Archive for the 'Gedigte' Category

Herfs

    

 

 

  

 ‘n Ongenaakbaar koue wind

het skielik, onverwags, die laaste goue lower

van jou slanke takke afgestroop, en daarmee saam

die soet onthou van verlede jaar se sagte somer

blaar vir blaar geskep en in die grysheid weggestrooi.

 •    •   

 Weerloos en onbeskut leun jy teen die winterwind

om elke donker nag die greep van ryp en ys

alleen in stille foltering af te weer,

Tot wanneer die vêr en dowwe son

in die nuwe dag tog weer verligting bring.

      •   

Maar die wiel van vier seisoene draai teen sy gemete pas

en met tyd sal daar wel nog vele nuwe somers kom,

wanneer elke boom soos jy van voor af weer gedy.

Dan sal jou trotse hoogte weer langs die pad as merker dien

en jou skadu aan vriend en swerwer ‘n plek van rus voorsien.

     •   

 

Ontvlugting

  birds-over-pond-3.jpg

            

O  N  T  V  L  U  G  T  I  N  G

      

Sprei jou vlerke wyd en val af in die gewigloosheid.

Kom reis dan saam met my in moeitelose vlug

Op ‘n geruislose baan deur die oop verlatenheid,

Skouer aan skouer, om saam die wind se las te keer.

Kom kies koers na ons versteekte plekke van vrede en rus,

Net ek en jy, saam toegevou in die hemel se sagte blou.

          

Sprei jou vlerke wyd en sweef dan hoog op in die wind.

Breek jou bande met die las van ons aardse bestaan

En verwonder jou dan in stilte saam met my

Aan die hartseer skoonheid wat oorbly in alles,

Wanneer ons van ver af, onbetrokke

Kan afkyk na die merkers op ons lewenspad. 

       

  

 

Stille nag

 stars3.jpg

S T I L L E   N A G

Wanneer ek saans laat alleen in my huisie sit

en as die buurt se pêrelstringe een vir een verdof

ál langs die some van die stad se swart riviere,

Dan bring die klanke van ‘n eens-gedeelde melodie

jou sagte oë en glimlag weer terug na my.   

    •   

In jou arms deel ek dan my hart se stilte

met die gesels van ‘n vasberade kriek,

Tot wanneer die laaste uitgewaste ster

in die bleekheid van ‘n nuwe dag

uit die wye hemel val, en sterf.

   

Onthou

moon-star.jpg 

O N T H O U 

Die vlam van onbegrensde liefde is ‘n vuur

Wat ‘n leeftyd, nie net vier seisoene duur.

Ja, van al die kosbaar skatte wat ons kan ontvang

Dra die hart van iemand anders die hoogste rang.

Dus: Wanneer stilte of afstand jou laat twyfel,

Of as jul saamwees in die mis van tyd vervaag,

Gryp dan gou die foon of stuur ‘n brief

En sê net weer opnuut: ‘Ek het jou lief.’

       

Skeiding

x-strandloper2.jpg 

*  *  *

S    K    E    I    D    I    N    G 

Draai weg van my en volg dan jou bestemde lewenspad.

Gaan gooi die die skulpies van ons geluk weer in die see.

Vergeet nou die geheime wat ons saam ontrafel het

En sluit tog dan die vensters van jou hart vir my.

Laat los my hand uit joune en weet:  Jou siel is vry.

 *  *  *

En soms, as jou oë my soek op ‘n verre horison

Sien dan liewer in die dag ‘n reënboog raak,

Of snags, die silwer glans van die blinkste ster.

Ja, vergeet elke dag ‘n bietjie meer van my

En word dan weer in jou bestaan van voor af bly. 

*  *  *

Ek sluit my hart se deur na ons kortstondige geluk

En laat val die sagte jas van jou gevoel vir my.

Ek stap nou uit na buite in ‘n dag van somber lig

En hoop dat die wind wel gou ’n laag van stof

Oor die holtes van my moeë spore sal waai.

*  *  *