Van my heel eerste herinnneringe as kind gaan oor die kar wat my oupa gery het: Dit was so ‘n seepgroen ou DKW’tjie. Vir die wat nie weet nie: Hulle was op hulle dag erg oulike karretjies. Mens moes olie by die brandstof inmeng omdat die enjins tweeslag was, soos ‘n 50 cc motorfiets s’n.
Hulle enjin het DKW’s heel anders laat klink op die pad. Die geluid was so ‘n half asmatiese gebrom. As jy die voet van die pedaal afhaal het die karretjie eers nog ‘n rukkie gehyg en dan met ‘n rieng-tieng-tieng tot bedaring gekom. Ten spyte van die tweeslag enjin het DKW’s nie geskrik om te loop nie. Hulle was vinnig. En daar was nog ‘n ander snaakse ding aan hulle: Die deure het verkeerd om, na agtertoe, oopgemaak.
My oupa was ‘n oulike mens. Altyd ‘n vonkel in die oog en reg om ‘n grappie te vertel. Hy was ook ‘n bietjie verstrooid en snobberigheid en aanstellerigheid het hom glad nie aangestaan nie. Hy het die interessantste dinge in die huis versamel. Daar het orals nuttelose goeters rondgelê wat niks meer vir enigiemand beteken het nie maar tog nog lekker was om mee te peuter. Sy geaardheid was erg anders as my ouma s’n: Sy was gesteld op netheid en orde in die huis. Alles moes altyd 100% reg wees. Sy het die stywe reëls van die neus-in-die-lug kliek in die dorp slaafs nagevolg. Kyk, in haar huis het jy jou tee gedrink met die pinkie in die lug.
Daar was dus altyd ‘n mate van wrywing tussen Ouma en Oupa. Sy het hom gereeld met haar skril stem uitgetrap. Hy het alles gelate aanvaar en haar so nou en dan bietjie geterg ook, net om haar bloeddruk nog meer op te jaag.
Een oggend is die twee van hulle toe dorp toe in die DKW. Ouma was soos gewoonlik onberispelik uitgevat.
Oupa was min gepla en het sy bes probeer om Ouma se alewige gekerm nie te hoor nie. Op pad dorp toe het die pad so ‘n paar wilde esse gemaak tussen die klowe deur. Oupa het seker daardie dag die DKW se spoed so bietjie onderskat, of miskien was daar te veel los sand in die spore.
In elk geval: Toe hulle so deur die laaste draai gaan en terwyl Ouma nog een stryk deur teem oor alles wat Oupa altyd verkeerd doen, gaan Ouma se deur oop. En daar val sy uit. Kaplaf, op haar agterstewe met haar dorpsklere in die sagte sand. Oupa het probeer om sy lag te bedwing. Ouma was natuurlik woedend. Alhoewel sy nie seergekry het nie, het sy hom toe nooit oor die ongeluk vergewe nie. Oupa het ook nooit eintlik daaroor gepraat nie. Maar ek dink tog hy het in sy stilligheid geglo dat hy haar darem een keer kon terugkry vir haar alewige gekerm in sy ore.
Hehehe.
(Die illustrasies is gesny uit ‘n DKW brosjure wat ek op die net raakgeloop het. Loer gerus by http://storm.tocmp.com/indexa5.htm vir oulike inligting oor nog baie ander motors uit toeka se tyd.)






Kommentaar