Die natuurlike woude in die omgewing van Walpole en Pemberton is vir my een van die mooiste dele van die hele Wes-Australië. Hierdie gebied is ongeveer 430 km reg suid van Perth. Daar woon maar min mense in die bosse. Bosbou is en toerisme is die enigiste besigheidsaktiwiteite. Die paar dorpies in die omgewing is klein en half verlore in die koel skadu’s van die omliggende woude: In die hoofstraat is daar nie veel meer nie as ‘n vulstasie of twee, ’n paar teedrinkplekkies en winkels wat houtartikels aan toeriste verkoop. Die plaaslike inwoners is uitgehonger vir geselskap en mens knoop sommer maklik ’n gesprek aan met mense op straat.
Groot dele van die bosse is as natuurreservate verklaar, met die gevolg dat daar in sommige plekke nog yslike groot bome staan wat hopelik nooit afgekap sal word nie.
Daar is verskeie inheemse bloekomspesies in die gebied. Twee skaars boomsoorte is die ‘tingle’ en ‘karri’. Heelwat van hulle is 75m en selfs hoër.
Iewers naby Pemberton kan mens met behulp van ’n staalbrug hoog tussen die boomtoppe rondstap. Dis ’n unieke manier om die woud te ervaar: Die uitsig tussen die bome deur is asemrowend mooi. Daar heers ’n statige stilte oor alles. Al geluide wat mens hoor is die gedrup van die stuifreën op die blare en helder klanke van verskeie soorte woudvoëls.
Die aanhoudende, deurdringende reëns voed een van die mooiste riviere wat ek nog in my lewe teegekom het: Die Walpole rivier kronkel helderskoon en statig deur die groenigheid van die woude op sy pad na die see.
Plekke soos hierdie laat my altyd wonder oor die balans en die tydloosheid van die ongerepte natuur. Alles gaan sy gang, soos duisende jare reeds. Hier vind mens se siel rus in die wete dat alles gebeur volgens ’n groter plan. Hier in die woude kan mens die natuurskoon geniet en vir ‘n wyle van al die lewe se swaar vergeet.
• • •





Kyker, dis pragtig. Daai bome is iets besonders.
Dit is nou die tipe plekkie vir die aftree….
Mooi foto’s kyker en ‘n mooier uitkyk wat jy daarop het.
Jy beskryf dit so mooi, dis asof ek my oë kan toemaak en self alles beleef…
My woorde raak onverklaarbaar weg as ek hier by jou kom kuier. Dis pragtige foto’s.
Dankie Boendoe, Jasper, KvK, Dellie. Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie vir ‘n mooi boom gehad. En daar naby Pemberton is daar sommer duisende van hulle.
Bome, veral die wat hoog bokant die lug uittoring het ʼn ongelooflike sielsbevrydende uitwerking op my.
Jou foto’s en die beskrywing van jou ervaring is (magies) innig mooi