Die huislike geur van vars koffie op die stoof het reeds ‘n handvol jare gelede tesame met die laaste klank van kinderstemme deur die swart holtes van jou uitgerukte vensters oor die vlakte weggewaai.
Snags, in die glans van die koue maan, staan jou witgekalkte mure nou alleen, verwese. Die wind vind dan sy pad oor die yl stoppels op die uitgewerkte lande en kom speel ‘n sinlose deuntjie met jou lendelam deure aan hul krakende skarniere.
Jou enigste geselskap is die uile wat soms skuiling vind in die kappe van jou geroeste dak.
Vir geen siel is jy meer ‘n vaste tuiste nie, behalwe vir ’n onversorgde langhaarhond wat elke dag nog teen skemer in die voetpad van die statte se kant af nader draf en aan die voordeur kom snuif. Hy wag dan ‘n rukkie by die hek voordat hy weer, as dit donker is, stil en mank-mank in die vaal gras verdwyn.

Jy laat my verlang na plekke wat ek nie ken nie….
I like….
Hierdie maak my Sondag so blou, so blou. Ek verlang na my ouma se gebrande koffiebone reuk uit die plaas kombuis en oupa se waterblommetjie bredie. Ai ai!
Dit is ongelooflik mooi geskryf!! Sulke ou vervalle plaashuise hou vir my ‘n vreemde bekoring in… Ons kom gereeld op ‘n wildsplaas waar daar nog so ‘n ou murasie staan - ek het al hordes foto’s van die ou huis geneem! Ek wonder altyd oor die mense wat daar gebly het…
Koot, dis goed gedoen! Regtig.
Naais
Baie goed geskryf, ek sien al die hond en die verlange in sy oë.. Of is dit nou in my oë..!
Mooi geskryf. Gaan dit vir my skoonfidamilie wys. Elke jaar as ons op gaan vir die winter kuier, dan maak ons ‘n draai by die ou murasie plaashuis en elke jaar moet ek dieselfde stories hoor, maar ek verstaan. Hulle heg groot sentiment en nostalgie aan die ou vervalle gebou al is dit vir my net ‘n murasie. Selfs die bome om die huis het ‘n storie.
Regtig baie mooi geskryf.
tussen brazilie en Japan hoop ek om jou eendag raak te loop en oor ‘n glas wyn of so te gesels oor jou siel foto’s
Sjoe, sonder om vervelig te klink, dis werklik baie mooi geskryf. Jy het my weer eens vandag weggevoer. . . My hart is half seer om weg te stap. . . Dit voel of ek later spyt gaan wees omdat ek nie vir ‘n laaste keer deur die gange van sy hart gestap het nie. Ek hoef net my oë toe te maak om die kamers vol herinneringe en geluk wat eens daarbinne was, maar nou vir altyd verby is, te voel. . .
Dis hartseer dat mens aan niks vir áltyd kan vashou nie, dat alles ‘n tyd van kom en gaan het, nê? Jinne tog, miskien was vandag nie ‘n goeie dag om kommentaar te lewer nie. . .
Kyker, wat ek eintlik ook nog wou sê: Moet tog nooit ophou skryf nie. Jy het so baie talent! Nie net as skrywer en digter nie, maar ook as fotograaf. Jou geliefdes kan met reg baie trots wees op jou.
Aan almal wat van julle laat hoor het oor die plaashuisfoto: Baie dankie. Uit julle kommentaar kom ek agter dat baie van julle ook murasiestories het om te vertel …
Daar is nog ‘n klompie ander waarvan ek weet, wat almal nou verlate staan in die omgewing waar ek grootgeword het. Ek wil hulle nog gaan afneem as ek ‘n kansie kry.
Een spesifike murasie is die bouval van my oupa se huis op ons ou familieplaas. Hierdie pragtige en besonderse plek het een nag, jare gelede, tot op die grond afgebrand. Die huis was vol van onvervangbare kosbaarhede wat my grootouers oor ‘n leeftyd bymekaargemaak het. Miskien moet ek die storie ook op die blog sit.