Archive for April, 2008

My plekkie in die bos

 

Hierdie tweespoorpaadjie vat my, so een keer per jaar, na ’n versteekte rusplek in die bos.  Ver weg van die stad se lawaai en dolle gejaag.  Daar is nie selfoon-ontvangs nie.  Niks TV nie en g’n radio nie.  Net ’n goed ingerigte, eenvoudige ruskamp onder die skaduwee van ’n paar groot mopanibome.

 

 

 

Met sononder kan jy kyk hoe die wild na die watergat toe kom.  Soms is daar olifante.  Of leeus.  En die enigste ding tussen jou en die wilde natuur is die kamp se mankoliekerige elektriese heining wat met sonpanele en batterye werk.

 

 

 

Ek hou van die voëls se gesels in die bome, van vroegdag af.  Ek hou van die leeus se gebrul teen skemer.  En die hienas se misterieuse gekla in die koue van die nag.  Ek hou van die oggenddou op die gras en die silwer spinnerakkies wat tussen die boomtakke hang.

 

 

Mens kuier saans tot laat om die vuur.  Dis lekker om net so stil op ’n sagte stoel naby die kole te sit.  As jy opkyk hang die hemel vol van die blinkste sterre.

 

Soggens is ek gewoonlik vroeg op.  Daardie eerste koppie koffie en beskuit, net so voor sonop, is darem lekker verby.

 

 

 

     

Hoe mense berge versit

 

 

Die wêreldwye vraag na grondstowwe soos steenkool, koper en ystererts beleef tans ’n ongekende bloeitydperk, hoofsaaklik gedryf deur China se vinnige ekonomiese ontwikkeling.  Minerale kom dikwels vanaf yslike oopgroefmyne, soos byvoorbeeld Escondida in Chile, waarvan ek ’n foto hieronder plaas.

 

 

 

Myne soos hierdie is interessante plekke.  Díe spesifieke myn verskuif byvoorbeeld meer as een miljoen ton materiaal per dag met die hulp van 150 yslike groot vragwaens soos die een in die boonste foto.  (Kyk bietjie na die myn foto:  Die kringetjie omsirkel drie van hierdie groot trokke doer onder in die gat.)

 

By Escondida bevat elke ton grond wat verskuif word, slegs 1.5% koper.  Die ander 98.5% is afvalgrond wat op groot hope gestort word.  Maar die myn maak nog steeds geld soos bossies:  Hulle verwag om hierdie jaar sowat R75 duisend miljoen (dis reg ja) se koper uit hierdie enkele gat uit die grond uit te haal.  Daar is genoeg reserwes vir nog ten minste ’n verdere 25 jaar.

  

 

 

Alles op die myn is groot:  Die trokke en ook die laaitoerusting wat hulle volgooi. Die erts word in ’n aanleg verwerk waar die koper met behulp van allerhande slim chemiese prosesse uit die stowwerige grond herwin word.

 

 

Alhoewel veiligheidstandaarde op alle groot myne deesdae baie hoog is, loop dinge soms wel nog skeef.  Hieronder kan gesien word wat gebeur met ’n Nissan bakkie wanneer een van die myn se vragwaens oor hom ry.  (In hierdie spesifieke geval was die bestuurder gelukkig:  Die vragwa se wiel het net die passasiersitplek langs hom platgetrap.)

 

 

Eish…