Die bosveldplaas waar ek grootgeword het, het aan sy westekant aan ‘n treinspoor gegrens. Dit was nie ‘n besige lyn nie: In die ou dae het daar een keer per dag ‘n trein hier verbygestoom vanaf Nylstroom na Vaalwater. Die spoorlyn het sowat een kilometer van die plaashuis af verby geloop. Klokslag elke oggend so skuins na vyf het die trein met ‘n geblaas en ‘n gesis teen die bult op verbygekruie, onder ‘n wolk van stoom en steenkoolrook. By die padkruising het die drywer dan die fluit getrek totdat die laaste wa die pad oorgesteek het. Agter die lokomotief en waterkar was daar gewoonlik ‘n paar waens vol beeste aangehaak, of tenks met dieselbrandstof. Ná hulle het daar dan so een of twee passasierswaens gevolg, met die kondukteurswa heel agter aan. Wanneer die vrag besonder swaar was, is daar twee lokomotiewe ingespan om te help trek.
Toe ek nog sommer ‘n klein tjokkertjie was, was daar ‘n ruk lank ‘n vreeslike droogte in die land. Dit was so erg dat daar nie genoeg water in die dorp beskikbaar was om die loko’s vol te maak nie. Die Spoorweë het toe met my pa onderhandel om van ons boorgatwater op die plaas vir die treine te gebruik. Soggens vroeg het die trein dus eers naby ons huis gestop waar die spoorlyn deur die bloekombos gesny het, om water aan te vul. My pa het my dikwels op sy nek getel en afgestap spoor toe, om daar met die drywer en stoker te gaan blad skud en te kyk hoe die duisende liters water in die dors ou trein se ingewande verdwyn. Die drywer was ‘n lang, seningrige man. Hy het ‘n spoorwegkeps gedra en daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig. Hy en die stoker was erg trots op hulle yslike masjien en het my soms toegelaat om die fluit se tou te trek. Wanneer die watertenk vol was het die stoker eers nog ‘n ekstra klomp grawe vol steenkool voor by die ketel ingeskiet. Dan het die ou trein stadig en met ‘n onaardse lawaai aan die gang gekom en die waens het een vir een, al hoe vinniger, verbygekom.
Gedurende die wintermaande moes die boere langs die spoorlyn altyd op hulle hoede wees, net ingeval ‘n kooltjie uit die verbygaande trein se skoorsteen die veld aan die brand steek. Die Spoorweë het darem ‘n brandspan op bystand gehad wat ons kom help het in tye van nood.
Die trajek na Vaalwater word al jare lank nie meer bedryf nie. Die twee spore wat altyd so blink getrap was, lê deesdae dof en verlate in die son, met bossies en gras wat tussen die dwarslêers deurgroei.


























Kommentaar