O N T V L U G T I N G
Sprei jou vlerke wyd en val af in die gewigloosheid.
Kom reis dan saam met my in moeitelose vlug
Op ‘n geruislose baan deur die oop verlatenheid,
Skouer aan skouer, om saam die wind se las te keer.
Kom kies koers na ons versteekte plekke van vrede en rus,
Net ek en jy, saam toegevou in die hemel se sagte blou.
• • •
Sprei jou vlerke wyd en sweef dan hoog op in die wind.
Breek jou bande met die las van ons aardse bestaan
En verwonder jou dan in stilte saam met my
Aan die hartseer skoonheid wat oorbly in alles,
Wanneer ons van ver af, onbetrokke
Kan afkyk na die merkers op ons lewenspad.
• • •

Sjoe, hierdie is verskriklik mooi, Kyker!
Baie mooi!!
Dankie Sonnie en Kvk dat julle so gereeld kom inloer. Ek het die foto van die drie reiers iewers op die web raakgeloop. Dit is ‘n besonderse mooi prentjie, nie waar nie.
Die merkers op ons lewenspad…
Soms is my merkers te seer om na te kyk, ander kere weer te mooi. Maar as ek werklik daaroor besin, is AL die merkers op my lewenspad ménse. Die mense in my lewe mérk my.
Wat is jóú merkers, Kyker?
K
Hi Karin.
My merkers? Meesal ook mense ja. Ek het al soveel wonderlike mense ontmoet en leer ken, soms op die raarste plekke en onder ongewone omstandighede. En van hulle het ook merkers op my pad geword…
Daar is ook ander merkers langs my pad ingekap. Party staan nou daar as gevolg van dinge wat met my gebeur het. Die harde kant van die lewe los mos maar soms op ons almal ‘n blywende merk.
Ander, mooi merkers het te doen met die pragtige plekke wat ek soms sien in die wereld. Hulle inspireer my en laat my dan weer met nuwe oe die mooi in die lewe sien.
Kyker …..
Jy neem ons altyd op ‘n sielereis na…..erens….waar ons ongebonde kan terugkyk na die gebeure in ons lewens….en na die wat diep spore getrap het….ons kan altyd aanhou verlang….
Ek wens ek kon dit so mooi bewoord…klink soos borrels of soos hulle hier se…schuimwijn - prettig op die tong en ‘n smaak sensasie na benede. Dankie! R
Dankie Daisy. Ja-nee. Ek het soms ‘n behoefte om net weg te kom van alles af, en dinge vanuit ‘n ander hoek weer raak te sien.
Welkom hier Riana. Dankie vir jou verfrissende kommentaar.
Gee my die adres van jou ontvlugting, waar hemel en aarde weer saambind, want vir my het dinge deurmekaar geneuk.
Gee my die adres van jou ontvlugting, waar ek my binnekant weer skoon kan kry, van ‘n verlange na ‘n vier seisoene kind.
Gee my die adres van jou ontvlugting, waar ek weer vryheid kan inasem, en vergeet van onuitgesproke smart.
Kyker: Jou mooi gedig wens dat ek vanaand iemand het om by swak te wees…
Dankie vir jou inloer Shon. Ai, wat kan mens tog sE. Miskien is jou adres van ontvlugting in die herinneringe van die verlede. Miskien is jou ontvlugting eintlik naby jou, opgesluit in die mense naaste aan jouself. Of miskien le dit in die hoop dat jou versugtinge wel eendag waar sal kan word.
Moenie moed opgee nie. Sterkte…
Kyker:
Op ‘n stadium moes Ding oor sy bladsy123 geskryf het. Hy het o.a. die volgende sin uit André P Brink se boek “Voor ek Vergeet” aangehaal: “Ons het nooit die verhouding verbreek nie, ons het net nie daarmee aangehou nie.”
Iets soortgelyks het met my gebeur… Ek weet waar my ontvlugting is, ek is oukei en ek weet ek sal oorleef. Dis maar net jou pragtige gedig wat my laat wens het dat ek net vir een aand swak kan wees (by iemand wat weet en verstaan). Dis nie altyd maklik om sterk te bly nie, om altyd ‘n masker te dra nie.
Sjon… soos altyd
Dis vreeslik mooi. En dit praat met my hart vandag. Dankie.
Dankie Dellie. Ek is bly dat dit vir jou iets beteken.
Hierdie inskrywing van jou is deur my genomineer. Jy is ook getag met huiswerk, gaan lees hier:
http://wagnbietjie.wordpress.com/2008/03/20/tydskrif-projek-drie-van-die-bestes/
Jou gedig is pragtig en lê my baie na aan die hart. . . En ja, die foto is baie besonders. Elke keer wat ek voëls so sien vlieg kan ek nie help om vir ‘n oomblik stil te word en sommer net oor alles in my lewe te wonder nie. . .
Lekker Paasnaweek vir jou en jou gesin.
Gits. Dankie WnB. Lekker naweek daar vir jou ook. Veilig reis as julle op die pad gaan.