Hierdie tweespoorpaadjie vat my, so een keer per jaar, na ’n versteekte rusplek in die bos. Ver weg van die stad se lawaai en dolle gejaag. Daar is nie selfoon-ontvangs nie. Niks TV nie en g’n radio nie. Net ’n goed ingerigte, eenvoudige ruskamp onder die skaduwee van ’n paar groot mopanibome.
Met sononder kan jy kyk hoe die wild na die watergat toe kom. Soms is daar olifante. Of leeus. En die enigste ding tussen jou en die wilde natuur is die kamp se mankoliekerige elektriese heining wat met sonpanele en batterye werk.
Ek hou van die voëls se gesels in die bome, van vroegdag af. Ek hou van die leeus se gebrul teen skemer. En die hienas se misterieuse gekla in die koue van die nag. Ek hou van die oggenddou op die gras en die silwer spinnerakkies wat tussen die boomtakke hang.
Mens kuier saans tot laat om die vuur. Dis lekker om net so stil op ’n sagte stoel naby die kole te sit. As jy opkyk hang die hemel vol van die blinkste sterre.
Soggens is ek gewoonlik vroeg op. Daardie eerste koppie koffie en beskuit, net so voor sonop, is darem lekker verby.
• • •










Kommentaar