuisies is nou ‘n restaurantjie waar mens kan aansit vir koffie of tee. Hulle bedien ook melktert en vars skons wat nog in die kombuisie se oorspronklike koolstofie gebak word.
Ons het enkele jare gelede by Millwood ‘n draai gemaak en toe voetgeslaan deur die bosse tot by die verlate en donker, druppende mynskagte onder in die vallei. Dit was ‘n besonderse dag: Die son het pas weer uitgekom na die oggend se bui reën. Die woud het gelewe van voëlgeluide. Ons was die enigste mense daar. So nou en dan het ons ‘n duikertjie of ander kleinwild gesien voordat hulle weer skugter in die lang gras weggeraak het.
En toe, op pad terug na die parkeerplek bo-op die heuwels aan die rand van die vallei sien ons dit: Daar was vars olifantspore in die voetpad, wat dudelik eers na die oggend se reënbui deur een van Knysna se laaste oorblywende bosreuse daar agtergelaat was. Ons het gekyk waar die spore in die ruigtes weggeraak het maar die olifant het toe reeds weer geruisloos in die digte bosse verdwyn.
Toe ons ‘n rukkie later uitasem en moeg by die koffiewinkel aankom het ons die kleurlingmeisie in die kombuis van ons ervaring vertel. Sy was in ekstase en het dadelik haar vriendin nadergeroep: “Mildred, Mildreeeed! Die Grootvoete is terug!” het sy vir haar geskree.

Verlede jaar, na ‘n afwesigheid van meer as tien jaar, het ons weer by Knysna gaan vakansie hou. Ons het toe by een van die olifantplase op pad na Plettenbergbaai ‘n draai gaan maak. Ek het voor die tyd nie veel van die plek verwag nie: Gedink dit sal maar weer ‘n tipiese toeristefoefie wees met ‘n paar olifante wat daar verwese in ‘n hok staan en peins oor beter dae. Maar dit was glad nie so nie. Dit was regtig ‘n wonderlike ervaring en ek sal enigiemand aanmoedig om daar ‘n draai te maak.

Die olifante word in ‘n groot, wye kamp gehuisves. Hulle is van verskeie wildparke afkomstig dus glad nie familie van die oorspronklike inheemse Knysna-groep nie. Dit lyk of daar genoeg plek vir hulle is om rond te loop en die lewe te geniet. Hulle is ontspanne en geniet duidelik die interaksie met besoekers. ‘n Mens kan naby hulle uitklim en dan staan jy reg tussen hulle. Daar is nie ‘n heining nie; twee van die plaas se gidse hou die diere in toom met kort skerpgepunte stokke. Die diere staan eers in ‘n ry agter ‘n staal-afskorting en aanvaar graag die lemoenskille wat mens hulle kan voer. Hulle is rustig en goed gemanierd.

Wanneer die etery verby is, kom hulle agter die afskorting uit en staan dan ewe gedweë stil om gevryf en bewonder te word.
Dis ‘n besonderse belewenis om aan ‘n olifant te kan raak: Hulle is verbasend sensitief en hulle growwe vel is oortrek met fyn hare waarmee hulle selfs die sagste aanraking kan voel.

Daar is net iets aan hierdie reuse diere wat mens laat besef dat hulle werklik baie intelligent is. Mens word ook bewus van die sterk bande wat hulle onder mekaar het. Dit lyk ook of hulle baie goed onderling kan kommunikeer.
Na my besoek aan die olifantplaas het ek baie oor Knysna se oorspronklike olifanttroppe gewonder. Hulle sê dat daar vandag waarskynlik slegs drie diere oor is van die honderde wat dekades gelede die gebied se woude deurkruis het. Hierdie drie diere leef nou ‘n eensame bestaan en is nie noodwendig dikwels in kontak met mekaar nie. Hulle is ook aldrie waarskynlik reeds te oud om te kan voortplant.
Daar is vir my iets geweldig hartseer aan hierdie situasie. Die mens het hier in die pragtige groen kuswoude iets wonderliks en kosbaars vernietig. Onherroeplik en finaal.

As mens kyk na al die ontwikkeling wat tans in die Knysna-omgewing aan die gang is, is dit duidelik dat die voortbestaan van die laaste stukkies oorblywende natuurlike woud ook nou in die weegskaal is. Ek hoop tog dat mense sal saamstaan om hierdie deel van ons erfenis te bewaar voordat dit te laat is.

Kommentaar