Archive for March, 2008

Lindau op die Bodensee

xx-lindau-from-air.jpg 

Lindau is ‘n klein eiland in die Bodensee (Lake Constance) in die Bavariaprovinsie van Duitsland.  In die geskiedenisboeke is daar reeds in die jaar 882 melding gemaak van ‘n nonneklooster wat hier gevestig is. 

Tans beloop die inwonertal sowat 24,000 mense.  Toerisme is die hoofbron van inkomste. 

xx-3-shop.jpg

Dis inderdaad ‘n pragtige dorpie, met hotelle en restaurante wat styf in die nou straatjies teenmekaar inpas tussen oulike winkels en huisies.   

xx2-house-with-tower.jpg

Elke inwoner doen sy deel om Lindau altyd pragtig te laat lyk en tydens die somer pryk daar blomme voor elke venster. 

x-small-house-flowers.jpg

‘n Kenmerk van Lindau is die beskilderde mure van baie van sy geboue.  Dit gee die dorpie ‘n unieke karakter.

xx3-painted-walls.jpg    

Die eiland het ‘n klein hawe, kompleet met sy eie vuurtoring.  Die ingang word bewaak deur ‘n groot standbeeld van ‘n leeu. 

xx56-harbor-entrance.jpg

Friedrichshafen is die naaste dorp van hier af en kan binne dertig minute per ferrie bereik word.  Dis is die plek waar Zepplin lugskepe, soos die Hindenburg, jare gelede gebou is.  Daar is vandag ‘n Zepplinmuseum op die dorp.  Mens kan daar by ‘n volskaalse replika van ‘n lugskip gaan inklim en sien hoe die passassierskajuite en eetsaal gelyk het.  Dis wonderlik om te sien met hoeveel vernuf die Duitsers destyds alles so lig as moontlik ontwerp het, sonder om aan die estetiese of aan gerief prys te gee.   

Die omgewing rondom die Bodensee, met sy wingerde en mooi uitsigte oor die meer, is vir my van die mees skilderagtigste in Duitsland.  Inderdaad ‘n lekker plek om te gaan vakansie hou. 

 xx7-bodensee-and-vines.jpg

•   •   •

 

Die trein na Vaalwater

 x-loco-sepia-flat.jpg

Die bosveldplaas waar ek grootgeword het, het aan sy westekant aan ‘n treinspoor gegrens.  Dit was nie ‘n besige lyn nie:  In die ou dae het daar een keer per dag ‘n trein hier verbygestoom vanaf Nylstroom na Vaalwater. Die spoorlyn het sowat een kilometer van die plaashuis af verby geloop.  Klokslag elke oggend so skuins na vyf het die trein met ‘n geblaas en ‘n gesis teen die bult op verbygekruie, onder ‘n wolk van stoom en steenkoolrook.  By die padkruising het die drywer dan die fluit getrek totdat die laaste wa die pad oorgesteek het.  Agter die lokomotief en waterkar was daar gewoonlik ‘n paar waens vol beeste aangehaak, of tenks met dieselbrandstof.  Ná hulle het daar dan so een of twee passasierswaens gevolg, met die kondukteurswa heel agter aan. Wanneer die vrag besonder swaar was, is daar twee lokomotiewe ingespan om te help trek. 

Toe ek nog sommer ‘n klein tjokkertjie was, was daar ‘n ruk lank ‘n vreeslike droogte in die land.  Dit was so erg dat daar nie genoeg water in die dorp beskikbaar was om die loko’s vol te maak nie.  Die Spoorweë het toe met my pa onderhandel om van ons boorgatwater op die plaas vir die treine te gebruik.  Soggens vroeg het die trein dus eers naby ons huis gestop waar die spoorlyn deur die bloekombos gesny het, om water aan te vul.  My pa het my dikwels op sy nek getel en afgestap spoor toe, om daar met die drywer en stoker te gaan blad skud en te kyk hoe die duisende liters water in die dors ou trein se ingewande verdwyn. Die  drywer was ‘n lang, seningrige man.  Hy het ‘n spoorwegkeps gedra en daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig.  Hy en die stoker was erg trots op hulle yslike masjien en het my soms toegelaat om die fluit se tou te trek.  Wanneer die watertenk vol was het die stoker eers nog ‘n ekstra klomp grawe vol steenkool voor by die ketel ingeskiet.  Dan het die ou trein stadig en met ‘n onaardse lawaai aan die gang gekom en die waens het een vir een, al hoe vinniger, verbygekom. 

Gedurende die wintermaande moes die boere langs die spoorlyn altyd op hulle hoede wees, net ingeval ‘n kooltjie uit die verbygaande trein se skoorsteen die veld aan die brand steek.  Die Spoorweë het darem ‘n brandspan op bystand gehad wat ons kom help het in tye van nood.  

Die trajek na Vaalwater word al jare lank nie meer bedryf nie.  Die twee spore wat altyd so blink getrap was, lê deesdae dof en verlate in die son, met bossies en gras wat tussen die dwarslêers deurgroei.  

Ontvlugting

  birds-over-pond-3.jpg

            

O  N  T  V  L  U  G  T  I  N  G

      

Sprei jou vlerke wyd en val af in die gewigloosheid.

Kom reis dan saam met my in moeitelose vlug

Op ‘n geruislose baan deur die oop verlatenheid,

Skouer aan skouer, om saam die wind se las te keer.

Kom kies koers na ons versteekte plekke van vrede en rus,

Net ek en jy, saam toegevou in die hemel se sagte blou.

          

Sprei jou vlerke wyd en sweef dan hoog op in die wind.

Breek jou bande met die las van ons aardse bestaan

En verwonder jou dan in stilte saam met my

Aan die hartseer skoonheid wat oorbly in alles,

Wanneer ons van ver af, onbetrokke

Kan afkyk na die merkers op ons lewenspad.