Die trein na Vaalwater

 x-loco-sepia-flat.jpg

Die bosveldplaas waar ek grootgeword het, het aan sy westekant aan ‘n treinspoor gegrens.  Dit was nie ‘n besige lyn nie:  In die ou dae het daar een keer per dag ‘n trein hier verbygestoom vanaf Nylstroom na Vaalwater. Die spoorlyn het sowat een kilometer van die plaashuis af verby geloop.  Klokslag elke oggend so skuins na vyf het die trein met ‘n geblaas en ‘n gesis teen die bult op verbygekruie, onder ‘n wolk van stoom en steenkoolrook.  By die padkruising het die drywer dan die fluit getrek totdat die laaste wa die pad oorgesteek het.  Agter die lokomotief en waterkar was daar gewoonlik ‘n paar waens vol beeste aangehaak, of tenks met dieselbrandstof.  Ná hulle het daar dan so een of twee passasierswaens gevolg, met die kondukteurswa heel agter aan. Wanneer die vrag besonder swaar was, is daar twee lokomotiewe ingespan om te help trek. 

Toe ek nog sommer ‘n klein tjokkertjie was, was daar ‘n ruk lank ‘n vreeslike droogte in die land.  Dit was so erg dat daar nie genoeg water in die dorp beskikbaar was om die loko’s vol te maak nie.  Die Spoorweë het toe met my pa onderhandel om van ons boorgatwater op die plaas vir die treine te gebruik.  Soggens vroeg het die trein dus eers naby ons huis gestop waar die spoorlyn deur die bloekombos gesny het, om water aan te vul.  My pa het my dikwels op sy nek getel en afgestap spoor toe, om daar met die drywer en stoker te gaan blad skud en te kyk hoe die duisende liters water in die dors ou trein se ingewande verdwyn. Die  drywer was ‘n lang, seningrige man.  Hy het ‘n spoorwegkeps gedra en daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig.  Hy en die stoker was erg trots op hulle yslike masjien en het my soms toegelaat om die fluit se tou te trek.  Wanneer die watertenk vol was het die stoker eers nog ‘n ekstra klomp grawe vol steenkool voor by die ketel ingeskiet.  Dan het die ou trein stadig en met ‘n onaardse lawaai aan die gang gekom en die waens het een vir een, al hoe vinniger, verbygekom. 

Gedurende die wintermaande moes die boere langs die spoorlyn altyd op hulle hoede wees, net ingeval ‘n kooltjie uit die verbygaande trein se skoorsteen die veld aan die brand steek.  Die Spoorweë het darem ‘n brandspan op bystand gehad wat ons kom help het in tye van nood.  

Die trajek na Vaalwater word al jare lank nie meer bedryf nie.  Die twee spore wat altyd so blink getrap was, lê deesdae dof en verlate in die son, met bossies en gras wat tussen die dwarslêers deurgroei.  

9 Responses to “Die trein na Vaalwater”


  1. 1 mnr.muller March 16, 2008 at 2:14 pm

    goeie heimskrywing. dis jammer dat die ou stoomlokomotiewe so spoorloos verdwyn het.

  2. 2 boendoe March 16, 2008 at 2:40 pm

    Ek het twee ooms in daardie geweste gehad. Jy laat my verlang na die kuiertyd wat ons daar deurgebring het.

  3. 3 netjane March 16, 2008 at 3:30 pm

    Ek ken daai spoor (of ten minste een soos hy!), my tannie-hulle boer daar rond.

  4. 4 wag-ʼn-bietjie March 16, 2008 at 3:41 pm

    Dis amazing met hoeveel passie jy oor dinge in die lewe kan skryf. Jou hele hart is in jou woorde as jy van die plaas praat. (Jy moet tog by LitNet ‘n draai gaan maak, hulle het tans ‘n Wegbreek/Reisstorie-kompetisie, die tema van die maand is: Hoe onthou ek kleintyd op die plaas?) My pa het my ook graag op sy skouers gedra, hy was ‘n baie lang man, dit was elke keer ‘n lekkerstresvollelekker ondervinding. Ai tog. . .

  5. 5 kyker March 17, 2008 at 11:01 am

    Dankie vir almal se inloer. Gits, lyk my al ons bloggers het familie in die Bosveld. Of het ons almal familie wat iewers langs die treinspoor bly? Hehehe.

    Dankie WnB vir jou voorstel. Ek dink egter ek moet liewer by my bloggery hou dankie tog. Ek is heeltemal tevrede met die paar mense wat wel soms hier my goeters kom lees.

  6. 6 Daisy March 18, 2008 at 11:23 am

    Die vertellings van jou kinderdae laat mens tog altyd terugverlang na jou eie….dan klim ons op ons eie treine na ver velange jare…ons sien uit na die volgende verhaal…kykie in jou herkoms

  7. 7 Nikita May 28, 2008 at 10:59 pm

    Pragtige foto’s!

  8. 8 kyker May 29, 2008 at 5:48 am

    Dankie vir die inloer Nikita. Jinne, ek is bly ek het op jou blog afgekom. Daar is sommer hope interessante en mooi dinge oor ons land by jou adres om na te kyk.

  9. 9 Nikita May 29, 2008 at 6:45 pm

    ;) Jy’s welkom! Die skaakspelers waar ek aanlyn skaakspeel (van ander lande natuurlik)…vrek oor ek so ‘n passion vir SA het…maar hoe dan anders, ons land is net te mooi teenoor ander plekke in die wereld! ek het ‘n hele paar links met video-skyfies…jy moet net Swadini/Drakensberge/South Africa…in die search sit…of vir my skree en ek gee jou die links… ;)

Leave a Reply