Archive for the 'Op reis' Category

‘n Somersdag in Stockholm

 

Dis tans hoogsomer in Stockholm en die dae is vol sonskyn.  Daar is tien of meer eilande in die stad.  Oral tussen die pragtige, statige ou geboue is daar waterweë vol bote van enige soort en grootte. 

Daar is regtig mooi fassades aan die meeste geboue.  Die baie standbeelde en pragtige detailwerk aan elke gebou gee aan die stad ‘n karakter van kwaliteit en styl:

Die stad se geskiedenis dateer meer as 1,000 jaar terug.  Die bestaande geboue is tipies van oud-Europa:  Daar is kloktorings op die dakke met koperbeslag.  Vensters is groot en wyd.  Daar is baie steenwerk met verskillende teksture aan elke muur.

Hulle sê daar is sowat 700,000 bote in private besit in Swede.  Op ’n sonnige dag soos vandag was daar dus duisende mense op die water, in enige vaartuig denkbaar.

Party was heel beskeie:

 

 

Party was bedoel vir besigtigingstoere deur die stad:

 

 

Party was sommer erg windgat:

 

 

Party was yslik groot:

 

 

Daar is orals parke en groen area’s waar mens kan ontspan.  Daar is baie eikebome.  Sommige is blykbaar by die vierhonderd jaar oud en was destyds aangeplant om skepe mee te bou.   Die Swede was baanbrekers met die bou van staalskepe, wat die gebruik van hout oorbodig gemaak het. Hulle het toe besluit om toe baie van die ou eikebome in en om die stad te laat staan eerder as om hulle af te kap.

 

 

Naby die hotel is daar ‘n opelug-kunsuitstalling aan die gang. 

 

 

Fietse is ’n ideale manier om die stad mee te verken.

  

 

 

Mens kan ook van hierdie oulike, elektries aangedrewe gedoentes huur om op rond te rits.

 

 

Ek het gisteraand bietjie lam gehad vir aandete by ’n restaurant teenaan die water, Die kos was regtig aangenaam.   Die kroegmanne het ook beindruk met die manier hoe hulle al die mengeldrankies aanmekaargeslaan het.

 

 

 

 Toe die son sak het daar ’n paar warmlugballone grasieus oor die stad gehang.

 

 

Ek hou van die vars lug en al die pragtige groen bome.  Orals hoor mens die mishorings van die ferries en die geklingel van tremklokke.

 

Ek het gister by ‘n winkel verbygestap waar die volgende aanhaling in groot letters op die venster geverf was:  “ To stay at home, is to only read one page of a book.” 

 

Stockholm is van nou af definitief op my lys van gunstelingstede in die wêreld. Voorwaar ’n spesiale plek.

 

.  

Die slawebome van Ndola

‘n Paar maande gelede, tydens ‘n besoek aan Zambië, het iemand aan my ‘n pragtige, hoë boom uitgewys langs die pad tussen Ndola en Kitwe.  Na bewering het Swahili slawehandelaars baie jare gelede hier hulle gevangenes aan sy stam vasgeketting om te verhoed dat hulle ontsnap. 

 

Ek het myself voorgeneem om, wanneer ek weer daar verby kom, ’n foto van die pragtige boom te neem met sy hartseer geskiedenis.

 

Ek was die week weer in Zambië.  Die ou groot boom het ongelukkig intussen omgeval en daar sal seker een van die dae niks meer van hom te sien wees nie.   

 

 

Daar is egter nog ’n slaweboom in Ndola.  Dis hier waar die slawehandelaars hulle gevangenes verkoop het, blykbaar meesal aan mense uit Angola.

 

 

Hierdie boom staan langs ’n stowwerige straatjie in een van Ndola se minder gegoede buurte en is as nasionale gedenkwaardigheid verklaar.  Daar is ’n koperplaat langs sy skewe stam aangebring, met ’n paar woorde oor die boom se geskiedenis. 

 

 

Dit lees:

 

This plate has been placed upon this Mupapa tree to commemorate the passing of the days when, under its shade, the last of the Swahili traders, who warred upon and enslaved the people of the surrounding country, used to celebrate their victories and share out their spoils.  

 

Dit kom voor asof die inwoners van Ndola hulle maar min skeel aan die slaweboom.  Dit lyk asof iemand al probeer het om die koper gedenkplaat te gaps.   Reg langsaan staan daar ’n verflenterde winkeltjie met, so tipies van Afrika, handgeverfde advertensies teen die mure oor alles wat binne te koop aangebied word.

 

 

 

 

Daar is ook ’n (goed toegeruste ?) karwassery net langsaan, soos mens kan sien op die foto hier onder.

  

 

  .

‘n Musikant in die woestyn

 

 

 

 In die noorde van Chile, in die dorre Atacamawoestyn, lê die stad Antofagasta.  Dis ’n stowwerige plek met sowat 250,000 inwoners. Aan die westekant is dit begrens deur die koue see.  In die ander drie windrigtings kry mens vir sowat 100 kilometer of meer net die lewelose uitgestrektheid van die woestyn.  Die naaste ander stad is Santiago de Chile, sowat 1,500 km reg suid.

 

Antofagsta was ’n paar jaar lank my tuiste.  Mens leer naderhand om die mooi in die dorre omgewing raak te sien.  Die woestyn is ten spyte van sy ongenaakbaarheid vol verrassings.  Ek het dikwels naweke, as daar tyd was, die pad gevat om plekke in die omgewing te gaan verken.   

 

 

Een van die landmerke net buite Antofagasta is die strand by La Portada.  Sandsteenkranse toring sowat 150m  loodreg bokant die see uit.  Onder, waar die golwe breek, is daar ’n klein, weggesteekte strandjie wat ‘n gewilde ontspanplek is vir die stad se inwoners.

 

 

Ek het een naweek die woestynpad gevat na San Lopez.  Dis ’n klein vissersdorpie sowat 20 km verder af met die kus.  Daar is nie veel om te sien of te doen nie.  Maar as mens in Antofagasta bly, dien  selfs hierdie windverwaaide plekkie as ’n goeie bestemming om ’n draai by te maak op ’n Sondagmiddag.

 

 

Ek het ’n bordjie vis gaan eet by San Lopez se enigste, piepklein restaurantjie, afgerond met ’n bottel goeie Chileense witwyn en die ywerige geselskap van die restaurant se eienaar.  Net na sononder het ek toe die pad aangedurf huistoe, al met die hoeë kranse langs, teen die see.

 

En toe, in die middel van nêrens, sowat tien kilometer buite Antofagasta, kom ek op hierdie outjie af:

 

 

Hy het sy ou mankoliekerige kar net daar in die sand geparkeer, sy stel dromme opgeslaan, sy  oorfone ingesit en toe laat waai met sy musiek terwyl hy rustig oor die wye stilte van die oseaan uittuur, met die stad se liggies daar vêr in die agtergrond. 

 

 

Ek het gestop en eers gaan kennis maak.  Hy was ’n student in musiek by een van Antofagasta se universiteite.  Hy het verduidelik dat hy gereeld die stilte van die woestyn kom opsoek het om op sy dromme te oefen.

 

Ons het email adresse uitgeruil en daarna nog so ’n paar keer gekorrespondeer. Later het ek kontak met hom verloor.

 

Ek wonder soms wat van hom geword het.  Miskien bly hy nog steeds heel gelukkig in Antofagasta, die hoofstad van die Atacamawoestyn.  

 

 

.

Fotogeniese olifante

Ek was verlede week gou-gou bosse toe, in die Laeveld naby Hoedspruit.  Hierdie tyd van die jaar is altyd vir my baie spesiaal:  Die mopani’s het nog nie hulle blare verloor nie en daar is ’n volle spektrum van kleure in die veld:  Van grasgroen tot diep oranje.

Ek het eendag die kamera gegyp en ‘n klompie olifante by ‘n watergat afgeneem.  Hulle bly maar fassinerende diere.  Mens kom agter hulle het elkeen ‘n eie karakter en is sekerlik baie intelligent.  Hulle het duidelik ook elkeen hulle olifantvriende in die trop, met wie hulle beter oor die weg kom as van die ander diere.  

Hier staan die spul en geniet dit om die koel, skoon water te drink. 

 

 

Soms is daar ‘n vriendelike ge-stamp en ge-stotery om by die water uit te kom.

 

Hulle kan vir lang rukke stil staan en sommer net kuier, so styf teen mekaar.

 

Soms sit hulle koppe bymekaar om sake van die dag te bespreek..

 

Hierdie twee vriende het bietjie eenkant toe gestap om alleen te kuier . . .

 

 ..terwyl die ander hulle agterstewes aan die wereld vertoon..

 

En toe hulle skielik, almal gelyktydig besluit om die aftog te blaas, moes party maar bene rek om by te bly.

 

 

Oulike gediertes, olifante.  Ek sal hulle maar vergewe vir al die mooi bome wat hulle elke dag so sonder rede afbreek en beskadig.  Hehe.

Die woude naby Walpole

 

 

Die natuurlike woude in die omgewing van Walpole en Pemberton is vir my een van die mooiste dele van die hele Wes-Australië.  Hierdie gebied is ongeveer 430 km reg suid van Perth.  Daar woon maar min mense in die bosse.  Bosbou is en toerisme is die enigiste besigheidsaktiwiteite.  Die paar dorpies in die omgewing is klein en half verlore in die koel skadu’s van die omliggende woude:  In die hoofstraat is daar nie veel meer nie as ‘n vulstasie of twee, ’n paar teedrinkplekkies en winkels wat houtartikels aan toeriste verkoop.  Die plaaslike inwoners is uitgehonger vir geselskap en mens knoop sommer maklik ’n gesprek aan met mense op straat.

 

Groot dele van die bosse is as natuurreservate verklaar, met die gevolg dat daar in sommige plekke nog yslike groot bome staan wat hopelik nooit afgekap sal word nie.

  

 

 

 

 

 

 

 

 

  

 

 

 

 

  

 

 

 

Daar is verskeie inheemse bloekomspesies in die gebied.  Twee skaars boomsoorte is die ‘tingle’  en ‘karri’.  Heelwat van hulle is 75m en selfs hoër.    

 

Iewers naby Pemberton kan mens met behulp van ’n staalbrug hoog tussen die boomtoppe rondstap.  Dis ’n unieke manier om die woud te ervaar: Die uitsig tussen die bome deur is asemrowend mooi.    Daar heers ’n statige stilte oor alles.  Al geluide wat mens hoor is die gedrup van die stuifreën op die blare en helder klanke van verskeie soorte woudvoëls.

 

 

Die aanhoudende, deurdringende reëns voed een van die mooiste riviere wat ek nog in my lewe teegekom het:  Die Walpole rivier kronkel helderskoon  en statig deur die groenigheid van die woude op sy pad na die see.

 

 

 

Plekke soos hierdie laat my altyd wonder oor die balans en die tydloosheid van die ongerepte natuur.  Alles gaan sy gang, soos duisende jare reeds.  Hier vind mens se siel rus in die wete dat alles gebeur volgens ’n groter plan. Hier in die woude kan mens die natuurskoon geniet en vir ‘n wyle van al die lewe se swaar vergeet.

       

My plekkie in die bos

 

Hierdie tweespoorpaadjie vat my, so een keer per jaar, na ’n versteekte rusplek in die bos.  Ver weg van die stad se lawaai en dolle gejaag.  Daar is nie selfoon-ontvangs nie.  Niks TV nie en g’n radio nie.  Net ’n goed ingerigte, eenvoudige ruskamp onder die skaduwee van ’n paar groot mopanibome.

 

 

 

Met sononder kan jy kyk hoe die wild na die watergat toe kom.  Soms is daar olifante.  Of leeus.  En die enigste ding tussen jou en die wilde natuur is die kamp se mankoliekerige elektriese heining wat met sonpanele en batterye werk.

 

 

 

Ek hou van die voëls se gesels in die bome, van vroegdag af.  Ek hou van die leeus se gebrul teen skemer.  En die hienas se misterieuse gekla in die koue van die nag.  Ek hou van die oggenddou op die gras en die silwer spinnerakkies wat tussen die boomtakke hang.

 

 

Mens kuier saans tot laat om die vuur.  Dis lekker om net so stil op ’n sagte stoel naby die kole te sit.  As jy opkyk hang die hemel vol van die blinkste sterre.

 

Soggens is ek gewoonlik vroeg op.  Daardie eerste koppie koffie en beskuit, net so voor sonop, is darem lekker verby.

 

 

 

     

Lindau op die Bodensee

xx-lindau-from-air.jpg 

Lindau is ‘n klein eiland in die Bodensee (Lake Constance) in die Bavariaprovinsie van Duitsland.  In die geskiedenisboeke is daar reeds in die jaar 882 melding gemaak van ‘n nonneklooster wat hier gevestig is. 

Tans beloop die inwonertal sowat 24,000 mense.  Toerisme is die hoofbron van inkomste. 

xx-3-shop.jpg

Dis inderdaad ‘n pragtige dorpie, met hotelle en restaurante wat styf in die nou straatjies teenmekaar inpas tussen oulike winkels en huisies.   

xx2-house-with-tower.jpg

Elke inwoner doen sy deel om Lindau altyd pragtig te laat lyk en tydens die somer pryk daar blomme voor elke venster. 

x-small-house-flowers.jpg

‘n Kenmerk van Lindau is die beskilderde mure van baie van sy geboue.  Dit gee die dorpie ‘n unieke karakter.

xx3-painted-walls.jpg    

Die eiland het ‘n klein hawe, kompleet met sy eie vuurtoring.  Die ingang word bewaak deur ‘n groot standbeeld van ‘n leeu. 

xx56-harbor-entrance.jpg

Friedrichshafen is die naaste dorp van hier af en kan binne dertig minute per ferrie bereik word.  Dis is die plek waar Zepplin lugskepe, soos die Hindenburg, jare gelede gebou is.  Daar is vandag ‘n Zepplinmuseum op die dorp.  Mens kan daar by ‘n volskaalse replika van ‘n lugskip gaan inklim en sien hoe die passassierskajuite en eetsaal gelyk het.  Dis wonderlik om te sien met hoeveel vernuf die Duitsers destyds alles so lig as moontlik ontwerp het, sonder om aan die estetiese of aan gerief prys te gee.   

Die omgewing rondom die Bodensee, met sy wingerde en mooi uitsigte oor die meer, is vir my van die mees skilderagtigste in Duitsland.  Inderdaad ‘n lekker plek om te gaan vakansie hou. 

 xx7-bodensee-and-vines.jpg

•   •   •

 

Maak ‘n draai in Tokyo

 x-temple-gate.jpg

Ek het nou die dag iemand hoor sê dat Tokyo stad en die omliggende omgewing nou gesamentlik die grootste bevolkingtal het van enige metropolitaanse gebied in die wêreld. (Twintig miljoen mense, of meer?)  Wel, dis verseker ‘n besige plek.   Alles is toegebou en funksioneel.  Die enigste oop ruimtes in die stad is rondom die keiser se paleis en by sommige van die eeue-oue tempels.

 Die foto hier onder het ek uit die hotel se ontbytsaal geneem:  Voorlangs is die keiserlike tuine.  Agter op die horison kan mens die berg Fuji se sneeubedekte piek uitmaak.

x-skyline-fuji.jpg

 In die stad handhaaf mense ‘n vinnige lewenspas.  As jy ‘n kantoorwerker in sentraal Tokyo is, is dit nie ongewoon om soggens twee ure op die sneltrein deur te bring werk toe nie, sodat jy agt uur kan begin werk.  Dan volg ‘n lang dag op kantoor.  Baie mense gaan eers agt uur saans huistoe en spandeer dan weer twee ure op dieselfde trein om by die huis te kom.

x-train.jpg

 Die sneltreine is werklik blitsig.  Sommige van hulle handhaaf ‘n spoed van byna 300 km/h.  Binne is hulle silwerskoon en stil.  Meeste Japanese verkies om te slaap as hulle trein ry.  Dis ook slegte maniere om selfone te gebruik of hard te gesels as jy in die trein sit.  Wanneer ‘n trein by ‘n stasie stop is daar gewoonlik ‘n skoonmaakspan wat gou-gou eerste ingaan om alles op te ruim.  Ek het hulle ‘n paar keer dopgehou as hulle werk:  Eers staan hulle buite en buig dan almal saam vir die trein.  Dan maak hulle skoon.  Wanneer hulle uitklim, buig hulle beleefd vir die passassiers en verdwyn dan stilweg na hulle volgende skoonmaaksessie.  As ‘n inkomende trein by vertrek die stasie in die teenoorgestelde rigting verlaat, word al die sitplekke binne oomblikke outomaties omgedraai voordat die deure vir passasiers oopgemaak word.

 Tokyo het ‘n wonderlike moltreinstelsel.  Mens kan by ‘n onderaardse stasie stop en dan direk uitklim binne in yslike ondergrondse winkelsentrums.  So kan jy dus op  pad huistoe moeiteloos jou kos en klere koop.

 x-sushi-shop.jpg

Ten spyte van die stad se grootte is alles silwerskoon.  Daar is min tekens van lugbesoedeling.  Alles werk perfek.  Elke beskikbare spasie word aangewend vir ‘n funksionele doel.  Die foto hieronder wys hoe hulle ‘n snelweg gebou het op stelte, wat al langs die loop van ‘n rivier deur die stad kronkel.

x-bridge-along-river.jpg

 Tokyo het ‘n besonderse mengsel van moderne tegnologie en Japanese tradiese.  Hierdie tradisionele teehuis het ek naby die hotel afgeneem.

x-tea-house.jpg

 Die meise hieronder in haar tradisionele Japanese kimono was ‘n bruid wat een Sondag in die hotel se tuin foto’s van haar uitrusting laat neem het.

x-kimono.jpg

Die verre Richtersveld

 x-bokkies1.jpg

My werk vat my soms op Weskus toe, tot heel bo by Oranjemund op die grens van Namibië.  Van daar af vat ek dan ‘n stofpad na die binneland, al langs die Oranjerivier, na die streek se diamant- en sinkmyne.

 x-pad-na-baken.jpg

Dis ‘n dorre, warm streek.  Die Oranjerivier bring ‘n dun strokie van lafenis in ‘n andersens lewelose gebied.  Afstande is groot.  Mense is skaars.  Die son kan ongenadiglik bak:  Op plekke soos Bloeddrif gaan die temepratuur op ‘n lekker somersdag op tot oor die 50 grade Celcius. 

 x-richtersveld.jpg

Daar is ‘n fotogeleentheid om amper elke draai.  (Sommige van hierdie kiekies is maar vaal want hulle is sommer so in die ry deur die motor se venster geneem.)

 x-gastehuis.jpg

Iewers langs een van die stofpaaie is daar ‘n gastehuis waar mens kan oorslaap. Spogplaas is die plek se naam.  Daar kraak die ou plankvloere nog lekker in die gang. Hulle bedien  regte boerekos en saans kan mens die son sien sak oor die rivier en saam met die ander gaste ‘n drankie geniet en luister na die jongste stories oor die gebied se diamantsmokkelaars. 

Dis regtig ‘n rustige plek.

x-gastehuis-rivier.jpg

Knysna se olifante

 x-gesig-bb.jpg

Knysna se omgewing is vol pragtige, verskuilde plekkies om te ontdek.  Bo en behalwe al die mooi strande naby die dorp is daar ook, meer na die binneland toe, ‘n paar oulike bestemmings waar mens ‘n dag kan deurbring.  Een so ‘n plekkie is ongeveer 30 km vêr, diep in die bosse naby Millwood, waar daar jare gelede ‘n goudmyn was. 

x-materolli-3bb.jpg 

Al wat oor is van die destydse myndorpie is ‘n paar rooidaksinkhuisies wat vandag nog tussen die denneplantasies staan.  Mens kan van daar af  ‘n kronkelende voetpaaidjie volg om by die mynskagte uit te kom wat seker omtrent ‘n honderd jaar gelede in die berge gesink is.  Daar, in die geheimsinnige skadu’s van die die digte woud, lê daar nog ‘n paar geroeste stukke masjinerie:  Ou reuse stoomketels en swaar stampers waarmee hulle die erts destyds bewerk het. 

x-materolli-bb.jpg

Een van die oorblywende sinkhuisies is nou ‘n restaurantjie waar mens kan aansit vir koffie of tee. Hulle bedien ook melktert en vars skons wat nog in die kombuisie se oorspronklike koolstofie gebak word.    

Ons het enkele jare gelede by Millwood ‘n draai gemaak en toe voetgeslaan deur die bosse tot by die verlate en donker, druppende mynskagte onder in die vallei.  Dit was ‘n besonderse dag:  Die son het pas weer uitgekom na die oggend se bui reën.  Die woud het gelewe van voëlgeluide.  Ons was die enigste mense daar. So nou en dan het ons ‘n duikertjie of ander kleinwild gesien voordat hulle weer skugter in die lang gras weggeraak het. 

En toe, op pad terug na die parkeerplek bo-op die heuwels aan die rand van die vallei sien ons dit:  Daar was vars olifantspore in die voetpad, wat dudelik eers na die oggend se reënbui deur een van Knysna se laaste oorblywende bosreuse daar agtergelaat was.  Ons het gekyk waar die spore in die ruigtes weggeraak het maar die olifant het toe reeds weer geruisloos in die digte bosse verdwyn. 

Toe ons ‘n rukkie later uitasem en moeg by die koffiewinkel aankom het ons die kleurlingmeisie in die kombuis van ons ervaring vertel.  Sy was in ekstase en het dadelik haar vriendin nadergeroep: “Mildred,  Mildreeeed!  Die Grootvoete is terug!”  het sy vir haar geskree. 

xxx-mother-hollys-2b.jpg

Verlede jaar, na ‘n afwesigheid van meer as tien jaar, het ons weer by Knysna gaan vakansie hou.  Ons het toe by een van die olifantplase op pad na Plettenbergbaai ‘n draai gaan maak.  Ek het voor die tyd nie veel van die plek verwag nie:  Gedink dit sal maar weer ‘n tipiese toeristefoefie wees met ‘n paar olifante wat daar verwese in ‘n hok staan en peins oor beter dae.  Maar dit was glad nie so nie.  Dit was regtig ‘n wonderlike ervaring en ek sal enigiemand aanmoedig om daar ‘n draai te maak.   

 x-3-ofs-in-bos-bb.jpg

Die olifante word in ‘n groot, wye kamp gehuisves.  Hulle is van verskeie wildparke afkomstig dus glad nie familie van die oorspronklike inheemse Knysna-groep nie.   Dit lyk of daar genoeg plek vir hulle is om rond te loop en die lewe te geniet.  Hulle is ontspanne en geniet duidelik die interaksie met besoekers.  ‘n Mens kan naby hulle uitklim en dan staan jy reg tussen hulle.  Daar is nie ‘n heining nie; twee van die plaas se gidse hou die diere in toom met kort skerpgepunte stokke.  Die diere staan eers in ‘n ry agter ‘n staal-afskorting en aanvaar graag die lemoenskille wat mens hulle kan voer.  Hulle is rustig en goed gemanierd. 

3-slurpe-b.jpg

Wanneer die etery verby is, kom hulle agter die afskorting uit en staan dan ewe gedweë stil om gevryf en bewonder te word.

Dis ‘n besonderse belewenis om aan ‘n olifant te kan raak:  Hulle is verbasend sensitief en hulle growwe vel is oortrek met fyn hare waarmee hulle selfs die sagste aanraking kan voel.    

 x-aanraak-2ab.jpg

Daar is net iets aan hierdie reuse diere wat mens laat besef dat hulle werklik baie intelligent is.  Mens word ook bewus van die sterk bande wat hulle onder  mekaar het.  Dit lyk ook of hulle baie goed onderling kan kommunikeer.

Na my besoek aan die olifantplaas het ek baie oor Knysna se oorspronklike olifanttroppe gewonder.  Hulle sê dat daar vandag waarskynlik  slegs drie diere oor is van die honderde wat dekades gelede die gebied se woude deurkruis het.  Hierdie drie diere leef  nou ‘n eensame bestaan en is nie noodwendig dikwels in kontak met mekaar nie.  Hulle is ook aldrie waarskynlik reeds te oud om te kan voortplant. 

Daar is vir my iets geweldig hartseer aan hierdie situasie.  Die mens het hier in die pragtige groen kuswoude iets wonderliks en kosbaars vernietig.  Onherroeplik en finaal.  

x-bosse-b.jpg

As mens kyk na al die ontwikkeling wat tans in die Knysna-omgewing aan die gang is, is dit duidelik dat die voortbestaan van die laaste stukkies oorblywende natuurlike woud ook nou in die weegskaal is.  Ek hoop tog dat mense sal saamstaan om hierdie deel van ons erfenis te bewaar voordat dit te laat is.

x-3-ofs-wegloop-1bb.jpg

Next Page »