‘n Ongenaakbaar koue wind
het skielik, onverwags, die laaste goue lower
van jou slanke takke afgestroop, en daarmee saam
die soet onthou van verlede jaar se sagte somer
blaar vir blaar geskep en in die grysheid weggestrooi.
• • •
Weerloos en onbeskut leun jy teen die winterwind
om elke donker nag die greep van ryp en ys
alleen in stille foltering af te weer,
Tot wanneer die vêr en dowwe son
in die nuwe dag tog weer verligting bring.
• • •
Maar die wiel van vier seisoene draai teen sy gemete pas
en met tyd sal daar wel nog vele nuwe somers kom,
wanneer elke boom soos jy van voor af weer gedy.
Dan sal jou trotse hoogte weer langs die pad as merker dien
en jou skadu aan vriend en swerwer ‘n plek van rus voorsien.
• • •

Baie dankie Kyker, dis erg mooi!
‘vier seisoene’
‘. . . tyd . . .’
‘merker’
‘jou skadu . . . plek van rus’
REGTIG BAIE MOOI!
Ai….woorde met baie trefkrag….
Baie mooi! 2 keer gelees….
Ek kan maar net beaam….Baie Mooi!
Stunning!
Dankie vir julle almal se kommentaar. Dikwels voel mens magteloos wanneer mens net kan toekyk terwyl iemand naby aan jou seerkry. Maar miskien help woorde van ondersteuning wel tog net so bietjie.
Sjoe, dis regtig besonders mooi. Dankie dat jy dit deel.
En jinne ja, dis niks lekker om toe te kyk hoe geliefdes om jou seerkry nie, mens voel so magteloos . . .
Gits. Lekker om jou weer hier te sien Wnb. Dankie vir die inloer. Hoop dis nie die laaste keer nie.
Sterkte vir jou.
Hierdie laat my verlang na mense wat ek nie ken nie, veral op hierdie blouer as blou Sondag.
Somehow i missed the point. Probably lost in translation
Anyway … nice blog to visit.
cheers, Sequacious!!
Tjirts man! Jy is ‘n wonderlike digter!! PRAGTIG!! se moses…