Archive for the 'Los en vas' Category

‘n Storie oor ‘n boek

 

 

 

My boekrak tuis is volgepak met boeke en goeters wat ek oor die jare versamel het.  Party het ek in vêr plekke gekoop.  Ander is spesiale geskenke van spesiale mense.  Ander weer het ek sommer net langs my pad bymekaargemaak.  Elke ding op my rak is vir my waardevol.

 

Die oudste en lelikste boek in my versameling is ’n Practical Standard Dictionary, van Funk & Wagnalls, gepubliseer in 1946.  Hy val al behoorlik uitmekaar.  Die rugkant is weg en van die bladsye is los.

  

 Dis ’n lywige boek.  Hy pas lekker in my rak want hy is dik en swaar genoeg om die ander boeke staande te hou.  Die letters van die alfabet is aan die voorkant ingekeep, wat dit makliker maak om woorde na te slaan.  Daar is 1,285 bladsye, met altesaam 2,500 illustrasies.

 

Die baie prentjies gee aan die boek ’n spesiale karakter.  Elke nuwe bladsy het iets interessants op wat die oog dadelik vang.

  

  

Die meeste illustrasies is nie meer lekker van pas in vandag se lewe nie.  Soos byvoorbeeld die ene van ‘The Automatic Telephone’ hier onder.  

  

 

Daar is wel sommige van die woordomskrywings wat vir my begrippe vandag nog net so goed omskryf soos in 1946, soos byvoorbeeld die volgende:

  

  Die ou woordeboek het aan my oorlede pa behoort.  Dit het altyd iewers op sy groot  houtlessenaar gelê, tussen al sy papiere.  My pa was ’n man van min woorde en het amper nooit met my oor iets gesels nie.  My kontak met hom het uit skaars meer bestaan as om hom te groet in die oggende en om saans gou by sy studeerkamer in te loer om hom’n goeie nagrus toe te wens.  Ek het hom nooit regtig as mens geken nie, en hy my ook nie.  Hy was altyd slegs aan die buitekringe van my bestaan in my lewe betrokke.  Hy het my selde oor iets aangeprys.  Nou en dan, wanneer ek dit verdien het, het hy my of my broers ’n goeie pak slae gegee.

 

Bedags was hy altyd vroeg op en was dan tot laat middag bedrywig op die lande of by die vee, of by die buitegeboue waar al die trekkers en implemente geparkeer was.  Saans, na aandete, het hy gewoonlik alleen by sy lessenaar gesit en lees of radio geluister.  Soms het hy tot laat in die nag briewe getik op sy grys en goed ge-oliede Olivetti timasjien.  Ek onthou nog die klak-klak van die sleutels en hoe die tikmasjien se klokkie gelui het elke slag as Pa aan die einde van ’n reël kom met sy tikkery.

 

My pa is oorlede toe ek nog op skool was.  Kort na sy dood het ek eendag deur sy lessenaar gesnuffel.  Ek het die ou Funk & Wagnalls woordeboek opgetel en die omslag oopgemaak.  Dis toe dat ek vir die eerste keer die getikte aanhaling sien wat my pa, seker jare vantevore al, tussen die blaaie vasgeplak het.

  

    

 Hierdie ou stukkie papier het my vir die eerste keer so ’n glimpsie van my pa se siel laat sien.  En dit het my laat wens dat ek en hy mekaar beter kon geken het toe hy nog gelewe het.

 

Pa het die volgende aanhaling op sy Olivetti opgetik en in sy woordeboek weggebêre:  

  

The Essence of Friendship

 

Oh, the comfort, the inexpressible comfort of feeling safe with a person; having neither to weigh thoughts nor measure words, but to pour them all out, just as they are, chaff and grain together, knowing that a faithful hand will take them and sift them, keep what is worth keeping, and then, with the breath of kindness, blow the rest away.

 

Die ou woordeboek kom nou al dertig jaar lank saam met my. Al is dit verslete en al is baie van die woordomskrywings al lank al nie meer van veel nut in vandag se tye nie, sal dit altyd ’n plekkie op my boekrak hê.

 

 

Die trein na Vaalwater

 x-loco-sepia-flat.jpg

Die bosveldplaas waar ek grootgeword het, het aan sy westekant aan ‘n treinspoor gegrens.  Dit was nie ‘n besige lyn nie:  In die ou dae het daar een keer per dag ‘n trein hier verbygestoom vanaf Nylstroom na Vaalwater. Die spoorlyn het sowat een kilometer van die plaashuis af verby geloop.  Klokslag elke oggend so skuins na vyf het die trein met ‘n geblaas en ‘n gesis teen die bult op verbygekruie, onder ‘n wolk van stoom en steenkoolrook.  By die padkruising het die drywer dan die fluit getrek totdat die laaste wa die pad oorgesteek het.  Agter die lokomotief en waterkar was daar gewoonlik ‘n paar waens vol beeste aangehaak, of tenks met dieselbrandstof.  Ná hulle het daar dan so een of twee passasierswaens gevolg, met die kondukteurswa heel agter aan. Wanneer die vrag besonder swaar was, is daar twee lokomotiewe ingespan om te help trek. 

Toe ek nog sommer ‘n klein tjokkertjie was, was daar ‘n ruk lank ‘n vreeslike droogte in die land.  Dit was so erg dat daar nie genoeg water in die dorp beskikbaar was om die loko’s vol te maak nie.  Die Spoorweë het toe met my pa onderhandel om van ons boorgatwater op die plaas vir die treine te gebruik.  Soggens vroeg het die trein dus eers naby ons huis gestop waar die spoorlyn deur die bloekombos gesny het, om water aan te vul.  My pa het my dikwels op sy nek getel en afgestap spoor toe, om daar met die drywer en stoker te gaan blad skud en te kyk hoe die duisende liters water in die dors ou trein se ingewande verdwyn. Die  drywer was ‘n lang, seningrige man.  Hy het ‘n spoorwegkeps gedra en daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig.  Hy en die stoker was erg trots op hulle yslike masjien en het my soms toegelaat om die fluit se tou te trek.  Wanneer die watertenk vol was het die stoker eers nog ‘n ekstra klomp grawe vol steenkool voor by die ketel ingeskiet.  Dan het die ou trein stadig en met ‘n onaardse lawaai aan die gang gekom en die waens het een vir een, al hoe vinniger, verbygekom. 

Gedurende die wintermaande moes die boere langs die spoorlyn altyd op hulle hoede wees, net ingeval ‘n kooltjie uit die verbygaande trein se skoorsteen die veld aan die brand steek.  Die Spoorweë het darem ‘n brandspan op bystand gehad wat ons kom help het in tye van nood.  

Die trajek na Vaalwater word al jare lank nie meer bedryf nie.  Die twee spore wat altyd so blink getrap was, lê deesdae dof en verlate in die son, met bossies en gras wat tussen die dwarslêers deurgroei.  

Die ou plaashuis

 plaashuis-maan-2.jpg

 

Die huislike geur van vars koffie op die stoof het reeds ‘n handvol jare gelede tesame met die laaste klank van kinderstemme deur die swart holtes van jou uitgerukte vensters oor die vlakte weggewaai. 

Snags, in die glans van die koue maan, staan jou witgekalkte mure nou alleen, verwese.   Die wind  vind  dan sy pad oor die yl stoppels op die uitgewerkte lande en kom speel ‘n sinlose deuntjie met jou lendelam deure aan hul krakende skarniere. 

Jou enigste geselskap is die uile wat soms skuiling vind in die kappe van jou geroeste dak.   

Vir geen siel is jy meer ‘n vaste tuiste nie, behalwe vir ’n onversorgde langhaarhond wat elke dag nog teen skemer in die voetpad van die statte se kant af nader draf en aan die voordeur kom snuif.  Hy wag dan ‘n rukkie by die hek voordat hy weer, as dit donker is,  stil en mank-mank in die vaal gras verdwyn. 

 

 

Wat lees ek: bladsy 123

Boendoe vra watter boek het ek laas gelees en om ‘n paar sinne aan te haal uit bladsy 123.  Hier gaan ons: 

 “A few minutes later his wife, her head wrapped in a scarf and her plump face beaming with a motherly smile, brought me a steak-sized filet of the freshest, most succulent and crisply fried fish that I had tasted on the barge, or even in my life.  It was garnished with mayonnaise and onions.  I devoured it.  Pleased, Nze watched me eat.” 

Die boek se naam is ‘Facing the Congo’  van Jeffrey Tayler en dit handel oor sy ervaringe tydens sy reis van sowat 1,600 km al af met die Congorivier in ‘n tradisionele boomstamkano.

Tayler was 33 jaar oud toe hy besluit die lewe raak te rustig vir hom en dat dit tyd was om iets besonders aan te pak.  Sy reis met die Congorivier af is vol avontuur, ontberinge en ontmoetings met interessante mense.

Ek hou van die boek:  Dis ‘n eerlike beskrywing van een van Afrika se mees onherbergsame streke en ook van die mense wat hulle bestaan maak op die Congo, op een na die grootste rivierstelsel in die wêreld.

untitled1.jpg

Vat Vyf: My Lysie

Wag-‘n-Bietjie het my getag om vyf  van my eie inskrywings te kies en die skakels hier te lys.

Ek is maar lui met die bloggery en die keuses is dus maar karig.  Maar hier gaan ons WnB:

1)  Kolkata:  ‘n Lyk in die Rivier

2)  Die Verlate Kerk

3)  ‘n Indiese Massering

4)  Kersvader: Die wiele kom af

5)  Stille Nag

Ek gaan eers nog bietjie dink oor wie ek graag wil tag oor hulle eie Gunsteling Vyf.  Dankie Wag’n Bietjie …

Oor honde

Die hartseer storie van Platterfuss se Boeshie het my laat terugdink aan al die honde in my lewe. 

Honde en ek verstaan mekaar nog altyd goed:  Van kleins af was hulle my beste vriende.  Ek het op ‘n plaas grootgeword in die Bosveld.  Tussen al ons kinders het ons gewoonlik so vyf of tien honde aangehou.  Die hele spul was altyd vreeslik gelukkig want die plaas was ‘n idilliese plek:  Groot en wyd, met ruigtes en plekke om na hartelus rond te snuffel en rond te hardloop agter allerhande wilde dierasies aan.

Ons was vyf kinders.  Elkeen van ons het so min of meer ‘n spesifieke hond gehad wat hy/sy aan hom- of  haarself toege-eien het.  Maar honde kies mos maar hulle eie base.  En op die einde van die dag het die meeste brakke altyd erg goed met my oor die weg gekom.  Hulle het hulleself wysgemaak dat ek die plaas se nommer een brakwagter was.

Oor die jare het ek verskeie gunstelinghonde gehad.  Honde leef mos nie vir ewig nie.  Party het hulle lewens heldhaftig opgeoffer in gevegte met rinkhalse of boomslange.  Een van ons Boksers het op ‘n warm somersdag aan ‘n hartaanval beswyk.   My suster se een hond het in ‘n karongeluk gesneuwel.  Ten spyte van al hierdie tragedies was  daar met die heengaan van elke hond tog weldra ‘n ander wat die leemte in my hart kom vul het.

 My gunstelinghond uit daardie goue kinderdae op die plaas was ou Brutus.  Hy was nie vreeslik groot nie.  Kort, krommerige beentjies en ‘n stewige lyf.  Hy was pikswart, behalwe vir ‘n wit kol op die bors en ‘n vlek op een van sy voorpote.  Brutus se herkoms was, moet ek bieg, niks om oor huistoe te skryf nie.  Hy was eintlik familie van al die honde wat ons al ooit op die plaas gehad het:  Bietjie Bokser, bietjie Rifrug, bietjie Boerboel en bietjie Skipper.  Maar dit was ‘n wenkombinasie.  Brutus was ‘n hond met ‘n hart van goud en hy het nie ‘n bang haar op sy lyf gehad nie.  En ek en Brutus was die beste pelle. 

Ek het dikwels as jong seun in die laat middae die .22 oor my skouer gehang en dan gesorg dat ek en Brutus die ander honde uitoorlê en stilweg alleen uit die huis verdwyn veld toe, na die sonneblomlande se kant toe waar daar gewoonlik tarentale was waarop mens kon jag maak.

Brutus het skoon bewerasies gekry van opgewondenheid wanneer ek die geweer uit die kluis gaan haal.  Sy bosmaniere was goed: Hy het nooit sommer weggehardloop agter die veld se koedoes, bosbokke of vlakvarke aan nie.  Nee wat.  Hy het gesorg dat hy altyd net ‘n paar tree voor my was.  Wanneer hy iets in die ruigtes gewaar het, het hy doodstil gaan staan,  sy ore gespits en sy een voorpoot in die lug opgetel en dan vir my gewag sodat ons saam die ding kon waarneem wat hy gesien het.   

Ek dink hy en ek was ewe lief vir die bos.  Saam het ons die skemeraande se koel geur van grassade en klam grond ingeasem.  Saam was ons tevrede om, wanneer die son aan die einde van ‘n warm dag agter die koppies wegsink, in stilte te luister hoe roep die tarentale mekaar by hulle slaapplekke in die hoë doringbome langs die rivier.  Soms het hy vir ure net stil langs my gesit op die kruin van een van die plaas se klipkoppies en saam met my oor die vallei uitgetuur. As ons gelukkig was het ons dan koedoes in die voetpaadjies sien verbystap, of ‘n partykeer ‘n bosbok tussen die olienhoutbosse sien roer.       

 Dit was lekker dae. 

Maar alle goeie dinge kom tot ‘n einde.  Na skool het ek gaan studeer en met ‘n swaar hart van die plaas afskeid geneem en stad toe getrek.  Brutus het my vreeslik gemis.  Ek onthou nog hoe hy my nie uit die oog uit wou laat gaan tydens my eerste universiteitsvakansie terug op die plaas nie.  Toe dit tyd was om weer te groet, het hy vasberade agter my kar aangehardloop, so vinnig as wat sy kort bene hom kon dra, tot by die plaashek wat sowat twee kilometer van die opstal af weg was.  Dit was erg swaar om my arme hond so alleen in die stofwolk te moes agterlaat.

Soos dinge maar gaan, het ou Brutus se lewe ook later tot ‘n einde gekom.  Ek was daardie dag nie op die plaas nie.  Die details van sy heengaan sal ek julle spaar.  Wat meer belangrik is, is dat hy ook net soos al ons ander getroue ou honde ‘n spesiale finale rusplek gevind het langs die groot grasperk agter die plaashuis waar my ma se tuin teen die leivoor ge-eindig het.  Van daar af het mens ‘n mooi wye uitsig oor die landerye na die rivier se kant toe, en dan nog verder aan, tot waar die ruigtes en die koppies een word met die somerlug se blou.   

Ge-’tag’: Ietsie meer oor myself

Karin het my ge ’tag’ en hier is dus ‘n paar goeters oor myself:     

  1. My een melktand het nooit gewissel nie en hy sit nou nog in my mond.  Die ene wat hom moes vervang, het sommer heel van stryk af geraak en noot uitgegroei nie.  So ‘n paar jaar gelede het ‘n kwak X-strale van kakebeen geneem en toe pryk die nuwe tand daar dwars binne-in my kakebeen en heel onsigbaar van buite af.   

  2. As kaalvoetkind op die plaas het ek allerhande vaardighede aangeleer wat vandag totaal nutteloos is:  Ek kan ‘n koei melk, beeste gesond dokter, kalfies help in die wêreld bring, lande ploeg en vrugtebome snoei.
  3. Ek het, toe ek nog student was, eenkeer met my 125 cc motorfiets op ‘n oliekol gegly en toe agter in ‘n hengse groot weermagtrok vol troepe vasgejaag, tot groot vermaak van almal op die lorrie.
  4. Ek het ‘n jaar lank in die tronk gebly:  Tydens my dienspligtyd was ‘n handjievol van ons toegedeel aan ‘n spesiale operasie en niemand moes weet wie ons was of waarmee ons besig was nie.  Ons het toe iewers in ‘n ou vrouetronk gebly, agter tralies en dik mure.  Dit klink erger as wat dit werklik was:  Die naaste wat ons destyds aan oorlog gekom het, was om snags met ons dienspistole te gaan hase jag in die oop stukke veld tussen die townships.
  5. Ek lewe ‘n interessante, vol bestaan.  Geen dag is dieselfde as gister nie.  Ek ontmoet altyd nog nuwe gesigte en sien nuwe plekke.  Dis hoe ek dit wil hê.  Ek word vinnig verveeld en sal van my kop af raak as ek ‘n eentonige lewe moes voer.  Daar is min dele van die wêreld wat ek nog nie besoek het of in gewerk het nie.
  6. Ek moes lank terug een keer ‘n ding gaan doen iewers in Siberië.  Vir die week of twee wat ek in Rusland was, het ‘n KGB ou my dopgehou.  Hy was op al dieselfde vlugte as ek en het altyd iewers in die agtergrond rondgehang, notaboekie in die hand, besig om al my geselsies met ander noukeurig neer te skryf.
  7. Ek kan heel skaflik Duits en Spaans praat.
  8. Ek glo dat ons almal bevoorreg is om in vandag sy tye te mag leef:  Ons bevind ons in ‘n tyd van ongekende vryhede, geleenthede en gerief.  Ons kan so maklik kontak hê met mense van reg oor die aardbol.  Enige bestemming kan bereik word deur sommer net in ‘n vliegtuig te klim.  Daar is nog baie ongeskonde en pragtige plekke in die wêreld oor om self te gaan sien en te geniet.  Ons moet dankbaar wees en dinge waardeer terwyl ons nog kan.
  9. Bitter min mense ken die ware ek.  Om die waarheid te sê, ek hou gewoonlik ander op ‘n afstand en is erg gesteld op my persoonlike privaatheid.  Snaaks genoeg:  Die wat wat my die beste ken, weet die minste van my daaglikse bestaan.

Kersvader: Die wiele kom af

antofa-boats.jpg 

Vêr in die noorde van Chile, 1,500 km se vlieg vanaf die hoofstad Santiago, is daar ‘n stowwerige kusdorp genaamd Antofagasta in die hartjie van die Atacamawoestyn.  Kyk, dis droog daar. Toe ek daar gebly het, het hulle sewe jaar lank nie ‘n druppeltjie reën sien val nie.  Dis ‘n dooie vaal wêreld.  Nêrens op die sand- en gruisvlaktes sien mens ‘n teken van lewe nie. 

 road-nowhere.jpg

So ‘n kort entjie se ry vanaf Antofagasta is daar ‘n vissersgemeenskap by Juan Lopez waar die mense ‘n sukkelbestaan maak uit die see.  Dis duidelik dat geld hier rond maar skaars is.   

juan-lopez.jpg

Daar is ‘n paar dinge van die Chileense volkskultuur waarvan ek baie hou.  Wat ek veral van hulle bewonder is hulle liefde vir kinders en hulle blymoedigheid.  ‘n Chileen kla nie sommer oor sy lot nie.  Hulle sal in krothuisies bly maar elke dag met ‘n glimlag by die werk opdaag.  En hulle is familievas. Om saam aan te sit om die tafel op Sondae is belangrik vir hulle, en so ook saamwees gedurende die Kersseisoen.    

Ek het een jaar kort voor Kersfees die woestynpad Juan Lopez toe gevat en toe op KERSVADER  afgekom.  Sien foto’s. 

 xmas-far-1.jpg

 xmas-closer.jpg

 xmas-closest.jpg

Wys jou net.  Maak nie saak waar mense hulleself in die wye wêreld bevind nie:  Met ‘n bietjie verbeelding en ‘n tikkie gesonde humor kan jy ‘n glimlag op enige kind se gesig sit, al het jy nie ‘n sent in jou sak nie…