My plekkie in die bos

 

Hierdie tweespoorpaadjie vat my, so een keer per jaar, na ’n versteekte rusplek in die bos.  Ver weg van die stad se lawaai en dolle gejaag.  Daar is nie selfoon-ontvangs nie.  Niks TV nie en g’n radio nie.  Net ’n goed ingerigte, eenvoudige ruskamp onder die skaduwee van ’n paar groot mopanibome.

 

 

 

Met sononder kan jy kyk hoe die wild na die watergat toe kom.  Soms is daar olifante.  Of leeus.  En die enigste ding tussen jou en die wilde natuur is die kamp se mankoliekerige elektriese heining wat met sonpanele en batterye werk.

 

 

 

Ek hou van die voëls se gesels in die bome, van vroegdag af.  Ek hou van die leeus se gebrul teen skemer.  En die hienas se misterieuse gekla in die koue van die nag.  Ek hou van die oggenddou op die gras en die silwer spinnerakkies wat tussen die boomtakke hang.

 

 

Mens kuier saans tot laat om die vuur.  Dis lekker om net so stil op ’n sagte stoel naby die kole te sit.  As jy opkyk hang die hemel vol van die blinkste sterre.

 

Soggens is ek gewoonlik vroeg op.  Daardie eerste koppie koffie en beskuit, net so voor sonop, is darem lekker verby.

 

 

 

     

7 Responses to “My plekkie in die bos”


  1. 1 Wipneus! April 29, 2008 at 5:47 am

    So wegbreek - ver weg van al die lawaai en gejaag is hemels? Jy beskryf dit so mooi! Pragtige foto’s.

  2. 2 boerinballingskap April 29, 2008 at 1:26 pm

    …laat jy my darem nou vreeslik verlang na die Bosveld!

  3. 3 kyker April 29, 2008 at 7:40 pm

    Dankie Wipneus en Boer dat julle kom inloer het. Deesdae besef ekself al hoe meer hoeveel Suid Afrika se natuurskoon en oop ruimtes vir my beteken. Dis iets wat mens nerens anders gaan kry nie, al soek jy ook waar.

  4. 4 netjane April 30, 2008 at 9:27 am

    Daai eerste koppie koffie met beskuit is darem maar lekker - baie mooi wegkruipplekkie wat jy het! Lucky Fish!

    @ Wag-’n-bietjie: Jammer om oor jou broer te hoor…

  5. 5 sonkind May 1, 2008 at 8:03 pm

    Ek wens ek was jy!

  6. 6 Kaalvoetkind May 4, 2008 at 10:21 am

    Ek moét ook ten minste een keer ‘n jaar in die Bosveld kom, anders kry ek ontrekkingsimptome!! :-)

  7. 7 Daizy May 6, 2008 at 6:08 am

    Ja ‘n mens voel so na aan die natuur in die bosveld…dan kan ons weer ons pap batterye herlaai….daar is geen beter medisyne vir ‘n moee siel nie….pragtig foto’s Kyker…

Leave a Reply