Lindau is ‘n klein eiland in die Bodensee (Lake Constance) in die Bavariaprovinsie van Duitsland. In die geskiedenisboeke is daar reeds in die jaar 882 melding gemaak van ‘n nonneklooster wat hier gevestig is.
Tans beloop die inwonertal sowat 24,000 mense. Toerisme is die hoofbron van inkomste.
Dis inderdaad ‘n pragtige dorpie, met hotelle en restaurante wat styf in die nou straatjies teenmekaar inpas tussen oulike winkels en huisies.
Elke inwoner doen sy deel om Lindau altyd pragtig te laat lyk en tydens die somer pryk daar blomme voor elke venster.
‘n Kenmerk van Lindau is die beskilderde mure van baie van sy geboue. Dit gee die dorpie ‘n unieke karakter.
Die eiland het ‘n klein hawe, kompleet met sy eie vuurtoring. Die ingang word bewaak deur ‘n groot standbeeld van ‘n leeu.
Friedrichshafen is die naaste dorp van hier af en kan binne dertig minute per ferrie bereik word. Dis is die plek waar Zepplin lugskepe, soos die Hindenburg, jare gelede gebou is. Daar is vandag ‘n Zepplinmuseum op die dorp. Mens kan daar by ‘n volskaalse replika van ‘n lugskip gaan inklim en sien hoe die passassierskajuite en eetsaal gelyk het. Dis wonderlik om te sien met hoeveel vernuf die Duitsers destyds alles so lig as moontlik ontwerp het, sonder om aan die estetiese of aan gerief prys te gee.
Die omgewing rondom die Bodensee, met sy wingerde en mooi uitsigte oor die meer, is vir my van die mees skilderagtigste in Duitsland. Inderdaad ‘n lekker plek om te gaan vakansie hou.
• • •









Kommentaar