Archive for February, 2008

Die ou plaashuis

 plaashuis-maan-2.jpg

 

Die huislike geur van vars koffie op die stoof het reeds ‘n handvol jare gelede tesame met die laaste klank van kinderstemme deur die swart holtes van jou uitgerukte vensters oor die vlakte weggewaai. 

Snags, in die glans van die koue maan, staan jou witgekalkte mure nou alleen, verwese.   Die wind  vind  dan sy pad oor die yl stoppels op die uitgewerkte lande en kom speel ‘n sinlose deuntjie met jou lendelam deure aan hul krakende skarniere. 

Jou enigste geselskap is die uile wat soms skuiling vind in die kappe van jou geroeste dak.   

Vir geen siel is jy meer ‘n vaste tuiste nie, behalwe vir ’n onversorgde langhaarhond wat elke dag nog teen skemer in die voetpad van die statte se kant af nader draf en aan die voordeur kom snuif.  Hy wag dan ‘n rukkie by die hek voordat hy weer, as dit donker is,  stil en mank-mank in die vaal gras verdwyn. 

 

 

Wat lees ek: bladsy 123

Boendoe vra watter boek het ek laas gelees en om ‘n paar sinne aan te haal uit bladsy 123.  Hier gaan ons: 

 “A few minutes later his wife, her head wrapped in a scarf and her plump face beaming with a motherly smile, brought me a steak-sized filet of the freshest, most succulent and crisply fried fish that I had tasted on the barge, or even in my life.  It was garnished with mayonnaise and onions.  I devoured it.  Pleased, Nze watched me eat.” 

Die boek se naam is ‘Facing the Congo’  van Jeffrey Tayler en dit handel oor sy ervaringe tydens sy reis van sowat 1,600 km al af met die Congorivier in ‘n tradisionele boomstamkano.

Tayler was 33 jaar oud toe hy besluit die lewe raak te rustig vir hom en dat dit tyd was om iets besonders aan te pak.  Sy reis met die Congorivier af is vol avontuur, ontberinge en ontmoetings met interessante mense.

Ek hou van die boek:  Dis ‘n eerlike beskrywing van een van Afrika se mees onherbergsame streke en ook van die mense wat hulle bestaan maak op die Congo, op een na die grootste rivierstelsel in die wêreld.

untitled1.jpg

Maak ‘n draai in Tokyo

 x-temple-gate.jpg

Ek het nou die dag iemand hoor sê dat Tokyo stad en die omliggende omgewing nou gesamentlik die grootste bevolkingtal het van enige metropolitaanse gebied in die wêreld. (Twintig miljoen mense, of meer?)  Wel, dis verseker ‘n besige plek.   Alles is toegebou en funksioneel.  Die enigste oop ruimtes in die stad is rondom die keiser se paleis en by sommige van die eeue-oue tempels.

 Die foto hier onder het ek uit die hotel se ontbytsaal geneem:  Voorlangs is die keiserlike tuine.  Agter op die horison kan mens die berg Fuji se sneeubedekte piek uitmaak.

x-skyline-fuji.jpg

 In die stad handhaaf mense ‘n vinnige lewenspas.  As jy ‘n kantoorwerker in sentraal Tokyo is, is dit nie ongewoon om soggens twee ure op die sneltrein deur te bring werk toe nie, sodat jy agt uur kan begin werk.  Dan volg ‘n lang dag op kantoor.  Baie mense gaan eers agt uur saans huistoe en spandeer dan weer twee ure op dieselfde trein om by die huis te kom.

x-train.jpg

 Die sneltreine is werklik blitsig.  Sommige van hulle handhaaf ‘n spoed van byna 300 km/h.  Binne is hulle silwerskoon en stil.  Meeste Japanese verkies om te slaap as hulle trein ry.  Dis ook slegte maniere om selfone te gebruik of hard te gesels as jy in die trein sit.  Wanneer ‘n trein by ‘n stasie stop is daar gewoonlik ‘n skoonmaakspan wat gou-gou eerste ingaan om alles op te ruim.  Ek het hulle ‘n paar keer dopgehou as hulle werk:  Eers staan hulle buite en buig dan almal saam vir die trein.  Dan maak hulle skoon.  Wanneer hulle uitklim, buig hulle beleefd vir die passassiers en verdwyn dan stilweg na hulle volgende skoonmaaksessie.  As ‘n inkomende trein by vertrek die stasie in die teenoorgestelde rigting verlaat, word al die sitplekke binne oomblikke outomaties omgedraai voordat die deure vir passasiers oopgemaak word.

 Tokyo het ‘n wonderlike moltreinstelsel.  Mens kan by ‘n onderaardse stasie stop en dan direk uitklim binne in yslike ondergrondse winkelsentrums.  So kan jy dus op  pad huistoe moeiteloos jou kos en klere koop.

 x-sushi-shop.jpg

Ten spyte van die stad se grootte is alles silwerskoon.  Daar is min tekens van lugbesoedeling.  Alles werk perfek.  Elke beskikbare spasie word aangewend vir ‘n funksionele doel.  Die foto hieronder wys hoe hulle ‘n snelweg gebou het op stelte, wat al langs die loop van ‘n rivier deur die stad kronkel.

x-bridge-along-river.jpg

 Tokyo het ‘n besonderse mengsel van moderne tegnologie en Japanese tradiese.  Hierdie tradisionele teehuis het ek naby die hotel afgeneem.

x-tea-house.jpg

 Die meise hieronder in haar tradisionele Japanese kimono was ‘n bruid wat een Sondag in die hotel se tuin foto’s van haar uitrusting laat neem het.

x-kimono.jpg

Vat Vyf: My Lysie

Wag-‘n-Bietjie het my getag om vyf  van my eie inskrywings te kies en die skakels hier te lys.

Ek is maar lui met die bloggery en die keuses is dus maar karig.  Maar hier gaan ons WnB:

1)  Kolkata:  ‘n Lyk in die Rivier

2)  Die Verlate Kerk

3)  ‘n Indiese Massering

4)  Kersvader: Die wiele kom af

5)  Stille Nag

Ek gaan eers nog bietjie dink oor wie ek graag wil tag oor hulle eie Gunsteling Vyf.  Dankie Wag’n Bietjie …

Oor honde

Die hartseer storie van Platterfuss se Boeshie het my laat terugdink aan al die honde in my lewe. 

Honde en ek verstaan mekaar nog altyd goed:  Van kleins af was hulle my beste vriende.  Ek het op ‘n plaas grootgeword in die Bosveld.  Tussen al ons kinders het ons gewoonlik so vyf of tien honde aangehou.  Die hele spul was altyd vreeslik gelukkig want die plaas was ‘n idilliese plek:  Groot en wyd, met ruigtes en plekke om na hartelus rond te snuffel en rond te hardloop agter allerhande wilde dierasies aan.

Ons was vyf kinders.  Elkeen van ons het so min of meer ‘n spesifieke hond gehad wat hy/sy aan hom- of  haarself toege-eien het.  Maar honde kies mos maar hulle eie base.  En op die einde van die dag het die meeste brakke altyd erg goed met my oor die weg gekom.  Hulle het hulleself wysgemaak dat ek die plaas se nommer een brakwagter was.

Oor die jare het ek verskeie gunstelinghonde gehad.  Honde leef mos nie vir ewig nie.  Party het hulle lewens heldhaftig opgeoffer in gevegte met rinkhalse of boomslange.  Een van ons Boksers het op ‘n warm somersdag aan ‘n hartaanval beswyk.   My suster se een hond het in ‘n karongeluk gesneuwel.  Ten spyte van al hierdie tragedies was  daar met die heengaan van elke hond tog weldra ‘n ander wat die leemte in my hart kom vul het.

 My gunstelinghond uit daardie goue kinderdae op die plaas was ou Brutus.  Hy was nie vreeslik groot nie.  Kort, krommerige beentjies en ‘n stewige lyf.  Hy was pikswart, behalwe vir ‘n wit kol op die bors en ‘n vlek op een van sy voorpote.  Brutus se herkoms was, moet ek bieg, niks om oor huistoe te skryf nie.  Hy was eintlik familie van al die honde wat ons al ooit op die plaas gehad het:  Bietjie Bokser, bietjie Rifrug, bietjie Boerboel en bietjie Skipper.  Maar dit was ‘n wenkombinasie.  Brutus was ‘n hond met ‘n hart van goud en hy het nie ‘n bang haar op sy lyf gehad nie.  En ek en Brutus was die beste pelle. 

Ek het dikwels as jong seun in die laat middae die .22 oor my skouer gehang en dan gesorg dat ek en Brutus die ander honde uitoorlê en stilweg alleen uit die huis verdwyn veld toe, na die sonneblomlande se kant toe waar daar gewoonlik tarentale was waarop mens kon jag maak.

Brutus het skoon bewerasies gekry van opgewondenheid wanneer ek die geweer uit die kluis gaan haal.  Sy bosmaniere was goed: Hy het nooit sommer weggehardloop agter die veld se koedoes, bosbokke of vlakvarke aan nie.  Nee wat.  Hy het gesorg dat hy altyd net ‘n paar tree voor my was.  Wanneer hy iets in die ruigtes gewaar het, het hy doodstil gaan staan,  sy ore gespits en sy een voorpoot in die lug opgetel en dan vir my gewag sodat ons saam die ding kon waarneem wat hy gesien het.   

Ek dink hy en ek was ewe lief vir die bos.  Saam het ons die skemeraande se koel geur van grassade en klam grond ingeasem.  Saam was ons tevrede om, wanneer die son aan die einde van ‘n warm dag agter die koppies wegsink, in stilte te luister hoe roep die tarentale mekaar by hulle slaapplekke in die hoë doringbome langs die rivier.  Soms het hy vir ure net stil langs my gesit op die kruin van een van die plaas se klipkoppies en saam met my oor die vallei uitgetuur. As ons gelukkig was het ons dan koedoes in die voetpaadjies sien verbystap, of ‘n partykeer ‘n bosbok tussen die olienhoutbosse sien roer.       

 Dit was lekker dae. 

Maar alle goeie dinge kom tot ‘n einde.  Na skool het ek gaan studeer en met ‘n swaar hart van die plaas afskeid geneem en stad toe getrek.  Brutus het my vreeslik gemis.  Ek onthou nog hoe hy my nie uit die oog uit wou laat gaan tydens my eerste universiteitsvakansie terug op die plaas nie.  Toe dit tyd was om weer te groet, het hy vasberade agter my kar aangehardloop, so vinnig as wat sy kort bene hom kon dra, tot by die plaashek wat sowat twee kilometer van die opstal af weg was.  Dit was erg swaar om my arme hond so alleen in die stofwolk te moes agterlaat.

Soos dinge maar gaan, het ou Brutus se lewe ook later tot ‘n einde gekom.  Ek was daardie dag nie op die plaas nie.  Die details van sy heengaan sal ek julle spaar.  Wat meer belangrik is, is dat hy ook net soos al ons ander getroue ou honde ‘n spesiale finale rusplek gevind het langs die groot grasperk agter die plaashuis waar my ma se tuin teen die leivoor ge-eindig het.  Van daar af het mens ‘n mooi wye uitsig oor die landerye na die rivier se kant toe, en dan nog verder aan, tot waar die ruigtes en die koppies een word met die somerlug se blou.