Die hartseer storie van Platterfuss se Boeshie het my laat terugdink aan al die honde in my lewe.
Honde en ek verstaan mekaar nog altyd goed: Van kleins af was hulle my beste vriende. Ek het op ‘n plaas grootgeword in die Bosveld. Tussen al ons kinders het ons gewoonlik so vyf of tien honde aangehou. Die hele spul was altyd vreeslik gelukkig want die plaas was ‘n idilliese plek: Groot en wyd, met ruigtes en plekke om na hartelus rond te snuffel en rond te hardloop agter allerhande wilde dierasies aan.
Ons was vyf kinders. Elkeen van ons het so min of meer ‘n spesifieke hond gehad wat hy/sy aan hom- of haarself toege-eien het. Maar honde kies mos maar hulle eie base. En op die einde van die dag het die meeste brakke altyd erg goed met my oor die weg gekom. Hulle het hulleself wysgemaak dat ek die plaas se nommer een brakwagter was.
Oor die jare het ek verskeie gunstelinghonde gehad. Honde leef mos nie vir ewig nie. Party het hulle lewens heldhaftig opgeoffer in gevegte met rinkhalse of boomslange. Een van ons Boksers het op ‘n warm somersdag aan ‘n hartaanval beswyk. My suster se een hond het in ‘n karongeluk gesneuwel. Ten spyte van al hierdie tragedies was daar met die heengaan van elke hond tog weldra ‘n ander wat die leemte in my hart kom vul het.
My gunstelinghond uit daardie goue kinderdae op die plaas was ou Brutus. Hy was nie vreeslik groot nie. Kort, krommerige beentjies en ‘n stewige lyf. Hy was pikswart, behalwe vir ‘n wit kol op die bors en ‘n vlek op een van sy voorpote. Brutus se herkoms was, moet ek bieg, niks om oor huistoe te skryf nie. Hy was eintlik familie van al die honde wat ons al ooit op die plaas gehad het: Bietjie Bokser, bietjie Rifrug, bietjie Boerboel en bietjie Skipper. Maar dit was ‘n wenkombinasie. Brutus was ‘n hond met ‘n hart van goud en hy het nie ‘n bang haar op sy lyf gehad nie. En ek en Brutus was die beste pelle.
Ek het dikwels as jong seun in die laat middae die .22 oor my skouer gehang en dan gesorg dat ek en Brutus die ander honde uitoorlê en stilweg alleen uit die huis verdwyn veld toe, na die sonneblomlande se kant toe waar daar gewoonlik tarentale was waarop mens kon jag maak.
Brutus het skoon bewerasies gekry van opgewondenheid wanneer ek die geweer uit die kluis gaan haal. Sy bosmaniere was goed: Hy het nooit sommer weggehardloop agter die veld se koedoes, bosbokke of vlakvarke aan nie. Nee wat. Hy het gesorg dat hy altyd net ‘n paar tree voor my was. Wanneer hy iets in die ruigtes gewaar het, het hy doodstil gaan staan, sy ore gespits en sy een voorpoot in die lug opgetel en dan vir my gewag sodat ons saam die ding kon waarneem wat hy gesien het.
Ek dink hy en ek was ewe lief vir die bos. Saam het ons die skemeraande se koel geur van grassade en klam grond ingeasem. Saam was ons tevrede om, wanneer die son aan die einde van ‘n warm dag agter die koppies wegsink, in stilte te luister hoe roep die tarentale mekaar by hulle slaapplekke in die hoë doringbome langs die rivier. Soms het hy vir ure net stil langs my gesit op die kruin van een van die plaas se klipkoppies en saam met my oor die vallei uitgetuur. As ons gelukkig was het ons dan koedoes in die voetpaadjies sien verbystap, of ‘n partykeer ‘n bosbok tussen die olienhoutbosse sien roer.
Dit was lekker dae.
Maar alle goeie dinge kom tot ‘n einde. Na skool het ek gaan studeer en met ‘n swaar hart van die plaas afskeid geneem en stad toe getrek. Brutus het my vreeslik gemis. Ek onthou nog hoe hy my nie uit die oog uit wou laat gaan tydens my eerste universiteitsvakansie terug op die plaas nie. Toe dit tyd was om weer te groet, het hy vasberade agter my kar aangehardloop, so vinnig as wat sy kort bene hom kon dra, tot by die plaashek wat sowat twee kilometer van die opstal af weg was. Dit was erg swaar om my arme hond so alleen in die stofwolk te moes agterlaat.
Soos dinge maar gaan, het ou Brutus se lewe ook later tot ‘n einde gekom. Ek was daardie dag nie op die plaas nie. Die details van sy heengaan sal ek julle spaar. Wat meer belangrik is, is dat hy ook net soos al ons ander getroue ou honde ‘n spesiale finale rusplek gevind het langs die groot grasperk agter die plaashuis waar my ma se tuin teen die leivoor ge-eindig het. Van daar af het mens ‘n mooi wye uitsig oor die landerye na die rivier se kant toe, en dan nog verder aan, tot waar die ruigtes en die koppies een word met die somerlug se blou.
Kommentaar