My boekrak tuis is volgepak met boeke en goeters wat ek oor die jare versamel het. Party het ek in vêr plekke gekoop. Ander is spesiale geskenke van spesiale mense. Ander weer het ek sommer net langs my pad bymekaargemaak. Elke ding op my rak is vir my waardevol.
Die oudste en lelikste boek in my versameling is ’n Practical Standard Dictionary, van Funk & Wagnalls, gepubliseer in 1946. Hy val al behoorlik uitmekaar. Die rugkant is weg en van die bladsye is los.

Dis ’n lywige boek. Hy pas lekker in my rak want hy is dik en swaar genoeg om die ander boeke staande te hou. Die letters van die alfabet is aan die voorkant ingekeep, wat dit makliker maak om woorde na te slaan. Daar is 1,285 bladsye, met altesaam 2,500 illustrasies.
Die baie prentjies gee aan die boek ’n spesiale karakter. Elke nuwe bladsy het iets interessants op wat die oog dadelik vang.

Die meeste illustrasies is nie meer lekker van pas in vandag se lewe nie. Soos byvoorbeeld die ene van ‘The Automatic Telephone’ hier onder.

Daar is wel sommige van die woordomskrywings wat vir my begrippe vandag nog net so goed omskryf soos in 1946, soos byvoorbeeld die volgende:

Die ou woordeboek het aan my oorlede pa behoort. Dit het altyd iewers op sy groot houtlessenaar gelê, tussen al sy papiere. My pa was ’n man van min woorde en het amper nooit met my oor iets gesels nie. My kontak met hom het uit skaars meer bestaan as om hom te groet in die oggende en om saans gou by sy studeerkamer in te loer om hom’n goeie nagrus toe te wens. Ek het hom nooit regtig as mens geken nie, en hy my ook nie. Hy was altyd slegs aan die buitekringe van my bestaan in my lewe betrokke. Hy het my selde oor iets aangeprys. Nou en dan, wanneer ek dit verdien het, het hy my of my broers ’n goeie pak slae gegee.
Bedags was hy altyd vroeg op en was dan tot laat middag bedrywig op die lande of by die vee, of by die buitegeboue waar al die trekkers en implemente geparkeer was. Saans, na aandete, het hy gewoonlik alleen by sy lessenaar gesit en lees of radio geluister. Soms het hy tot laat in die nag briewe getik op sy grys en goed ge-oliede Olivetti timasjien. Ek onthou nog die klak-klak van die sleutels en hoe die tikmasjien se klokkie gelui het elke slag as Pa aan die einde van ’n reël kom met sy tikkery.
My pa is oorlede toe ek nog op skool was. Kort na sy dood het ek eendag deur sy lessenaar gesnuffel. Ek het die ou Funk & Wagnalls woordeboek opgetel en die omslag oopgemaak. Dis toe dat ek vir die eerste keer die getikte aanhaling sien wat my pa, seker jare vantevore al, tussen die blaaie vasgeplak het.

Hierdie ou stukkie papier het my vir die eerste keer so ’n glimpsie van my pa se siel laat sien. En dit het my laat wens dat ek en hy mekaar beter kon geken het toe hy nog gelewe het.
Pa het die volgende aanhaling op sy Olivetti opgetik en in sy woordeboek weggebêre:
The Essence of Friendship
Oh, the comfort, the inexpressible comfort of feeling safe with a person; having neither to weigh thoughts nor measure words, but to pour them all out, just as they are, chaff and grain together, knowing that a faithful hand will take them and sift them, keep what is worth keeping, and then, with the breath of kindness, blow the rest away.
Die ou woordeboek kom nou al dertig jaar lank saam met my. Al is dit verslete en al is baie van die woordomskrywings al lank al nie meer van veel nut in vandag se tye nie, sal dit altyd ’n plekkie op my boekrak hê.

Baie mooi inskrywing!
The Essence of Friendship
“Oh, the comfort, the inexpressible comfort of feeling safe with a person; having neither to weigh thoughts nor measure words, but to pour them all out, just as they are, chaff and grain together, knowing that a faithful hand will take them and sift them, keep what is worth keeping, and then, with the breath of kindness, blow the rest away.”
Ek is gelukkig om met so vriendskap geseen te wees…
Ek besit dieselfde woordeboek, maar weliswaar ‘n “nuwe” 1983 uitgawe. In my eie, beskeie opinie een van die beste woordeboeke wat bestaan.Ek gaan nerens sonder hom nie!
Dis baie kosbaar… Soos ‘n geparste blommetjie is ‘n stukkie van jou pa se siel tussen die omslae van hierdie boek vir jou ryper jare bewaar.
Dagse Plekkie, Boer en WnB. Ja wat tog, mens kan nogal geheg raak aan boeke, maak nie saak hoe oud hulle is nie.
Nice inskrywing. Ek is dol oor ‘n ou boek!! Het ook baie sulkes in my boekrak, dit gee karakter!
Jy praat my taal as dit by boeke kom. My boekrakke is die eerste wat uitgepak word as ek trek. dit laat my veilig voel. Ek het ook goedjies wat ek versamel met stories.
Die woordeboek en aanhaling is baie spesiaal.
Ek het nou heerlik hieraan gelees. dankie
Dankie Wipneus en RF. Lyk my almal van ons het boeke waarvan ons erg baie hou.
Mooi inskrywing! Daai woordeboek van jou lyk darem vir my baie interessant. Sal mens lank besig kan hou!!
Ek’s self ook mal oor boeke en veral ou boeke waarvan die blaaie al vergeel het. Soms ontdek ek weer ‘n boek in my boekrak wat ek al van vergeet het, en dan geniet ek hom weer van vooraf. Partymaal as ek my oë uitvee, lê daar al ‘n hele stapel boeke op die tafeltjie langs my bed!
Kyker, jy was te lank stil. Hierdie possie het my nou baie geraak. Dat so ou boek nog ‘n storie het om te vertel. Wonderlik.
My jinne. Dagse Boende. Dis lekker om te weet jy kom loer nog so nou en dan hier.
Mooi inskrywing! Ek het met daardie einste boek “groot” geword..en gebruik..jy het my sommer weer nou sweet memories hier in my wakker gemaak…ek het die prentjies/sketse in daardie boek altyd deurgegaan en “bewonder” as laerskool kind! as ek reg onthou is daar heelwat “tegniese” sketse oor sekere “tegniese” onderwerpe…
Jy praat met soveel deernis van ‘Hierdie ou stukkie papier’ dit het my hart skoon week gemaak. My oorlede pa het met olieverf geskilder en as ek daarna kyk wek dit dieselfde gevoel in my op. Ek wens ook dat ek hierdie sy van hom beter kon leer ken het.
Dis ‘n hartroerende verhaal, Kyker. Al het jy en jou pa mekaar nie geken nie, lyk dit tog vir my sy bloed loop dik in jou are?
Ek het hierdie skets van jou besonder baie geniet, Kyker. ‘n Mens kan sommer die gewig van die boek voel, en die reuk van die ou blaaie wanneer ‘n mens dit oopslaan, ruik. Die notatjie met die aanhaling oor vriendskap is ‘n besondere kykie in jou Pa se siel. Verhoudinge tussen ouers en hulle kinders bly maar kompleks, maar daar is seker niks kosbaarder nie, al word ‘n mens net klein deeltjies van ‘n mens se Pa of Ma se gedagtes gegun. Dankie dat ons dit saam met jou kon ervaar.
Dankie Nikita, Mefri, Kop en ook Annerkant. Ek is bly julle sien almal ook iets spesiaals in ‘n boek met ‘n storie.