Archive Page 2

Die trein na Vaalwater

 x-loco-sepia-flat.jpg

Die bosveldplaas waar ek grootgeword het, het aan sy westekant aan ‘n treinspoor gegrens.  Dit was nie ‘n besige lyn nie:  In die ou dae het daar een keer per dag ‘n trein hier verbygestoom vanaf Nylstroom na Vaalwater. Die spoorlyn het sowat een kilometer van die plaashuis af verby geloop.  Klokslag elke oggend so skuins na vyf het die trein met ‘n geblaas en ‘n gesis teen die bult op verbygekruie, onder ‘n wolk van stoom en steenkoolrook.  By die padkruising het die drywer dan die fluit getrek totdat die laaste wa die pad oorgesteek het.  Agter die lokomotief en waterkar was daar gewoonlik ‘n paar waens vol beeste aangehaak, of tenks met dieselbrandstof.  Ná hulle het daar dan so een of twee passasierswaens gevolg, met die kondukteurswa heel agter aan. Wanneer die vrag besonder swaar was, is daar twee lokomotiewe ingespan om te help trek. 

Toe ek nog sommer ‘n klein tjokkertjie was, was daar ‘n ruk lank ‘n vreeslike droogte in die land.  Dit was so erg dat daar nie genoeg water in die dorp beskikbaar was om die loko’s vol te maak nie.  Die Spoorweë het toe met my pa onderhandel om van ons boorgatwater op die plaas vir die treine te gebruik.  Soggens vroeg het die trein dus eers naby ons huis gestop waar die spoorlyn deur die bloekombos gesny het, om water aan te vul.  My pa het my dikwels op sy nek getel en afgestap spoor toe, om daar met die drywer en stoker te gaan blad skud en te kyk hoe die duisende liters water in die dors ou trein se ingewande verdwyn. Die  drywer was ‘n lang, seningrige man.  Hy het ‘n spoorwegkeps gedra en daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig.  Hy en die stoker was erg trots op hulle yslike masjien en het my soms toegelaat om die fluit se tou te trek.  Wanneer die watertenk vol was het die stoker eers nog ‘n ekstra klomp grawe vol steenkool voor by die ketel ingeskiet.  Dan het die ou trein stadig en met ‘n onaardse lawaai aan die gang gekom en die waens het een vir een, al hoe vinniger, verbygekom. 

Gedurende die wintermaande moes die boere langs die spoorlyn altyd op hulle hoede wees, net ingeval ‘n kooltjie uit die verbygaande trein se skoorsteen die veld aan die brand steek.  Die Spoorweë het darem ‘n brandspan op bystand gehad wat ons kom help het in tye van nood.  

Die trajek na Vaalwater word al jare lank nie meer bedryf nie.  Die twee spore wat altyd so blink getrap was, lê deesdae dof en verlate in die son, met bossies en gras wat tussen die dwarslêers deurgroei.  

Ontvlugting

  birds-over-pond-3.jpg

            

O  N  T  V  L  U  G  T  I  N  G

      

Sprei jou vlerke wyd en val af in die gewigloosheid.

Kom reis dan saam met my in moeitelose vlug

Op ‘n geruislose baan deur die oop verlatenheid,

Skouer aan skouer, om saam die wind se las te keer.

Kom kies koers na ons versteekte plekke van vrede en rus,

Net ek en jy, saam toegevou in die hemel se sagte blou.

          

Sprei jou vlerke wyd en sweef dan hoog op in die wind.

Breek jou bande met die las van ons aardse bestaan

En verwonder jou dan in stilte saam met my

Aan die hartseer skoonheid wat oorbly in alles,

Wanneer ons van ver af, onbetrokke

Kan afkyk na die merkers op ons lewenspad. 

       

  

 

Die ou plaashuis

 plaashuis-maan-2.jpg

 

Die huislike geur van vars koffie op die stoof het reeds ‘n handvol jare gelede tesame met die laaste klank van kinderstemme deur die swart holtes van jou uitgerukte vensters oor die vlakte weggewaai. 

Snags, in die glans van die koue maan, staan jou witgekalkte mure nou alleen, verwese.   Die wind  vind  dan sy pad oor die yl stoppels op die uitgewerkte lande en kom speel ‘n sinlose deuntjie met jou lendelam deure aan hul krakende skarniere. 

Jou enigste geselskap is die uile wat soms skuiling vind in die kappe van jou geroeste dak.   

Vir geen siel is jy meer ‘n vaste tuiste nie, behalwe vir ’n onversorgde langhaarhond wat elke dag nog teen skemer in die voetpad van die statte se kant af nader draf en aan die voordeur kom snuif.  Hy wag dan ‘n rukkie by die hek voordat hy weer, as dit donker is,  stil en mank-mank in die vaal gras verdwyn. 

 

 

Wat lees ek: bladsy 123

Boendoe vra watter boek het ek laas gelees en om ‘n paar sinne aan te haal uit bladsy 123.  Hier gaan ons: 

 “A few minutes later his wife, her head wrapped in a scarf and her plump face beaming with a motherly smile, brought me a steak-sized filet of the freshest, most succulent and crisply fried fish that I had tasted on the barge, or even in my life.  It was garnished with mayonnaise and onions.  I devoured it.  Pleased, Nze watched me eat.” 

Die boek se naam is ‘Facing the Congo’  van Jeffrey Tayler en dit handel oor sy ervaringe tydens sy reis van sowat 1,600 km al af met die Congorivier in ‘n tradisionele boomstamkano.

Tayler was 33 jaar oud toe hy besluit die lewe raak te rustig vir hom en dat dit tyd was om iets besonders aan te pak.  Sy reis met die Congorivier af is vol avontuur, ontberinge en ontmoetings met interessante mense.

Ek hou van die boek:  Dis ‘n eerlike beskrywing van een van Afrika se mees onherbergsame streke en ook van die mense wat hulle bestaan maak op die Congo, op een na die grootste rivierstelsel in die wêreld.

untitled1.jpg

Maak ‘n draai in Tokyo

 x-temple-gate.jpg

Ek het nou die dag iemand hoor sê dat Tokyo stad en die omliggende omgewing nou gesamentlik die grootste bevolkingtal het van enige metropolitaanse gebied in die wêreld. (Twintig miljoen mense, of meer?)  Wel, dis verseker ‘n besige plek.   Alles is toegebou en funksioneel.  Die enigste oop ruimtes in die stad is rondom die keiser se paleis en by sommige van die eeue-oue tempels.

 Die foto hier onder het ek uit die hotel se ontbytsaal geneem:  Voorlangs is die keiserlike tuine.  Agter op die horison kan mens die berg Fuji se sneeubedekte piek uitmaak.

x-skyline-fuji.jpg

 In die stad handhaaf mense ‘n vinnige lewenspas.  As jy ‘n kantoorwerker in sentraal Tokyo is, is dit nie ongewoon om soggens twee ure op die sneltrein deur te bring werk toe nie, sodat jy agt uur kan begin werk.  Dan volg ‘n lang dag op kantoor.  Baie mense gaan eers agt uur saans huistoe en spandeer dan weer twee ure op dieselfde trein om by die huis te kom.

x-train.jpg

 Die sneltreine is werklik blitsig.  Sommige van hulle handhaaf ‘n spoed van byna 300 km/h.  Binne is hulle silwerskoon en stil.  Meeste Japanese verkies om te slaap as hulle trein ry.  Dis ook slegte maniere om selfone te gebruik of hard te gesels as jy in die trein sit.  Wanneer ‘n trein by ‘n stasie stop is daar gewoonlik ‘n skoonmaakspan wat gou-gou eerste ingaan om alles op te ruim.  Ek het hulle ‘n paar keer dopgehou as hulle werk:  Eers staan hulle buite en buig dan almal saam vir die trein.  Dan maak hulle skoon.  Wanneer hulle uitklim, buig hulle beleefd vir die passassiers en verdwyn dan stilweg na hulle volgende skoonmaaksessie.  As ‘n inkomende trein by vertrek die stasie in die teenoorgestelde rigting verlaat, word al die sitplekke binne oomblikke outomaties omgedraai voordat die deure vir passasiers oopgemaak word.

 Tokyo het ‘n wonderlike moltreinstelsel.  Mens kan by ‘n onderaardse stasie stop en dan direk uitklim binne in yslike ondergrondse winkelsentrums.  So kan jy dus op  pad huistoe moeiteloos jou kos en klere koop.

 x-sushi-shop.jpg

Ten spyte van die stad se grootte is alles silwerskoon.  Daar is min tekens van lugbesoedeling.  Alles werk perfek.  Elke beskikbare spasie word aangewend vir ‘n funksionele doel.  Die foto hieronder wys hoe hulle ‘n snelweg gebou het op stelte, wat al langs die loop van ‘n rivier deur die stad kronkel.

x-bridge-along-river.jpg

 Tokyo het ‘n besonderse mengsel van moderne tegnologie en Japanese tradiese.  Hierdie tradisionele teehuis het ek naby die hotel afgeneem.

x-tea-house.jpg

 Die meise hieronder in haar tradisionele Japanese kimono was ‘n bruid wat een Sondag in die hotel se tuin foto’s van haar uitrusting laat neem het.

x-kimono.jpg

Vat Vyf: My Lysie

Wag-‘n-Bietjie het my getag om vyf  van my eie inskrywings te kies en die skakels hier te lys.

Ek is maar lui met die bloggery en die keuses is dus maar karig.  Maar hier gaan ons WnB:

1)  Kolkata:  ‘n Lyk in die Rivier

2)  Die Verlate Kerk

3)  ‘n Indiese Massering

4)  Kersvader: Die wiele kom af

5)  Stille Nag

Ek gaan eers nog bietjie dink oor wie ek graag wil tag oor hulle eie Gunsteling Vyf.  Dankie Wag’n Bietjie …

Oor honde

Die hartseer storie van Platterfuss se Boeshie het my laat terugdink aan al die honde in my lewe. 

Honde en ek verstaan mekaar nog altyd goed:  Van kleins af was hulle my beste vriende.  Ek het op ‘n plaas grootgeword in die Bosveld.  Tussen al ons kinders het ons gewoonlik so vyf of tien honde aangehou.  Die hele spul was altyd vreeslik gelukkig want die plaas was ‘n idilliese plek:  Groot en wyd, met ruigtes en plekke om na hartelus rond te snuffel en rond te hardloop agter allerhande wilde dierasies aan.

Ons was vyf kinders.  Elkeen van ons het so min of meer ‘n spesifieke hond gehad wat hy/sy aan hom- of  haarself toege-eien het.  Maar honde kies mos maar hulle eie base.  En op die einde van die dag het die meeste brakke altyd erg goed met my oor die weg gekom.  Hulle het hulleself wysgemaak dat ek die plaas se nommer een brakwagter was.

Oor die jare het ek verskeie gunstelinghonde gehad.  Honde leef mos nie vir ewig nie.  Party het hulle lewens heldhaftig opgeoffer in gevegte met rinkhalse of boomslange.  Een van ons Boksers het op ‘n warm somersdag aan ‘n hartaanval beswyk.   My suster se een hond het in ‘n karongeluk gesneuwel.  Ten spyte van al hierdie tragedies was  daar met die heengaan van elke hond tog weldra ‘n ander wat die leemte in my hart kom vul het.

 My gunstelinghond uit daardie goue kinderdae op die plaas was ou Brutus.  Hy was nie vreeslik groot nie.  Kort, krommerige beentjies en ‘n stewige lyf.  Hy was pikswart, behalwe vir ‘n wit kol op die bors en ‘n vlek op een van sy voorpote.  Brutus se herkoms was, moet ek bieg, niks om oor huistoe te skryf nie.  Hy was eintlik familie van al die honde wat ons al ooit op die plaas gehad het:  Bietjie Bokser, bietjie Rifrug, bietjie Boerboel en bietjie Skipper.  Maar dit was ‘n wenkombinasie.  Brutus was ‘n hond met ‘n hart van goud en hy het nie ‘n bang haar op sy lyf gehad nie.  En ek en Brutus was die beste pelle. 

Ek het dikwels as jong seun in die laat middae die .22 oor my skouer gehang en dan gesorg dat ek en Brutus die ander honde uitoorlê en stilweg alleen uit die huis verdwyn veld toe, na die sonneblomlande se kant toe waar daar gewoonlik tarentale was waarop mens kon jag maak.

Brutus het skoon bewerasies gekry van opgewondenheid wanneer ek die geweer uit die kluis gaan haal.  Sy bosmaniere was goed: Hy het nooit sommer weggehardloop agter die veld se koedoes, bosbokke of vlakvarke aan nie.  Nee wat.  Hy het gesorg dat hy altyd net ‘n paar tree voor my was.  Wanneer hy iets in die ruigtes gewaar het, het hy doodstil gaan staan,  sy ore gespits en sy een voorpoot in die lug opgetel en dan vir my gewag sodat ons saam die ding kon waarneem wat hy gesien het.   

Ek dink hy en ek was ewe lief vir die bos.  Saam het ons die skemeraande se koel geur van grassade en klam grond ingeasem.  Saam was ons tevrede om, wanneer die son aan die einde van ‘n warm dag agter die koppies wegsink, in stilte te luister hoe roep die tarentale mekaar by hulle slaapplekke in die hoë doringbome langs die rivier.  Soms het hy vir ure net stil langs my gesit op die kruin van een van die plaas se klipkoppies en saam met my oor die vallei uitgetuur. As ons gelukkig was het ons dan koedoes in die voetpaadjies sien verbystap, of ‘n partykeer ‘n bosbok tussen die olienhoutbosse sien roer.       

 Dit was lekker dae. 

Maar alle goeie dinge kom tot ‘n einde.  Na skool het ek gaan studeer en met ‘n swaar hart van die plaas afskeid geneem en stad toe getrek.  Brutus het my vreeslik gemis.  Ek onthou nog hoe hy my nie uit die oog uit wou laat gaan tydens my eerste universiteitsvakansie terug op die plaas nie.  Toe dit tyd was om weer te groet, het hy vasberade agter my kar aangehardloop, so vinnig as wat sy kort bene hom kon dra, tot by die plaashek wat sowat twee kilometer van die opstal af weg was.  Dit was erg swaar om my arme hond so alleen in die stofwolk te moes agterlaat.

Soos dinge maar gaan, het ou Brutus se lewe ook later tot ‘n einde gekom.  Ek was daardie dag nie op die plaas nie.  Die details van sy heengaan sal ek julle spaar.  Wat meer belangrik is, is dat hy ook net soos al ons ander getroue ou honde ‘n spesiale finale rusplek gevind het langs die groot grasperk agter die plaashuis waar my ma se tuin teen die leivoor ge-eindig het.  Van daar af het mens ‘n mooi wye uitsig oor die landerye na die rivier se kant toe, en dan nog verder aan, tot waar die ruigtes en die koppies een word met die somerlug se blou.   

Die verre Richtersveld

 x-bokkies1.jpg

My werk vat my soms op Weskus toe, tot heel bo by Oranjemund op die grens van Namibië.  Van daar af vat ek dan ‘n stofpad na die binneland, al langs die Oranjerivier, na die streek se diamant- en sinkmyne.

 x-pad-na-baken.jpg

Dis ‘n dorre, warm streek.  Die Oranjerivier bring ‘n dun strokie van lafenis in ‘n andersens lewelose gebied.  Afstande is groot.  Mense is skaars.  Die son kan ongenadiglik bak:  Op plekke soos Bloeddrif gaan die temepratuur op ‘n lekker somersdag op tot oor die 50 grade Celcius. 

 x-richtersveld.jpg

Daar is ‘n fotogeleentheid om amper elke draai.  (Sommige van hierdie kiekies is maar vaal want hulle is sommer so in die ry deur die motor se venster geneem.)

 x-gastehuis.jpg

Iewers langs een van die stofpaaie is daar ‘n gastehuis waar mens kan oorslaap. Spogplaas is die plek se naam.  Daar kraak die ou plankvloere nog lekker in die gang. Hulle bedien  regte boerekos en saans kan mens die son sien sak oor die rivier en saam met die ander gaste ‘n drankie geniet en luister na die jongste stories oor die gebied se diamantsmokkelaars. 

Dis regtig ‘n rustige plek.

x-gastehuis-rivier.jpg

Knysna se olifante

 x-gesig-bb.jpg

Knysna se omgewing is vol pragtige, verskuilde plekkies om te ontdek.  Bo en behalwe al die mooi strande naby die dorp is daar ook, meer na die binneland toe, ‘n paar oulike bestemmings waar mens ‘n dag kan deurbring.  Een so ‘n plekkie is ongeveer 30 km vêr, diep in die bosse naby Millwood, waar daar jare gelede ‘n goudmyn was. 

x-materolli-3bb.jpg 

Al wat oor is van die destydse myndorpie is ‘n paar rooidaksinkhuisies wat vandag nog tussen die denneplantasies staan.  Mens kan van daar af  ‘n kronkelende voetpaaidjie volg om by die mynskagte uit te kom wat seker omtrent ‘n honderd jaar gelede in die berge gesink is.  Daar, in die geheimsinnige skadu’s van die die digte woud, lê daar nog ‘n paar geroeste stukke masjinerie:  Ou reuse stoomketels en swaar stampers waarmee hulle die erts destyds bewerk het. 

x-materolli-bb.jpg

Een van die oorblywende sinkhuisies is nou ‘n restaurantjie waar mens kan aansit vir koffie of tee. Hulle bedien ook melktert en vars skons wat nog in die kombuisie se oorspronklike koolstofie gebak word.    

Ons het enkele jare gelede by Millwood ‘n draai gemaak en toe voetgeslaan deur die bosse tot by die verlate en donker, druppende mynskagte onder in die vallei.  Dit was ‘n besonderse dag:  Die son het pas weer uitgekom na die oggend se bui reën.  Die woud het gelewe van voëlgeluide.  Ons was die enigste mense daar. So nou en dan het ons ‘n duikertjie of ander kleinwild gesien voordat hulle weer skugter in die lang gras weggeraak het. 

En toe, op pad terug na die parkeerplek bo-op die heuwels aan die rand van die vallei sien ons dit:  Daar was vars olifantspore in die voetpad, wat dudelik eers na die oggend se reënbui deur een van Knysna se laaste oorblywende bosreuse daar agtergelaat was.  Ons het gekyk waar die spore in die ruigtes weggeraak het maar die olifant het toe reeds weer geruisloos in die digte bosse verdwyn. 

Toe ons ‘n rukkie later uitasem en moeg by die koffiewinkel aankom het ons die kleurlingmeisie in die kombuis van ons ervaring vertel.  Sy was in ekstase en het dadelik haar vriendin nadergeroep: “Mildred,  Mildreeeed!  Die Grootvoete is terug!”  het sy vir haar geskree. 

xxx-mother-hollys-2b.jpg

Verlede jaar, na ‘n afwesigheid van meer as tien jaar, het ons weer by Knysna gaan vakansie hou.  Ons het toe by een van die olifantplase op pad na Plettenbergbaai ‘n draai gaan maak.  Ek het voor die tyd nie veel van die plek verwag nie:  Gedink dit sal maar weer ‘n tipiese toeristefoefie wees met ‘n paar olifante wat daar verwese in ‘n hok staan en peins oor beter dae.  Maar dit was glad nie so nie.  Dit was regtig ‘n wonderlike ervaring en ek sal enigiemand aanmoedig om daar ‘n draai te maak.   

 x-3-ofs-in-bos-bb.jpg

Die olifante word in ‘n groot, wye kamp gehuisves.  Hulle is van verskeie wildparke afkomstig dus glad nie familie van die oorspronklike inheemse Knysna-groep nie.   Dit lyk of daar genoeg plek vir hulle is om rond te loop en die lewe te geniet.  Hulle is ontspanne en geniet duidelik die interaksie met besoekers.  ‘n Mens kan naby hulle uitklim en dan staan jy reg tussen hulle.  Daar is nie ‘n heining nie; twee van die plaas se gidse hou die diere in toom met kort skerpgepunte stokke.  Die diere staan eers in ‘n ry agter ‘n staal-afskorting en aanvaar graag die lemoenskille wat mens hulle kan voer.  Hulle is rustig en goed gemanierd. 

3-slurpe-b.jpg

Wanneer die etery verby is, kom hulle agter die afskorting uit en staan dan ewe gedweë stil om gevryf en bewonder te word.

Dis ‘n besonderse belewenis om aan ‘n olifant te kan raak:  Hulle is verbasend sensitief en hulle growwe vel is oortrek met fyn hare waarmee hulle selfs die sagste aanraking kan voel.    

 x-aanraak-2ab.jpg

Daar is net iets aan hierdie reuse diere wat mens laat besef dat hulle werklik baie intelligent is.  Mens word ook bewus van die sterk bande wat hulle onder  mekaar het.  Dit lyk ook of hulle baie goed onderling kan kommunikeer.

Na my besoek aan die olifantplaas het ek baie oor Knysna se oorspronklike olifanttroppe gewonder.  Hulle sê dat daar vandag waarskynlik  slegs drie diere oor is van die honderde wat dekades gelede die gebied se woude deurkruis het.  Hierdie drie diere leef  nou ‘n eensame bestaan en is nie noodwendig dikwels in kontak met mekaar nie.  Hulle is ook aldrie waarskynlik reeds te oud om te kan voortplant. 

Daar is vir my iets geweldig hartseer aan hierdie situasie.  Die mens het hier in die pragtige groen kuswoude iets wonderliks en kosbaars vernietig.  Onherroeplik en finaal.  

x-bosse-b.jpg

As mens kyk na al die ontwikkeling wat tans in die Knysna-omgewing aan die gang is, is dit duidelik dat die voortbestaan van die laaste stukkies oorblywende natuurlike woud ook nou in die weegskaal is.  Ek hoop tog dat mense sal saamstaan om hierdie deel van ons erfenis te bewaar voordat dit te laat is.

x-3-ofs-wegloop-1bb.jpg

Stille nag

 stars3.jpg

S T I L L E   N A G

Wanneer ek saans laat alleen in my huisie sit

en as die buurt se pêrelstringe een vir een verdof

ál langs die some van die stad se swart riviere,

Dan bring die klanke van ‘n eens-gedeelde melodie

jou sagte oë en glimlag weer terug na my.   

    •   

In jou arms deel ek dan my hart se stilte

met die gesels van ‘n vasberade kriek,

Tot wanneer die laaste uitgewaste ster

in die bleekheid van ‘n nuwe dag

uit die wye hemel val, en sterf.

   

« Previous PageNext Page »