Archive for the 'Op 'n ligter trant' Category

Oupa se kar-ongelukkie

 x-1-gesig.jpg

Van my heel eerste herinnneringe as kind  gaan oor die kar wat my oupa gery het:  Dit was so ‘n seepgroen ou DKW’tjie.  Vir die wat nie weet nie:  Hulle was op hulle dag erg oulike karretjies.  Mens moes olie by die brandstof inmeng omdat die enjins tweeslag was, soos ‘n 50 cc motorfiets s’n. 

x-3-outside.jpg

Hulle enjin het DKW’s heel anders laat klink op die pad.  Die geluid was so ‘n half asmatiese gebrom.  As jy die voet van die pedaal afhaal het die karretjie eers nog ‘n rukkie gehyg en dan met ‘n rieng-tieng-tieng tot bedaring gekom. Ten spyte van die tweeslag enjin het DKW’s nie geskrik om te loop nie.  Hulle was vinnig.  En daar was nog ‘n ander snaakse ding aan hulle:  Die deure het verkeerd om, na agtertoe, oopgemaak. 

 x-5-door.jpg

My oupa was ‘n oulike mens.  Altyd ‘n vonkel in die oog en reg om ‘n grappie te vertel.  Hy was ook ‘n bietjie verstrooid en snobberigheid en aanstellerigheid het hom glad nie aangestaan nie.  Hy het die interessantste dinge in die huis versamel.  Daar het orals nuttelose goeters rondgelê wat niks meer vir enigiemand beteken het nie maar tog nog lekker was om mee te peuter.  Sy geaardheid was erg anders as my ouma s’n:  Sy was gesteld op netheid en orde in die huis.  Alles moes altyd 100% reg wees.  Sy het die stywe reëls van die neus-in-die-lug kliek in die dorp slaafs nagevolg.  Kyk, in haar huis het jy jou tee gedrink met die pinkie in die lug. 

Daar was dus altyd ‘n mate van wrywing tussen Ouma en Oupa.  Sy het hom gereeld met haar skril stem uitgetrap.  Hy het alles gelate aanvaar en haar so nou en dan bietjie geterg ook, net om haar bloeddruk nog meer op te jaag. 

Een oggend is die twee van hulle toe dorp toe in die DKW.  Ouma was soos gewoonlik onberispelik uitgevat. 

 x-2-ouma.jpg

Oupa was min gepla en het sy bes probeer om Ouma se alewige gekerm nie te hoor nie. Op pad dorp toe het die pad so ‘n paar wilde esse gemaak tussen die klowe deur.  Oupa het seker daardie dag die DKW se spoed so bietjie onderskat, of miskien was daar te veel los sand in die spore. 

x-4-drive.jpg

In elk geval:  Toe hulle so deur die laaste draai gaan en terwyl Ouma nog een stryk deur teem oor alles wat Oupa altyd verkeerd doen, gaan Ouma se deur oop.  En daar val sy uit. Kaplaf, op haar agterstewe met haar dorpsklere in die sagte sand. Oupa het probeer om sy lag te bedwing.  Ouma was natuurlik woedend.  Alhoewel sy nie seergekry het nie, het sy hom toe nooit oor die ongeluk vergewe nie.  Oupa het ook nooit eintlik daaroor gepraat nie.  Maar ek dink tog hy het in sy stilligheid geglo dat hy haar darem een keer kon terugkry vir haar alewige gekerm in sy ore.   

Hehehe.      

(Die illustrasies is gesny uit ‘n DKW brosjure wat ek op die net raakgeloop het.  Loer gerus by http://storm.tocmp.com/indexa5.htm  vir oulike inligting oor nog baie ander motors uit toeka se tyd.)

‘n Indiese massering

servant.jpgservant.jpg

 servant1.jpg

My vlug huistoe vanaf Kolkata sou eers Saterdagaand om agtuur vertrek.  Ek het dus die oggend gaan inkopies doen in die stad en ‘n paar besienswaardighede gaan besoek.  Ek was reeds vroeg in die namiddag terug by die hotel en het toe besluit dat daar nog genoeg tyd oor was vir ‘n vinnige masseringsessie in die hotel se gesondheidsentrum in die kelderverdieping. Ek het sommer in my gewone klere daar aangemeld, met die veronderstelling dat allles wat ek nodig sou hê, aan my beskikbaar gestel sou word. 

By ontvangs is ek aan my vriendelike masseur voorgestel: ‘n Besonders kort, glimlaggende Indiese mannetjie.  Ek sal lieg as ek sê dat ek nie teleurgestel was dat dit nie ‘n ses voet lang Amasone was wat op my gewag het nie, met ‘n glimlag op haar gesig en sulke lang naels wat mens se rug behaaglik kan krap…  Maar wat, ek is deesdae gewoond daaraan om deur die lewe te kom sonder die dinge wat ek die meeste begeer.  Ek het my dus daarby berus en my glimlaggende masseur, Anil, na binne gevolg. 

Anil het my na my sluitkas geneem en gevra om alles uit te trek.  ‘Sommer hier?’  het ek gevra.  ‘Ja’, beaam hy.  ‘Jy is nou in die mansafdeling.  Niks om voor te vrees nie.’

Ek het in die sluitkas gekyk:  Daar was slegs ‘n wit kamerjapon en plakkies.  G’n swembroek of ‘n paar boxers nie. Ek het toe maar al my klere uitgetrek en vir ‘n japon verruil, met niks onder aan nie.  Anil het my toe gewys waar die sauna is en ek het vyf minute daar gesit en sweet, waarna  hy my kom haal het om na die masseerkamer toe te gaan. 

Die plek was saggies belig deur een groot kers wat op die vloer gestaan het.  Sagte musiek het van êrens af ingekom.  Die geur van vars kruisement en ander speserye het in die lug gehang. 

‘Trek uit jou japon en gaan le op die bank’, sê Anil vir my.  Nogal windgat vir so ‘n kort mannetjie, dink ek by myself. 

Ek sê toe vir Anil dat ek verkies om darem ‘n broek aan te hê tydens die proses wat voorlê.  Hy krap toe daar in ‘n kassie en gee my iets wat lyk soos ‘n opgevoude wit sakdoek.  ‘Disposable shorts’ reken Anil.  Ek skud toe die gedoente los en lag sommer:  Dis kleiner as ‘n stout meisie se panties. 

Anil beantwoord my vraende blik met ‘n somber ‘Nee’.  Dis al wat hy het en sal moet doen.

Ek probeer toe maar so versigtig as moontlik die broekie aantrek.  So skuins anderkant my kniee gee die ding egter die gees en skeur in twee. ‘Toemaar wat’, sê Anil.  ‘Jy kan sommer net so kaalg*t lê en ek sal jou massering doen’. 

Ek moet sê, ek was op daardie stadium heel verlig dat ek slegs vir ‘n rugmassering gevra het, en nie vir die full body-opsie nie.

Ek het toe ewe houtgerus op my maag gaan lê.  Ou Anil het daar weggespring en my ‘n uurlange behandeling gegee wat my heerlik ontspanne gelaat het.  Gelukkig, kan ek sê, het ek nog nooit enige gevoel van aangetrokkenheid tot die manlike geslag gehad nie.  Daar was dus niks aan my waarvoor ek my hoef te geskaam het toe dit tyd word om op te staan en totsiens te se nie. 

Hehehe.

(Ek het hierdie storie ‘n rukkie gelede op LitNet gegooi maar ek het besluit om dit sommer nou ook hier in te sit)